Wesland-kunstevereniging verfraai Vredendal
Die Wesland-kunstevereniging het met die ondersteuning van die ATKV ’n wit olifant in Vredendal se middedorp in ’n aanskoulike en funksionele baken omgeskep.
’n Fontein op die gronde van die Nederduits Gereformeerde Kerk in dié dorp in die noorde van die Olifantsriviervallei in die Wes-Kaap was verwaarloos en is in bankies vir openbare gebruik omgeskep.
Die bankies is versier met mosaïekpanele wat die biodiversiteit van die inheemse omgewing uitbeeld. Die voëllewe, fauna, flora, insekte en die unieke marienelewe is as tema gebruik en die mosaïekwerk is deur plaaslike inwoners van alle ouderdomme gedoen.
Die meeste van die uitbeeldings is inheems aan dié gebied in die hartjie van die Matzikama-munisipaliteit en dien dus nie net as ’n estetiese bate vir die plaaslike inwoners en toeriste nie, maar vervul ook ’n opvoedkundige funksie.
Desireé Brand, voorsitter van die Wesland-kunstevereniging, verduidelik hoe dié liggaam aan die ATKV verbonde geraak het.
“Die Wesland-kunstevereniging is in November 2016 as ’n niewinsgewende organisasie geregistreer, grootliks vanweë druk van die departement van kuns en kultuur, wat gesê het as ons nie registreer nie, ons nie verder in aanmerking vir befondsing sal kom nie,” sê Desireé.
“Maar die niewinsgewende organisasie het nie lekker funksioneer nie. Die bestuur was uiters apaties, dus het ek in 2020 besluit om die lyn te trek. Almero (Oosthuizen, ATKV-streeksbestuurder: Boland en Karoo) het die voorstel gemaak dat ons deregistreer, ons bankrekening sluit en ons met die plaaslike ATKV-tak Olifantsrivier (waar Desireé ook ’n bestuurslid is) te affillieer, wat onder meer ons banksake sou vergemaklik en ons van bankkostes en ouditfooie sou vrystel.
“Dit was ’n geweldige verligting, want ek weet nie hoe ons anders met gemak met die bankieprojek sou kon voortgaan nie. Buiten vir hulp van ’n paar individue, het ons nie enige finansiële hulp van plaaslike sakeondernemings gekry nie, dus was die ATKV se hulp baie waardevol.”
Desireé sê die plaaslike gemeenskap het die projek met ope arms verwelkom.
“Waar ek ook al gegaan het en vir hulp gevra het, moet ek eerlik sê, ek het eenvoudig net goeie samewerking ontvang,” sê sy.
“Alle generasies het gehelp, van klein kindertjies so jonk as ses jaar oud tot by die ouetehuis, waar een dame vyf mosaïekwerke voltooi het.”
Desireé sê mense het reeds begin kennis neem van die nuwe bankies.
“Ek dink almal waardeer dat dit soveel beter daar lyk,” sê sy.
“Daar is wel ’n verstaanbare skeptisisme, want daar is maar baie mense wat op straat woon en die gemeenskap is bang dat die bankies gevandaliseer word.”
Desireé sê die projek sal binnekort voltooi en amptelik bekendgestel word.
“Die mense wat die finale fondse geskenk het, sal die dorp aan die einde van die maand besoek om die veranderinge te verfilm en hulself bekend te maak,” sê sy.
“Dan gaan die plaaslike kwekery ook die gebied rondom die bankies met plante verfraai.”
Desireé bedank twee instansies waarby die Wesland-kunstevereniging graag in die toekoms betrokke sal wil bly.
“Baie dankie vir die bydraes van die mense van die Namaqua-behandelingsentrum op Lutzville, waar hulle mense vir verslawing behandel, en Onse Kaia, ’n instansie in die noorde van Vredendal waar haweloses gehelp word om weer by die gemeenskap te integreer,” sê sy.
“Ek het daar aangeklop en almal was gretig om saam te werk. Ek hoop dat ons in die toekoms weer saam met hulle kan werk en vir ander projekte kan saamspan.”
Almero beskryf Desireé as die “dryfveer” agter die Wesland-kunstevereniging.
“Alles draai om Desireé. Wanneer sy ’n projek na ons toe bring en dit pas in by die ATKV se missie en visie, raak ons betrokke,” sê Almero.
“Die mosaïekprojek was meer ’n gemeenskapsprojek en die ATKV het bloot ’n geleentheid of ’n forum geskep waar ons die plaaslike gemeenskap uitgenooi het om saam deel te neem aan die verfraaiing van hul eie dorp en die erfenis van die Olifantsriviervallei.
“Die plaaslike ATKV-tak was eenvoudig rigtinggewend in die inisiëring en uitvoering van die projek, maar daar is talle ander rolspelers soos sakeondernemings, die munisipaliteit en skole en gemeentes in die dorp, in die besonder die NG Moedergemeente.
“Die ATKV is baie opgewonde oor die projek omdat ons deel kon wees van die herwinning van ’n ryk stuk erfenis in Vredendal.”
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Olifantsrivier, kontak Florence Filton by 078 463 1238. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-tak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.