Wêreldboekedag vier leesvreugde
Die man wat die Amerikaanse tydskrif Success in 1897 begin het, Orison Swett Marden, het ’n hele paar inspirasieboeke geskryf. Sy siening oor boeke is beslis iets om te deel: “’n Boek is ’n vriend vir die eensames, geselskap vir dié wat verlate voel, vreugde vir dié wat hul vreugde verloor het, hoop vir die moedeloses en hulp vir dié wat nie weet waarnatoe nie. Boeke bring lig na die donker en sonskyn na die skaduwee,” het hy gesê.
Tydens ’n Unesco-sitting in Parys in 1995 is daar besluit om ’n spesiale dag in die jaar uit te sonder om eer te betoon aan boeke en skrywers en om mense aan te moedig om op hierdie dag moeite te doen om toegang te kry tot ’n boek of boeke. 23 April is gekies vir die jaarlikse Wêreldboekedag, omdat dít die datum is waarop die skrywers William Shakespeare en Miguel de Cervantes albei gesterf het. Sedert 1995 word 23 April dus uitgesonder om lees, die uitgewersbedryf en kopiereg te bevorder.
In Suid-Afrika het ons wonderlike skrywers en Afrikaanse boeke in elke moontlike genre is in oorvloed beskikbaar. Ondersteun gerus ons plaaslike skrywers op Wêreldboekedag.
François Bloemhof, uit wie se pen daar gereeld naelbytboeke soos Blou moord verskyn, sê dat boeke so besonders is, juis omdat dit ’n mens help om ’n ruk lank uit die vaal werklikheid te ontsnap – selfs beter as wat enige fliek of televisiereeks dit kan doen, omdat dit groter betrokkenheid verg. François sê as ’n kind het boeke vir hom ’n ander, groter wêreld oopgemaak. “As jy ’n ruimdenkende mens wil wees, is die eerste vereiste om te lees.”
François sonder Ludo Labuschagne, die antiheld van sy huidige speurreeks wat in 1981 afspeel, as sy gunstelingkarakter uit. “Hy is op verskillende tye onder meer fanaties nuuskierig, sinies en naïef. Ek het hom nie op myself gebaseer nie, dit sou lui wees, maar ek moet net keer of ek begin soos Ludo dink!” lag François.
’n Ander skrywer wat ook vroeg die waarde van boeke ontdek het, is Jaco Jacobs, wat al meer as 220 boeke geskryf het. Jaco het op die klein Karoodorpie Carnarvon grootgeword. “Ek was ’n skaam eenkantkind. Gelukkig was daar ’n wonderlike biblioteek op die dorp en ek het daar my hart op boeke verloor. Ek het rakke en rakke vol boeke verslind; soms in die skoolvakansie tot drie maal per dag nuwe boeke gaan uitneem. Boeke het my laat voel dat ek nie alleen is nie, my laat besef die wêreld is ’n groot en wonderlike plek,” sê Jaco.
Vandag is dit vir hom besonder lekker om juis vir kinders boeke te skryf. Lees maak ’n kind se wêreld soveel groter, verduidelik hy. Dit leer kinders ook om met empatie na ander mense te kyk. Lees sluit boonop elke kind se verbeelding oop. “Lees,” sê Jaco, “is deesdae belangriker as ooit, gegewe die feit dat ons land se onderwysstelsel in ’n krisis is, onder meer ’n leeskrisis. ’n Mens moet dus nooit die waarde van lees onderskat nie.”
’n Afrikaanse skrywer wat openlik sê sy kan nie haar lewe sonder boeke voorstel nie, is Chanette Paul, die gewilde en produktiewe skrywer van ontspanningsfiksie. “Boeke is in der waarheid bloot ’n klomp ink op papier, en tog kan ek bitter moeilik van boeke ontslae raak, al kreun my boekrakke. Meestal wanneer ek verby ’n propvol boekrak stap, sien ek ’n boek of twee, drie raak en dan onthou ek hoe die inhoud my laat voel het toe ek dit gelees het, dikwels ook waar ek was. Boeke is op ’n manier vir my ’n geheuebank.”
Op die vraag waarom sy skryf, is daar net een antwoord: omdat sy nie anders kan nie. “Ek is gebore met ’n storiekop en daardie stories wíl geskryf word. Ek is dan die voertuig wat die karakters wat by my aanklop se stories te boek stel. Maar skryf is ook die manier waarop ek die lewe en ander raaiselagtighede probeer uitpluis,” sê Chanette.
Irma Venter, die skrywer van aangrypende misdaadfiksie soos Minder as niks en Die verkeerde vrou, sê iets binne-in haar dryf haar om kreatief en skeppend te wees. Sy skryf juis misdaadverhale omdat dit die boeke is wat sy graag lees, veral dié met sterk vrouekarakters. Irma reken elke huishouding behoort boeke te hê om aan te vat en oor te wonder, om na te kyk en deur te lees.
“Daar lê ongelooflik baie waarde in papierboeke. Die liefdadigheidsorganisasie Book Dash het onlangs aan my verduidelik watter groot impak ’n fisiese boek op ’n kind in ’n huishouding het, al lees niemand anders in daardie huishouding nie. ’n Boek gee aan ’n kind intellektuele selfvertroue en nuuskierigheid. Dit is iets wat net aan hulle behoort en wat hulle aanmoedig om hul bes te doen – om te verstaan wat binne daardie blaaie aan die gebeur is. Boeke troos, boeke voed op, boeke maak kwaad, ontbloot die waarheid, moedig ’n mens aan, daag jou uit, vermaak, laat jou huil of lag en verbreed jou horisonne. In elke boek is ’n unieke wêreld opgesluit. Dit is my groot wens dat alle Suid-Afrikaners wat dit kan bekostig op Wêreldboekedag aan iemand ’n boek as geskenk sal gee. Een in hulle eie taal, maak nie saak watter taal dit is nie.”
Lank lewe boeke!