Wêreld-hardopleesdag: Verseker ’n blink toekoms vir jou kind
![](/media/v4jbndgv/adobestock_167644037.jpeg?anchor=center&mode=crop&width=160&height=90&rnd=133197188262570000)
Om ’n kind in die tegnologiese eeu besig te hou, is nie moeilik nie. Jy kan die kleingoed ’n selfoon in die hand stop, hulle voor die televisie sitmaak om na iets op Netflix te kyk, of ’n video op YouTube vir hulle speel – maar nie al hierdie moderne hulpbronne is noodwendig goed vir jou kind nie.
Kenners is dit eens dat jy vir jou kind móét lees en vandag is juis die ideale dag daarvoor, aangesien dit Wêreld-hardopleesdag is.
“Daar is ’n magdom voordele om vir jou kind hardop boeke te lees,” sê Ben Rycroft, woordvoerder van Nal'ibali.
Nal'ibali, ’n plaaslike niewinsgewende organisasie, fokus veral op geletterdheid onder kinders in al 11 die amptelike tale.
Bertha Lewis, ’n spraakterapeut, gaan met Ben akkoord en sê dit is beslis voordelig om vir jou kind voor te lees.
“Ouers en voogde moet verstaan dat daar ’n verband is tussen lees, stories vertel en ’n kind se toekoms. Kinders vir wie daar in ’n taal gelees word wat hulle verstaan, presteer beter op skool, hulle ontwikkel ’n beter geheue, ’n beter woordeskat en het beter begrip.”
“Om vir jou kind voor te lees, ontwikkel sy of haar fonologiese bewustheid. Dit beteken dat jou kind die klanke, woorde en sinskonstruksie in sy moedertaal verstaan en begryp. As jy uit boeke vir jou kind voorlees, hoor hy of sy goeie grammatika en sinskonstruksie en jy leer ook jou kind om beter te konsentreer en beter te luister, wat net voordelig kan wees vir sy toekomstige skoolloopbaan,” sê Bertha.
Sy sê voorlees of hardop lees vir jou kind is ook een van die beste maniere om vir jou kind ’n tweede taal aan te leer.
“Dit is egter belangrik om dit eers te doen wanneer sy of haar moedertaal reeds goed vasgelê is.”
Bertha meen ook daar is nie ’n spesifieke tyd wat jy vir jou kind moet voorlees nie – jy kan dit enige tyd van die dag doen.
“Ek skat enige tyd. Hoe meer ’n kind ouditief aan taal blootgestel word, hoe beter. So lees, lees, lees vir jou kind!”
Hier is ’n lys boeke wat ideaal is om vandag op Wêreld-hardopleesdag vir jou kind voor te lees:
- Goorgomgaai deur Julia Donaldson
- Babalela – Martie Preller
- Klapper die drakie – Ingo Siegner
- Liewe Heksie – Verna Vels
- Op my planeet: die beste rympies van Jaco Jacobs
Klik hier vir ’n paar handige wenke vir hardop lees.