125 leerders woon ATKV-Jeugleiersimposium by
“Die lewe bestaan uit sirkeltjies – waar ook al die jeugleiers vorentoe gaan en vriende herontmoet, sal hulle onthou dit was die ATKV-Jeugleiersimposium waar hulle aanvanklik kennis gemaak het.”
Só sê Annemarie Alberts, projekorganiseerder en die fasiliteerder van die hegte verbintenisse tussen leerders wat tydens die 25ste ATKV-Jeugleiersimposium gevorm is.
Die geleentheid het van 11 tot 14 Desember 2023 by ATKV-Goudini Spa in die Slanghoekvallei plaasgevind.
Nagenoeg 125 leerders het dié jeugleiersimposium met ywer, geesdrif en ’n sterk “spangevoel” bygewoon. Leerders het van regoor die Wes-Kaap, Oos-Kaap en selfs Namibië gekom.
Die noordelike ATKV-Jeugleiersimposium vir hoërskole en laerskole is sowat twee weke voor dié suidelike jeugbyeenkoms by ATKV-Buffelpoort naby Mooinooi gehou.
Annemarie meen die ATKV-Jeugleiersimposium bied aan jong leiers die geleentheid om te ontwikkel en te groei.
“Ons het die voorreg om ’n projek aan te bied vir die room van die room. Dis ’n voorreg vir kinders vanuit verskillende agtergronde om die geleentheid by te woon. Dis ook ’n voorreg vir ons om die platform te skep vir die nuutverkose leiers, wat dalk oorweldig mag voel, om vaardighede aan te leer en met selfvertroue die termyn as leiers aan te pak.
“Hierdie is ’n geleentheid waar ons hulle vaardighede gee – basies boustene wat die leiers tydens hul termyne sal gebruik, maar ook vorentoe. Jy bou vriendskappe met leiers wat soos jy dink en ook jou waardes deel. Dié vriendskappe geld nie net vir die week nie, maar duur ook dikwels tot later, wanneer hulle studente is of in die besigheidswêreld begin woeker.”
“Die kinders geniet die ATKV-Jeugleiersimposium, want dit voel nie soos ’n konferensie vir hulle nie, juis omdat dit op ’n oord plaasvind met heelwat aktiwiteite. Daar is swembaddens, hulle doen sport ... Dis lekkerder as om formeel te sit en luister na sprekers,” sê Annemarie.
“Die temas word gekies na gelang van kwessies wat op ’n gegewe stadium in die land in die nuus is.”
Vanjaar se tema, “Skeppers van hoop en drome”, is een wat oor Annemarie se pad gestuur en op haar hart gedruk is.
Leerders sukkel om afskeid te neem
Vanjaar se programleier, Lehandi Eygelaar, drama-onderwyser by die Hoërskool DF Malan, voeg by dat die leerders positiewe groei in hul skole en onder mekaar nastreef.
“Die leiers is gretig om hoopvol te wees en leiding vorentoe in hulle skool en in ons land te neem, maar hulle voel tog magteloos oor ons land se situasie.
“Ek hoop hulle bemoedig mekaar met hoop en het ’n positiewe gesindheid in hulle eie lewens – om ’n leier vir hulself te wees – en ook om veranderinge ten goede te gaan dryf in hul skole – om ’n diensbare leier in hul skool te gaan wees.”
Lehandi het veral opgemerk dat die groep gewillig is om vriende te maak oor kultuur-, geloof- en rassegrense heen.
“Vanjaar was dit vir my duidelik dat die meeste van die leerders maats gemaak het met verskeie ander skole se leerders. Op die laaste dag, toe daar gegroet moes word, kon ons byna nie die leerders by die saal uit kry nie. Dit was asof hulle nie wou afskeid neem van mekaar nie,” sê sy.
Dié welsprekende programleier noem dat ’n hoogtepunt vir haar was dat heelwat leerders van verskeie skole oor verskillende provinsies heen ’n sterker Christelike invloed of leiding in hul skole verlang. “Dit was vir my verrassend om van die leerders se kant af te hoor dat dit iets is waarna hulle smag in hul skool.”
In ’n erg gepolariseerde wêreld met verskeie teenstrydige opinies was dit tog vir haar duidelik dat die leerders poog om polities ingelig te wees, maar gebombardeer voel deur verskeie menings daaroor.
“Hulle is nie skaam om verskeie menings met mekaar te deel wat hulle gehoor, gelees of gesien het op TikTok-video’s of in ’n Instagram-storie nie, maar hulle sukkel om ’n kritiese, weldeurdagte gesprek met mekaar te voer omdat die geloofwaardigheid van mekaar se bronne in twyfel getrek word,” sê Lehandi.
Sprekers tydens die week
Tydens die 2023 ATKV-Jeugleiersimposium was daar verskeie sprekers wat die leerders se hoop, drome en idees omtrent leierskapsvaardighede verder geslyp het om ’n verskil by hulle onderskeie skole te maak. Hulle is:
- Manie Botha – DISC-profiele. Manie is van BrainTribe en werk met jongmense.
- Rian Truter – Sy aanbieding was oor next-level-leierskap. Rian is ’n motiveringspreker en konsultant.
- Johan Lategan het oor geestesgesondheid gesels. Hy is ’n kampvegter vir depressielyers en mense met geestesiektes.
- GP van Rheede van Oudtshoorn se gewilde praatjie het “Ons het die gees!” geheet. Hy is ’n motiveringspreker en besigheidspesialis in korporatiewe kommunikasie.
- Lindie en Paul Strydom het gepraat oor “Die krag van invloed sonder ’n titel”. Lindie is bekend om haar spel in die sepie Egoli en organiseer verskillende gemeenskapsprojekte. Haar seun Paul Strydom, die beste akteur tydens 2023 se ATKV-Tienertoneel, het sy eie storie oor leierskap gedeel.
- Lisinda de Jager het oor mentorskap gepraat. Sy is ’n leierskapspesialis en lewensafrigter, asook ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch.