Woordfees 25: RSG/ATKV-vierkant is daar!

Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar – ’n indrukwekkende mylpaal vir hierdie geliefde fees wat van 11 tot 19 Oktober 2025 in die hart van Stellenbosch plaasvind.
Met sowat 400 unieke programitems bied die fees iets vir elke smaak – van teater en musiek tot gesprekke, dans en literatuur.
’n Besonderse hoogtepunt vanjaar is die RSG/ATKV-vierkant by die US-museum, waar feesgangers elke dag kan kom saamkuier, luister en deel in die vreugde van stories en musiek.
In wat beloof om ’n hoogtepunt vir die jongspan te wees, nooi Lalla Lees jong lesers én hulle ouers om saam te kom luister na ’n halfuur vol verbeelding, pret en lag.
Van 13 tot 19 Oktober, elke oggend van 11:00 tot 11:30, wag daar ’n spesiale storietyd by die RSG/ATKV-vierkant by die US-museum. Dit is die perfekte geleentheid vir kinders wat reeds boeke verslind, of dié wat nog net begin ontdek hoe lekker lees kan wees.
Bring jou nuuskierigheid – en jou glimlag – en kom duik saam met Lalla Lees in ’n wêreld waar woorde lewend word.
Vir musiekliefhebbers sal die bekende kunstenaar Jak de Priester ook by die vierkant optree – ’n geleentheid wat jy nie wil misloop nie.
RSG sal die feesjoligheid vanaf die vierkant regstreeks uitsaai en besoekers kan uitsien na verrassings, geselsies en ’n warm, gesellige atmosfeer.
Amoré Swanepoel, bemarkingsbestuurder van RSG, sê hulle is reeds verskeie jare by die Woordfees betrokke.
“Dit is vir RSG so lekker om met feeste te kan assosieer en regtig van die kunste deel te wees. Die Woordfees lê ons baie na aan die hart,” sê sy.
Amoré verduidelik RSG se grootste oogmerk vanjaar is om nader aan hul luisteraars te kom en deel van die fees te wees.
“Ons vennootskap met die ATKV werk uitstekend, want ons deel dieselfde teikengehore en waardes. By die Woordfees wil ons vir feesgangers ’n plek bied waar hulle nie net inligting kan kry nie, maar ook saam kan sit, kuier en eenvoudig die fees geniet.”
Op die vraag oor waarom die RSG besluit het om spesifiek ’n ruimte vir kuier te skep, eerder as net ’n tradisionele uitsaaitent, antwoord Amoré: “Ons het die idee van ’n kuierarea saam met die ATKV begin toets by die KKNK en dit het baie goed gewerk.
“Die kombinasie van ’n program vir kinders, volwassenes én radiouitsendings bied iets vir almal. Van jaar wou ons dieselfde by die Woordfees implementeer – en dit is vir ons ’n groot voorreg om weer saam met die ATKV só ’n aanbod te kan skep.”
Amoré brei uit oor watter ander programme en aktiwiteite by die RSG/ATKV-vierkant sal plaasvind.
“Ons skep ’n gesellige leeshoek die by RSG/ATKV-vierkant waar mense rustig kan sit en literatuur geniet. Ons saai programme soos Spektrum, 360, Kommentaar, Naweek-aktueel en Saterdag Sprankel saam met Sue Pyler-Slabbert regstreeks van hier uit. Elke oggend bied Jak de Priester ’n spesiale geselsprogram aan en daar is ook daaglikse voorlesings vir kinders – ’n lekker geleentheid om die liefde vir stories en boeke te deel.
“Ons is baie opgewonde om Jak daar te hê. Hy is al vir ’n geruime tyd met sy gewilde program Glasiewynfontein op Donderdagaande by RSG betrokke. By die Woordfees kry feesgangers nou die kans om hom en sy gaste regstreeks, in lewende lywe, te ervaar – dit is basies radio wat voor jou oë gebeur.”
Amoré voeg by daar sal beslis geleenthede wees vir feesgangers om met RSG-persoonlikhede te gesels of foto’s te neem.
“Ons luisteraars en ons omroepers is ewe lief vir mekaar en die Woordfees is die perfekte plek om daardie band te vier. Bekende stemme soos Martelize Brink, Johan Rademan en Suzanne Paxton sal daar wees – en feesgangers kan voor die uitsendings kom kuier, hallo sê, ’n foto neem of selfs saam met ons ’n koppie koffie geniet. Daar sal beslis baie geleenthede wees om met RSG-persoonlikhede te gesels.”
Dus, kom kuier, kom luister, kom vier. Die Toyota Stellenbosch Woordfees beloof vanjaar weer ’n fees van stories, musiek en mense.
“Dit is vir ons ’n voorreg om al vir so lank deel van die kunste en van feeste soos die Woordfees te wees,” sê Amoré.
“Ons is dankbaar dat die Woordfees reeds 25 jaar bestaan en steeds van krag tot krag gaan. Die passie en toewyding van die span agter die fees spreek boekdele en ons vier hierdie mylpaal graag saam met hulle.”