Skip to main content

Doen en Leer-aktiwiteitskaarte:

"Boeke is nie ’n luukse nie. Dit is ’n noodsaaklikheid vir ons kinders se toekoms,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (’n divisie van die ATKV). “Ongelukkig kan baie skole en mense nie altyd boeke bekostig nie. Daarom bied die VVA deur middel van ons boektrommelprojek die geleentheid dat kinders so vroeg as moontlik aan die wêreld van woorde en stories blootgestel word.”

Die boektrommelprojek is die VVA se vlagskipprojek. Hierdie boektrommels is vol heerlike boeke wat by verdienstelike en skole en goedbestuurde kleuterskole besorg word. Die VVA se boektrommelprojek bestaan uit ’n:

  • ’n Boekverspreidingsprojek (boektrommels aan verdienstelike kleuterskole, Graad R-klasse en grondslagfaseklasse).
  • Boekopvoeding en storievoorlesings vir kinders sodat hulle die waarde van boeke kan besef en ’n liefde vir lees ontwikkel.
  • Voorleeswerkswinkels vir ouers, ander belangstellendes en opvoeders (vroeëkinderontwikkeling-praktisyns).

Die VVA en die ATKV wil deur hierdie projekte ’n leeskultuur geskep en daartoe bydra dat kinders in ’n woordryke omgewing grootword. “Die VVA glo dat lees, aangeleerde gedrag is en dat kinders die voorbeeld van volwassenes volg. Net soos wat ʼn goeie sportvrou en sportman moet oefen om die beste te word, so moet ’n mens ook elke dag lees om ʼn goeie leser te word. Lees moet deel van ʼn roetine word,” sê Van der Merwe.

Deur vir kinders voor te lees, kan jy van hulle lewenslange lesers maak, maar ook sorg dat hulle optimaal sal kan leer. Die VVA wil ook deur boeke kinders bemagtig en goeie waardesisteme aanleer deur hulle aan die regte boeke en stories bloot te stel. Geletterdheid en 'n liefde vir lees kan lei tot kinders wat onafhanklik kan dink, empatiese wesens is wat vir hulleself sal kan sorg en weet wat hulle regte is.

Lees lê die grondslag van alle leer. As ’n mens in ag neem dat ’n kind die heel meeste leer in die periode van 0 tot 6 jaar as wat hy/sy die res van sy/haar lewe sal leer, kan daar nooit te vroeg met voorlees en lees begin word nie.”

Met hierdie uitgebreide boektrommelprojek wil die VVA in 2019 probeer om ’n groter impak te maak tot die ontwikkeling van ’n leeskultuur in gemeenskappe landwyd sodat kinders – eerste-, tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans – in woordryke omgewings met toegang tot die regte boeke kan grootword en die vreugde en bemagtiging van lewenslange lees en leer kan ervaar en benut.

Danksy verskeie donasies, borge en vennootskappe kan die VVA jaarliks meer as 50 trommels nasionaal versprei. Jy kan ook help. ’n Trommel met tussen 90 en 110 boeke geskikte boeke (deur Biblionef) kos R8 000.

Die bankbesonderhede indien jy ’n bydrae wil maak, is soos volg:

Bank: ABSA 
Rekeningnaam: ATKV
Rekeningnommer: 0170166728, Tjekrekening
Takkode: 632005
Gebruik asb "VVA Boektrommels" as verwysing.

 Kontak Chareldine van der Merwe by 021 880 1761 of chareldinev@atkv.vva.org.za vir meer inligting.