Wellington-tak pak Bybelstap weer aan

Die ATKV-tak Wellington se jaarlikse Bybelstap het vanjaar op 8 Maart plaasgevind en was ’n belewenis vir elkeen wat met dapper en stapper die tog aangepak het. Stappers kon kies tussen ’n 3 km-roete en die sogenaamde 6 km-perdeskoenroete tussen die wingerde deur.
Die Wellington-gemeenskap het weer in hul massas opgedaag vir die stap en altesaam R11 000 is vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ingesamel. Om die sukses van die stap te waarborg, is dit wyd en syd bemark by skole en alle plaaslike kerke.
Sybil Kotzé, ’n takbestuurslid wat betrokke was by die organisering van die geleentheid, sê voordat die fluitjie blaas, is dit ’n instelling dat ’n taklid ’n stuk uit die Bybel voorlees en bid. En dan word daar stof opgeskop! Sybil sê daar was vanjaar tussen 300 en 350 stappers. “Baie deelnemers gee ’n donasie in plaas van die R25 inskrywingsfooi. Daarom stem die bedrag nie ooreen met die aantal stappers nie,” sê sy.
“Dit is altyd ’n vreugde om die stappers saam te sien en dié jaar was nie anders nie. Daar was ouers met kleintjies in stootwaentjies, kinders op fietse en ouer mense wat rustig teen hul eie pas saamstap. Ook mense met hul viervoetkinders het die roete kom geniet. Sunfield Home, ’n inrigting vir verstandelik gestremde persone, neem ook graag deel,” sê Sybil.
Daar was twee waterpunte wat deur ATKV-taklede beman is, waar stappers hul dors kon les met water of koeldrank en waar Wagter ook ’n koue bak water kon opslurp. ’n ATKV-takbestuurslid het met ’n bakkie saamgery vir dié wat moeg geword en ’n saamrygeleentheid gesoek het. Die roete is ook deur sekuriteitsbeamptes beman, wat in kontak gebly het met die ATKV-takbestuur. By die wenstreep is medaljes uitgedeel, asook ietsie koud vir die droë kele.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Wellington, kontak Tharina Schweidler by 082 779 4001 of stuur ’n e-pos na karltha@absamail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.