Wellington-tak hou weer langtafelete
Dis ’n aand van kuier, lag en gesels, en ’n aand wat die mense van Wellington saamsnoer. Wellington se langtafelete het onlangs weer plaasgevind en die ATKV-gesinstak Wellington is trots om daarvan deel te wees. Sien die prentjie voor jou. Daar is 100 tafels langs en oorkant mekaar waaraan tien mense elk sit. Dit vorm ellelange tafels in die mooi Bolandse dorp en ’n duisend mense sit aan en kuier ’n hond uit ’n bos terwyl hulle na die musiek van plaaslike kunstenaars luister.
Dié feestelike geleentheid laat ’n mens aan daardie Middeleeuse makieties dink waar lang tafels teen mekaar gestoot is. Dit was doerie tyd al ’n manier om mense bymekaar te bring.
Die ATKV-gesinstak Wellington is die hooforganiseerders van Wellington se langtafelprojek en hul voorsitter, Tharina Schweidler, is al tien jaar lank aan die stuur van sake.
“Dis ’n groot voorreg om deel van hierdie tak te wees, wat vanjaar al 27 jaar oud is,” vertel Tharina. “Dis ook ’n groot voorreg om in die voetspore van soveel besonderse voorsitters voor my te loop. Ons doen nou nog projekte wat deur die eerste bestuurslede aangepak is. Ons jaarlikse Sutherland- en Weskus-blommetoere is voorbeelde hiervan en vind al 27 jaar lank plaas. Dis ’n ongelooflike tak en almal werk lekker saam. Elke bestuurslid en lid het sy talente en lewer ’n unieke bydrae, en dit maak dit vir die tak maklik om in die gemeenskap uit te staan. Met ’n goeie reputasie is dit baie makliker om deure oop te kry, want ons handel projekte af en mense werk graag saam met ons. Ons tak wil graag ’n baken van hoop wees en ons probeer om ’n blywende verskil in die gemeenskap te maak,” sê Tharina.
En dit doen hulle gewis. Die Wellington-langtafelprojek is nie ’n fondsinsamelingsprojek nie, maar ’n gemeenskapsprojek met die doel om mense bymekaar te kry.
“Die eerste langtafelete is in 2019 gehou en daar was toe al ’n duisend mense wat dit bygewoon het. Ons hou steeds by hierdie getal. Vanjaar se kuier is op 5 Desember gehou,” gesels Tharina.
Die ATKV-gesinstak het hande met verskeie ander Wellingtonners gevat om hierdie geleentheid aan te bied.
“Ons is die hooforganiseerders, maar ons het die Drakenstein-munisipaliteit betrek, die Rapportryers, die Cummings-gastehuis, die Wellington-museum, OTMT Hub en die Wellington Sentinel. Só kon ons saam ’n plan en program bedink,” vertel Tharina.
“Ons het organisasies en ondernemings genader om tafels te koop, en verkoop die tafels vir R350 per tafel (vir tien mense), maar daar is ’n subsidie daarby betrokke, want dit kos eintlik meer as dit om die tafels en stoele te vat en te verwyder. Die organisasies wat dan ’n tafel koop, bring kos en eetgerei vir hul tafel. ’n Paar kunstenaars het die aand opgetree en ons noem dit sommer Wellington se eie Skouspel. ’n Plaaslike kunstenaar, Karen Kotze, het vir ons die program saamgestel. Dis net ’n lekker manier vir die gemeenskap om bymekaar te kom, ’n Kersete te hou en fees te vier.”
Hoewel die eerste langtafelete voor die Covid-pandemie gehou is, het die doel en boodskap daarvan ná die pandemie effens verander.
“Baie mense het ná Covid ’n hopelose gevoel gehad en nie die lig gesien nie,” vertel Tharina. “Dit was egter ook ’n tyd waarin goeie dinge gebeur het. Daar is soveel huisvroue wat hul eie ondernemings begin het, mense het hul bure versorg en gemeenskappe het mekaar weer gehelp. Vir my het dit hoop gegee en ons voel die langtafelete is ’n manier om mense vreugde te gee en hoopvol te maak. Daarom noem ons dit ook nou ‘Tafels van hoop’. Ons wil Wellington se mense inspireer en weer hoop gee.”
Een langtafelete en een projek op ’n slag ...