Wêreldjeugberaad ’n baken van verandering
Jeugleiers wat van 21 tot 25 Oktober die ATKV x Global Changemakers-wêreldjeugberaad by ATKV-Goudini Spa bygewoon het, het ’n eerstehandse ervaring van die gevolge van klimaatsverandering gekry toe ’n brand in die Slanghoek-vallei uitgebreek en die wind die vlamme tot teenaan dié gewilde oord aangeblaas het.
Geen strukturele skade is aangerig nie en die vuur kon deur manhaftige vuurvegters van die ATKV se tegniese span, LJ Jacobs, asook brandweerdienste gestuit word.
Die brandgevaar op die Donderdag was darem aan die einde van die suksesvolle jeugberaad toe ’n paneelbespreking en afskeidsete nog moes geskied voor almal die volgende dag uitmekaar sou spat om na hul onderskeie lande terug te reis.
Dié 50 verskilmakers (20 Suid-Afrikaners en 30 van regoor die wêreld) tussen die ouderdomme van 21 en 35 het oor drie volle dae nie net hul unieke en soms buitengewone vaardighede ten toon gestel nie, maar het ook op ’n konstruktiewe wyse koppe bymekaargesit om oor uitdagende en dreigende wêreldskwessies te dink en praat – en dalk op die koop toe ’n werkbare oplossing daarvoor te kry.
Die deelnemers het gekom van lande soos Mexiko, die VSA, die Verenigde Koninkryk, Frankryk, China, Oekraïne, Palestina en verskeie ander lande.
Bring die beraad huis toe!
Vanjaar se beraad het in die Breëderiviervalleidistrik plaasgevind danksy die samewerkingsooreenkoms tussen die ATKV en die Global Changemakers-liefdadigheidsorganisasie. Die jong en briljante breine is verder geprikkel deur die welige groen wingerdwêreld omheen en die pragtige onthaallokaal, die Slanghoek-saal, bo teen Badsberg by ATKV-Goudini Spa.
Na afloop van verlede jaar se suksesvolle ATKV x Global Changemakers Afrika-jeugberaad, wat verlede Oktober ook hier gehou is, is skouer aan die wiel gesit om alle rolspelers en jong leiers in verskillende velde en oor kontinente heen vanjaar weer hierheen te bring. Daar was verlede jaar 25 deelnemers van Suid-Afrika, en die res het van elders in Afrika gekom.
Tydens verlede week se beraad het 50 jong leiers, aktiviste, akademici, entrepreneurs, gemeenskapsleiers en regeringsverteenwoordigers uit alle uithoeke van die wêreld idees uitgeruil, uitdagings bespreek en oplossings ontwikkel oor die kwessies wat die jonger generasie raak.
Om ’n wêreld se verskil te maak
Global Changemakers is ’n netwerk om jongmense regoor die wêreld te ondersteun met hulpbronne en akademiese hulpmiddels om te verseker dat hulle die op die hoogte is van navorsing en om hierdie navorsing te bestudeer en dit hul eie te maak. Dit kan dan op ’n praktiese manier in hulle klein mikrogemeenskap toegepas word.
Die Global Changemakers-span wat die beraad bygewoon het, het uit ses verteenwoordigers bestaan met die stigters Gabriela Jaeger van Mexico en Katherine Hermans van Switserland wat ook teenwoordig was. Hulle is bygestaan deur Magon Mouton, ATKV-bestuurder: jongvolwassene-ontwikkeling en innovasie en Louise Frieslaar, die jeugberaad se logistieke koördineerder.
Vier fasiliteerders, Maureen Muketha, Baxolise, Savannah Cozzi en Lukhanyo Sonyamba – almal met ’n agtergrond in sosiale ontwikkeling – het die jong leiers tydens sessies gelei.
Afgevaardigdes het aan die lippe van prominente sprekers in uiteenlopende velde gehang: Pieter Geldenhuys, futuris en strateeg en ook die skrywer van die boek Headlines From the Future; Chaeli Mycroft, ’n kwadrupleeg wat Kilimanjaro uitgeklim het en die eerste rolstoelatleet wat die Comrades-marathon voltooi het; Gillion Bosman, Wes-Kaapse parlementslid vir sosiale ontwikkeling; Rowan Spazzoli, stigter van Accendio; Janine Rutsch, medestigter van die The Sparks-program en Damian Jutzi wat betrokke is by Not I But We, ’n liefdadigheidsorganisasie wat traumaberading gee aan slagoffers van mensehandel.
Die bemarkingstafel is gedek
Die beraad het uitgelig dat jongmense nie net toekomstige leiers is nie, maar ook vandag ’n belangrike rol speel in die vorming van die wêreld. Die deelnemers is in groepe opgedeel om dinkskrums en werkswinkels by te woon wat gefokus het op die skepping van ’n waardeketting vir begunstigdes, fondswerwing, netwerkuitbreiding en persoonlike beeldpoetsing, sosiale entrepreneuriese vaardighede, storievertelling en bemarking vir impakvolle organisasies.
Deelnemers kon hul kreatiewe idees ruimhartig demonstreer, wat soms tot groot vermaak van almal gelei het. Hierdie interaktiewe benadering tydens elke werksessie het nie net kreatiewe denke bevorder nie, maar het ook ’n gevoel van gemeenskap en samewerking tussen die deelnemers geskep.
“Gedurende die week het ons lekker aktiwiteite gedoen soos om in-diepte te delf in die volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte, wat die goue draad oor alle lande heen is,” sê Magon.
“Deur die beraad Afrika toe te bring, maak ons beslis ’n verskil in die jongmense se belewenis van en persepsie oor Afrika. Dit help om persepsies te verander,” sê Gabriela.
“Elke deelnemer kom met ’n verskillende aanslag om sosiale kwessies die hoof te bied. Dit is belangrik om diversiteit te bewerkstellig al verskil elkeen se aanslag om ’n sosiale probleem aan te spreek. Blootstelling is die belangrikste, en om oop te wees om by mekaar te leer.
“Al hierdie jeugdiges is leiers in die gemeenskap. Ons probeer wegbly van die term ‘leiers’, want almal kom uit ’n gemeenskap en almal is net so belangrik soos iemand anders hulle toelaat om te wees.
“Jy mag iemand lei, maar jy moet sorg dat die regte gehoor praat,” sê Gabriela verder.
Sy kom van Mexiko, is getroud met ’n Switserse ambassadeur en woon in New York. Gabriela het ook eers in Zimbabwe en Mosambiek gewoon. “Elke keer as ek Suid-Afrika toe kom, is dit huis,” sê sy.
Waar kom die sinergie vandaan?
“My reis het begin toe ek ’n top-100-kandidaat van die Barclays African Young Minds in 2016 was, waar hulle die top-100-verskilmakers in Afrika byeengebring het,” sê Magon, wat in Swakopmund gebore is, maar deesdae in Johannesburg woon.
Sy is die skakel of “medium” tussen die ATKV en Global Changemakers.
“Daar het ek vir Courtney Gehle, medestigter van The Greenline en The Better Tomorrow Movement, ontmoet en sy het my ingetrek by Global Changemakers.
“Ek werk al sedert 2016 by die ATKV, maar het in September 2022 die jongvolwassene-ontwikkeling-en-innovasie-afdeling by die ATKV begin. Dit was die ideale geleentheid om die internasionale vennoot aan die ATKV te koppel, want die kennis, kreatiwiteit en kundigheid word nie net beperk tot die grense van ons land nie. Ons het vennote oor die ganse wêreld.
“Toe ons begin gesels, het ons sommer sewe maande daarna die eerste ATKV x Global Changemakers Afrika-jeugberaad gehou. Ons het gedink ons oplossings vir Suid-Afrika is goed en wel, maar as dit nie deug vir die res van ons kontinent nie, hoekom doen ons dit dan?
“Jongmense is besig om ongelooflike werk te doen met so min hulpbronne en ondersteuning. Dink net wat hulle kan doen as hulle ’n organisasie soos die ATKV agter hulle het,” sê Magon.
“Toe dit verlede jaar so ’n sukses was, draai Gabriela na my toe en sê, wat dink jy van ’n wêreldjeugberaad?
“Ons het daar en dan besluit ons moet die hele wêreld na Suid-Afrika bring en die ATKV is die spoel waarom alles draai. Ons kundigheid is internasionaal en ek dink ons is die enigste organisasie wat waarde heg aan jong verskilmakers en die energie wat hulle het. Hulle hardloop met ’n ding en beweeg in ’n positiewe rigting, want hulle weet, die hele wêreld het dit nodig.
“Die energie lê beslis by hierdie mark, en hulle is nie bang om kanse te vat nie. As ’n mens met hulle magic kan maak, kan dit ongelooflik wees,” sê ’n geesdriftige Magon.