VVA vanjaar weer woelig op Prins Albert-leesfees
Die Prins Albert-leesfees, wat sedert 2013 met die uitsondering van die Covid-19-inperkingstydperk op die dorp aangebied word, lewer ’n reusebydrae tot ’n boekkultuur ‒ nie net onder die inwoners nie, maar ook vir besoekende feesgangers.
Die Leesfees bied boekwurms die geleentheid om met hul gunstelingskrywers kennis te maak, terwyl jongmense gesprekke kan bywoon oor die belangrikheid van lees, en selfs aan ’n skrywerswerkswinkel kan deelneem.
Chareldine van der Merwe dien sedert September 2018 as projekbestuurder vir die Vriende van Afrikaans (VVA), ʼn afdeling van die ATKV wat hom vir leesopleiding, leesontwikkeling en die holistiese ontwikkeling van kinders beywer en, in samewerking met Doen en Leer, leesondersteuning en -opleiding in skole gee.
Die VVA bied vanjaar weer verskeie programme op die Leesfees aan.
“Die VVA het vir die eerste keer in 2014 in Prins Albert begin werk,” sê Chareldine.
“Ons het gou besef dat dié klein dorpie met sy uitsonderlike inwoners en die VVA ʼn lang pad saam sal stap. Ons het aanvanklik by Prins Albert Primêr begin werk en, hoofsaaklik met ons boektrommelprojek, ook ʼn paar kleuterskole in die omgewing begin bystaan.
“Prins Albert Primêr is in 1975 gestig en bedien die plaaslike gemeenskappe van Noord- en Suideinde. Vandag is daar ʼn totaal van 1 060 leerders, met 517 leerders vanaf Graad R tot Graad 3.”
Chareldine brei uit oor die uitdagings wat leerders in die skool ervaar en hoe die Leesfees die VVA help om ʼn verskil te maak.
“Leerders in Graad R tot 3 beskik nie oor voldoende woordeskat nie. Hulle ontvang min of geen stimulasie by die huis nie. Ouers kan nie goed lees nie en kan dus nie hul kinders na wense hierin ondersteun nie,” sê Chareldine.
Covid het die uitdagings wat tans ervaar word verder vererger, aangesien leerders genoop was om op alternatiewe dae skool toe te gaan, maar daar is in baie gevalle geen ondersteuning by die huis om die kinders met hulle studies te help nie.”
Chareldine verduidelik dat die VVA in 2013 ʼn demonstrasie van die Doen en Leer-program bygewoon het en dat hulle dadelik beïndruk was.
“Doen en Leer is ’n holistiese lees-, wiskunde- en leerondersteuningsprogram wat kinders help om speel-speel op fisiese, emosionele en kognitiewe vlak te leer. Doen en Leer span visuele, ouditiewe en kinestetiese metodes in om van leer pret te maak. Die VVA het destyds nie gehuiwer om betrokke te raak by die verspreiding van die Doen en Leer-programme nie,” sê Chareldine.
“Die Doen en Leer-program is ʼn paar jaar gelede onder leiding van Dokka Swart vir die eerste keer by die skool bekendgestel. Danksy die finansiële ondersteuning van die ATKV en die VVA is ʼn hele aantal grondslagfase-onderwysers hierin opgelei.”
Chareldine beklemtoon statistieke wat die uitdagings ten opsigte van opvoeding in Prins Albert illustreer.
“Daar is baie kleuters wat nie ʼn voorskoolse instansie bywoon nie en nie oor die nodige geletterdheid of numeriese vaardighede beskik vir grondslagfase-onderrig nie,” sê sy.
“Daar is ʼn uitvalkoers van meer as 50% tussen Graad 1 en Graad 12. Daar is in ʼn onlangse steekproef bevind dat 81% van die 68 leerders in Graad 9 nie met begrip kan lees nie. Die klasse is ook hopeloos te groot met tussen 30 en 50 leerders per klas, terwyl min huishoudings ʼn gestruktureerde en gedissiplineerde leerroetine toepas.
“Dan is daar boonop beperkte toegang tot leesboeke en studiemateriaal, terwyl die Afrikaanse openbare hoërskool met beperkte vakkeuses nie toegang tot belangrike studierigtings bied nie.
“Met al hierdie statistieke is dit vir die VVA noodsaaklik om ʼn verskil te maak, in samewerking met verskeie rolspelers wat ons hierin ondersteun.
“Die Prins Albert-leesfees bied ʼn ideale platform om verdere ondersteuning te bied deur middel van gesprekke, leeskonferensies en die voorsiening van boeke via ons Boektrommelprojek. Hierdeur wil ons verseker dat kinders toegang het tot geskikte leesstof en lekkerleesboeke, sodat hulle lewenslange lesers kan word.”
Van die aktiwiteite wat die VVA op die Leesfees aanbied, sluit in ʼn skrywersgesprek en leeskonferensie op 29 Augustus, Doen en Leer-opleiding en ʼn paar Boektrommeloorhandigings op 30 Augustus, en ʼn skryfwerkswinkel en Slimlappies-vertoning op 31 Augustus.
Chareldine sê die Slimlappies bestaan uit kinders wat deel is van die Doen en Leer-program en gaan vanjaar op die Prins Albert-leesfees hul eerste amptelike vertoning lewer.
Kontak gerus vir Chareldine by 072 036 5412 vir meer inligting of besoek die Prince Albert-leesfees se Facebookblad.