Wellington-tak se langtafel bou gemeenskap
Die platteland is bekend vir sy gasvryheid en lang kuiers waar die tyd behoorlik stilstaan, maar die ATKV-gesinstak Wellington neem hierdie idee tot nuwe hoogtes met hul jaarlikse langtafelete in Kerkstraat – die hoofstraat van die dorp. Hulle span verskeie vennote in om hierdie ’n ware kuierfees te maak.
Altesaam 100 tafels word langs en oorkant mekaar uitgepak. Dit word een lang kuier met 1 000 mense, waarvan baie as vreemdelinge arriveer, maar as vriende vertrek.
Tharina Schweidler is die afgelope 11 jaar die voorsitter van die tak en vertel: “Die langtafelete is nie een van ons fondsinsamelingsprojekte nie, maar eerder ’n gemeenskapsprojek wat ten doel het om mense bymekaar te kry.”
Sy verduidelik dié langtafelete word al sedert 2019 gehou. Die NG Moederkerkgemeente se leraar, ds. Bennie Janse van Rensburg, het in ’n preek ’n visie gehad dat die hele gemeenskap in Kerkstraat saam sal eet. Van die gemeentelede het organisasies genader om dit ’n werklikheid te maak.
Hy is in Oktober oorlede en is by die 2025-geleentheid vir sy visie geëer. Twee lede van die ATKV, Amika Carstens en Emke Hugo, het twee bosse blomme aan sy weduwee, Susan, en dogter, Marli, oorhandig.
Die kunstenaar Nic Stevens en plaaslike groep Adagio het die aand se vermaak verskaf. Tharina sê die vier lede van Adagio is die dorp se geheime juweel met hul fluweelstemme. Die groep bestaan uit Rodger Adams, Jovan-ré Cupido, Christopher Gertse en Graham Hendricks – almal boorlinge van die dorp.
Tharina sê die hart van die Wellington-langtafel is dat mense in die dorp besef dat gemeenskapskapitaal veel meer as geld werd is.
“Dit leef in die mense wat omgee, die hande wat help en die harte wat saamstaan. Ware kapitaal lê in vertroue, samewerking en die bereidheid om mekaar te dra wanneer die lewe swaar druk. Dit wys in die ouer wat uithelp, die buurman wat omgee, die jongmens wat hoop bring en die leier wat luister.
“Wanneer ’n gemeenskap sy talente, tyd, waardes en verhoudings saamgooi, word dit sterker as enige bankrekening. Geld bou geboue – maar mense bou die toekoms. Gemeenskapskapitaal is die krag wat verander, heelmaak en vooruitstoot.”
Die langtafelete is inderdaad dít – ’n reuse-Kersete vir die hele gemeenskap. Organisasies en ondernemings koop tafels van tien sitplekke vir R450 en die res van die kostes word deur die ATKV gesubsidieer. Elke organisasie of onderneming bring kos en eetgerei vir die tafel en tree as gasheer vir daardie tafel op.
Die ATKV-gesinstak Wellington vier in 2028 sy 30ste bestaansjaar. Die tak het meer as 250 lede en 60 hiervan is baie aktief by allerhande projekte betrokke.
“Dis baie maklik om die gemeenskap betrokke te kry, want ons ATKV-taklede is by baie ander organisasies betrokke en mense se harte is oop vir hulp. Ons beskou ook die langtafelete as ’n lekker afsluitingsfunksie vir al dié organisasies se jaarprogramme.
“Ons glo ons steek elke jaar hier ’n vlammetjie van hoop aan – ’n vlammetjie om te sê ons hoop dit sal beter gaan in die komende jaar. Baie mense is aan die einde van die jaar moeg en afgemat en by dié geleentheid kan almal net lekker ontspan.”
Sy vertel ook dat die dorp met die ATKV vertroud is en dat hul projekte ’n positiewe deel van mense se lewens vorm.
“Ons bly in ’n ongelooflike dorp en ons het ’n goudmyn van gewillige hande. Ons organisasies werk baie effektief, mense gee om en ons hart is gesond.
“Ons sien weens die druk van die lewe dikwels nie die moontlikhede en goeie eienskappe van ons buurman raak nie. By die langtafel kry jy ’n kans om saam te kuier, nuwe vriendskappe te smee, brûe te bou en weer opnuut met sagter oë na mekaar te kyk.”
Elke spreker op die verhoog het die ATKV geloof vir die ywer waarmee hierdie projek voortgesit word. Die seremoniemeester en lid van Adagio, Rodger Adams, het gesê dié geleentheid vier die gemeenskap se karakter, kultuur, gees en samehorigheid op ’n mooi manier.
Die dorp se burgemeester, Stephen Korabie, het almal verwelkom en gesê Wellington maak haar hart oop vir almal wat hier vergader is.
“Ons almal het ’n jaar van opdraande en afdraande, maar vanaand vier ons samesyn en die hoop waarmee ons na 2026 uitsien.”
Die aand is met die ware gees van die ATKV afgesluit. Alna Belendez-Retief van die ATKV-tak Burgersdorp het van die langtafel gehoor en haar hulp aangebied. Tharina het vertel dat Alna heeltemal begeester deur die gees van die langtafel was en vir elke eregas ’n knoffelkrans per koerier gestuur het.
Indien jy meer wil weet oor die wonderlike werk wat ATKV-takke in ons gemeenskappe doen, of dalk by jou naaste tak betrokke wil raak, klik gerus hier.