Wêreldstorieverteldag vier die krag van stories
Ter viering van Wêreldstorieverteldag op 20 Maart kyk ons na waarom die kuns om stories te vertel so onlosmaaklik deel van ons bestaan is.
“Dit was ook nie die einde van Gabriëllië nie. Nog nie. Vulkane sou die aarde weer oplig en die klowe oopspalk. Riviere sou skei. Fossielduine sou vorm, moddervlokke en spoelklippies sou in die sandsteen agterbly. Eendag sou die gletsers smelt en die oseane laat groei in wrewel en wraak. Maar dit sou nie die einde van die menseras wees nie. Nog nie. Die spore van die Gabriëlliërs sou saam met die reëndruppels en varings en visse in klip behoue bly. Die eggo van ’n eggo van ’n verhaal.”
Só skryf Carina Stander in haar boek, Die Waterplek: Gabriëllië. Sy sê omdat stories die weerkaatsing van die mensdom se geheue is, help dit ons om die verre verlede te verstaan en gedragspatrone in die hede en die toekoms te herken.
“Dit help ons om ons menswees en mekaar te verstaan,” meen sy.
Storievertelling is onlosmaaklik deel van ons bestaan. Of dit gebruik word om ander te vermaak, om inligting weer te gee, of op te voed – dit verryk ons lewens op talle vlakke.
In ’n Princeton-publikasie, The Irresistible Fairy Tale: The Cultural and Social History of a Genre, skryf Jack Zipes dat mense al vandat hulle kon praat, stories vertel. Trouens, moontlik selfs voor dit al, deur middel van gebaretaal.
Grottekeninge in Lascaux en Chauvet in Frankryk – wat klaarblyklik volgens ’n artikel op News.Artnet.com die storie van ’n vulkaniese uitbarsting vertel – is van die vroegste bewyse van storievertelling en dateer tot 36 000 jaar gelede.
Die Egiptiese hiërogliewe is nog ’n belangrike vorm van storievertelling en volgens The Evolution of Storytelling op reporter.rit.edu was dié stories meestal vir godsdiensdokumentering en die oordrag van boodskappe aan toekomstige generasies en inwoners.
Vir skrywer Bonnie Bley het hedendaagse storievertelling steeds ’n tydlose, kragtige uitwerking. Sy skryf dat stories nie net inlig nie, maar mense verbind, inspireer en aanraak.
“In ’n tyd waar aandag die waardevolste ruileenheid is, is die vermoë om ’n aangrypende storie te vertel nie meer opsioneel nie – dis ononderhandelbaar,” meen sy.
Storievertelling is die brug tussen inligting en emosie.
“Of jy ’n besigheidsleier, ’n smaakmaker, of sommer net iemand is wat ’n verskil probeer maak – stories sit abstrakte idees om in ervarings waarmee mense kan identifiseer,” meen Bonnie.
Uiteraard is storievertelling ’n belangrike lewens- en beroepsvaardigheid. Dink net aan hoe groot handelsmerke se advertensies emosies uitlok deur die stories wat hulle vertel. Sommige stories bly ons by en word van generasie tot generasie oorvertel.
Stories word in bemarkingsveldtogte, plasings op sosiale media, voorleggings en alledaagse gesprekke ingeweef. Die kuns lê daarin om ’n storielyn te identifiseer wat jou kliënt ’n karakter maak. Emosionele resonansie is wat op die ou end lojaliteit kweek en invloed dryf.
Waarom interesseer stories ons steeds? Volgens education.nationalgeographic.com laat dit ons in beheer voel omdat dit ons help om sin te maak van dinge wat gebeur. Stories kan ons ook help om te sien hoe ander dink en voel. Inteendeel, studies dui daarop dat hoe meer boeiend die storie, hoe meer empaties die leser. Verder laat stories ons ook toe om inligting op ’n manier te deel wat mense onthou.
Of dit nou ’n storie om die kampvuur of ’n fyn beplande storielyn vir ’n bemarkingsveldtog is, storievertelling is ’n kragtige hulpmiddel vir duidelikheid en verbintenis. Dis nie net vermaak nie, dis strategie, identiteit en impak – alles in een.
Philip Pullman het gesê naas voedsel, skuiling en kameraadskap, is stories die een ding wat ons die meeste in die wêreld benodig. Moet dus nie die geleentheid om ’n storie op Wêreldstorieverteldag te vertel, misloop nie.
Die ATKV nooi jou uit om die dag te vier deur jou gunstelingstorieboek te lees, ’n storie met ’n kind te deel, of jou vriende van ’n kosbare herinnering te vertel. Met elke storie wat jy deel, belê jy in jouself en in die verbeelding van ander.