Wellington-tak vier Afrikaans in Matjiesfontein

Die ATKV-gesinstak Wellington bied ’n spesiale naweekuitstappie na die historiese dorpie Matjiesfontein aan om Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal te gedenk.
Hierdie bustoer, wat van 28 tot 29 Junie 2025 plaasvind, het ten doel om Afrikaans teen die nostalgiese agtergrond van een van Suid-Afrika se mees ikoniese erfenisbestemmings te vier.
Die uitstappie is deel van die ATKV-tak Wellington se inisiatief om mense met ’n gemeenskaplike belang in Afrikaans byeen te bring en so die “Afrikaanse familie” uit te brei.
Daar sal op die busrit ook kulturele aktiwiteite aangebied word, waaronder gedigtekompetisies waar deelnemers die geleentheid kry om hul eie gedigte te skryf en voor te dra, met die topdrie-inskrywings wat pryse sal ontvang.
Matjiesfontein, met sy ryk geskiedenis en Brits-koloniale argitektuur, bied ’n interessante kontras met die ATKV. Volgens Tharina Schweidler, voorsitter van die tak in Wellington, bring die dorpie heelwat nostalgie en sorg vir ’n fassinerende kombinasie van Afrikaanse fees en voormalige Britse kolonie.
“Ons tak bied heelwat bustoere aan. Ons besluit gewoonlik ná die sukses van die geleentheid of dit weer aangebied word,” sê Tharina.
“Ons het vroeër jare elke jaar Sutherland toe getoer en dan ’n middagete in Matjiesfontein geniet. Daar is heelwat om te sien, daarom het ons besluit ons gaan vanjaar net Matjiesfontein besoek.
“Ons reis kuier-kuier tot by Matjiesfontein en ons gesels ’n bietjie oor gedigte en redenaars op die bus self. Daar is ook elke keer op al ons busritte gedigtekompetisies, so die gaste moet ’n gediggie skryf en dan sal ons drie wenners aanwys.
“Die idee van die uitstappie is om mense met ’n gemeenskaplike belang bymekaar te bring om die Afrikaanse familie uit te brei. Ons gesinstak in Wellington is een groot familie en met hierdie bustoere maak ons ons Afrikaanse familie groter.”
Die musikant Nic Stevens reis as gaskunstenaar saam.
“Ons gebruik die meeste van die tyd Afrikaanse kunstenaars op ons toere. Sodoende bevorder ons die taal as ons hulle ondersteun. Hulle bring ’n bepaalde kultuur na die geselligheid toe,” sê Tharina.
Die program vir hierdie uitstappie is as volg:
Saterdag:
- Bus vertrek om 09:00 vanaf die NG kerk Wellington-Oos.
- Gaste kry ’n ontbytpakkie (kolwyntjie en sappie) vir die reis.
- Eerste stop: Vulstasie voor Worcester.
- Laat ontbyt by Karoo 1 Hotel in De Doorns.
- Aankoms by Matjiesfontein.
- Aandete om 18:00 in die eetkamer van die Lord Milner-hotel.
- Privaat vertoning deur gaskunstenaar Nic Stevens om 20:00.
Sondag:
- Ontbyt om 09:00 in die hotel se eetkamer.
- Terugreis na Wellington.
Kontak gerus vir Tharina Schweidler telefonies by 082 779 4001 vir meer besonderhede oor die koste en besprekings.