#weesdieverskil-fees dié naweek in Bloem
Bloemfonteiners wat op Saterdag 4 November beplan om by die huis te sit, sal ’n opwindende geleentheid misloop, want daar word fees gevier! Die #weesdieverskil-fees van die ATKV-tak Gemeenskapsteater is boonop vir ’n goeie doel ook. Dié fees vind weer vanjaar by die Oorlogsmuseum plaas en al die geld wat met die fees ingesamel word, word aan die Lettie Fouché-skool en die Vrystaat-nasorgsentrum in die stad geskenk.
Ebeth Wilson, voorsitter van die ATKV-tak Gemeenskapsteater, sê hulle is dankbaar dat hulle weer die geleentheid kry om die fees op die terrein van die Oorlogsmuseum aan te bied.
“Dis ’n lieflike, lieflike terrein met pragtige graswalle en alles word so mooi in stand gehou daar. Ons nooi die hele Bloemfontein uit om op daardie dag daar ’n draai te maak en te sien hoekom Bloemfontein kan spog met hierdie besienswaardigheid.”
Daar is heelwat op die spyskaart vir 4 November. Omdat die lede van hierdie ATKV-tak almal teaterentoesiaste is wat daarvan hou om iets op die planke te sit, word daar drie stukke op die dag van die fees aangebied. Dit vind plaas in die amfiteater by die Oorlogsmuseum. Die jongspan sal die eerste produksie, Dinosourusse kan nie lees nie, terdeë geniet. Dit vind om 10:00 plaas.
Om 11:30 kom ’n splinternuwe teks wat deur Maretha Maartens geskryf is aan die beurt. Hierdie drama, Die Indringer, is gebaseer op die verhaal van die barmhartige Samaritaan, maar dit is eietyds en het ’n baie kragtige boodskap van hoe om werklik ’n verskil te maak.
Die laaste produksie, Nostalgie – ’n Reis deur Afrikaanse musiek, is om 13:00. In hierdie musiekproduksie kry plaaslike musikante die geleentheid om hul talent ten toon te stel. Soos die naam aandui, is hierdie ’n musikale reis wat die musiek van bekende Afrikaanse kunstenaars insluit. ’n Orkes met vier lede en vier sangers gaan almal teenwoordig met musiek op hierdie heerlike nostalgiese reis saamneem.
Afgesien van hierdie produksies, sal daar nog heelwat ander dinge wees om te sien en te doen by die #weesdieverskil-fees. Daar is ’n hele magdom kos- en kunswerkstalletjies met verskeie items wat te koop aangebied word. Daar is ook by die stalletjies ’n lekker groot grasterrein waarop skole van die omgewing gaan wys oor watter talente hulle beskik. ’n Perkussiegroep, dansitems en ritmegroepe gaan ook almal hul slag kom wys. Die Kwaggas, Bloemfontein se Landsdiens-lede, gaan ook speletjies aanbied vir oud en jonk en só sorg vir hope pret. Daar is ook ’n skattejag op die terrein en een gelukkige persoon sal huis toe gaan met R2 500.
“Ons is besonder dankbaar om te kan sê dat die Oorlogmuseum op daardie dag geen toegangsfooi vra nie. Om 11:00 kan jy boonop een van die begeleide toere gratis meemaak. Dít alleen is al genoeg rede om op 4 November ’n draai te maak. Ons almal hier by die tak glo dit is belangrik om ’n verskil te maak en daarom het ons baie hard gewerk om ’n opwindende dag te beplan,” sê Ebeth.
“Indien die Here jou seën, mag jy dit nie vir jouself hou nie. Waar ons is en wat ons elke dag doen, moet deel wees van ons dankbaarheid. Ons wil graag soveel as moontlik geld insamel vir hierdie twee instansies, wat wonderlike werk doen, en ons hoop die Bloemfonteiners gaan ons hartlik ondersteun. Jy hoef nie noodwendig ’n fees te hou om ’n verskil te maak nie, maar jou blote ondersteuning op daardie dag sal ’n wesenlike verskil maak. Sien julle op 4 November by die Oorlogsmuseum by ons #weesdieverskil-fees!”