Skip to the content

Taalregte onder die loep tydens ATKV-taalregtesimposium

Ons almal ken die frustrasie. Jy moet oor die foon met jou bank kommunikeer net om uit te vind die persoon aan die anderkant kan nie jou taal praat of verstaan nie.

Vir baie van ons is dit ’n uitdaging om ons behoeftes en wense in ’n taal wat nie ons moedertaal is nie, uit te druk.

Maar vir ander is dit egter onmoontlik. Wat gebeur as jy in ’n hof moet getuig en jy is nie Engels magtig nie? Hoe verdedig jy jouself? Of wat as jy ’n mediese keuse moet uitoefen, maar nie die prognose verstaan nie ... Hoe maak jy ’n ingeligte besluit?

Taal is veel meer as net ’n kommunikasiemiddel. Dit beïnvloed jou daaglikse bestaan.

Daarom het die ATKV en Cerneels Lourens, ’n taalaktivis en regsgeleerde van Brits, kragte saamgespan om ’n simposium oor taalregte te reël.

Die deklarasie van taalregte van Suid-Afrikaners, ’n konsepdokument wat deur Cerneels Lourens opgestel is, is by die ATKV se eerste taalregtesimposium in Johannesburg bekendgestel. Die doelwit van dié simposium was om ’n inklusiewe proses van stapel te stuur wat moontlik kan lei tot die aanvaarding van ’n handves van taalregte in Suid-Afrika.

“Hierdie dokument is ’n Suid-Afrikaanse produk vir die wêreld,” sê Lourens.

“Dit sal enige plek in die wêreld toegepas kan word sodat mense hul taalregte kan ken.”

Oudregter Albie Sachs, hoofspreker tydens die simposium, meen dit is belangrik vir ’n taal soos Afrikaans om sy herkoms in ag te neem.

Volgens hom moet Afrikaanssprekendes trots wees op hul taal se geskiedenis as ’n kombuistaal.

“Afrikaans is in die verlede deur wit mense uitgebou en gestandaardiseer tot wat vandag aanvaarbare Afrikaans is en wat nie.”

Sachs glo ’n gesprek oor veeltaligheid is nodig, want dit is ook vir Afrikaanssprekendes belangrik om te besin oor die ander variëteite van die taal.

Volgens die regsgeleerde prof. Koos Malan is daar ’n algehele vyandigheid nie net teen Afrikaans nie, maar ook teen ander Afrikatale.

“Inheemse Afrikatale het sedert 1994 nie vooruitgegaan nie, maar agteruit.

“Die huidige regering is tans besig met ‘transformatisme’ en nie transformasie nie. Dit is ’n algehele vyandigheid waar ’n homo- openbare kultuur geskep word.”

Hy meen die handves moet aanspraak maak op byvoorbeeld skole en howe, en moet kollektief al die inwoners van ’n betrokke provinsie akkommodeer.

“Neem byvoorbeeld die noorde van KwaZulu-Natal, die meeste mense praat Zoeloe. Daarom is dit net regverdig dat die howe in die betrokke streek Zoeloesprekendes moet akkommodeer.”

Zakeera Docrat, ’n doktorale student in Afrikatale aan die Rhodes-Universiteit, het die rol en invloed wat taal in howe en basiese menseregte speel, bevestig.

“Taal is ’n belangrike element in die regstelsel en dit moet die regstelsel bevorder en nie benadeel nie.”

Volgens haar word mense se reg tot ’n regverdige verhoor ontneem weens swak tolke en omdat hulle nie in howe in hulle moedertaal kan kommunikeer nie.

Professor Fernand de Varennes, die Verenigde Nasies se spesiale waarnemer oor minderheidskwessies by die Raad vir Menseregte, sê taalregte en minderheidsregte loop hand aan hand.

Volgens hom moet minderheidsgroepe, wat ’n sekere taal praat, se regte ook beskerm word.

Hy is van mening dat Suid-Afrika se taalregte op die Kanadese model – waar Engels en Frans gelyke regte ontvang – geskoei kan word.  

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die onderwyssektor het oor die jare ook toenemend verengels.

“Dit het nie net ’n invloed op Afrikaans nie, maar ook op die ander Afrikatale.

“Hoewel die regering ’n poging aangewend het om ’n Afrikataal op skoolvlak verpligtend te maak het hulle klaaglik misluk,” sê Colditz.

Die taalaktivis Duduzile Khethiwe Marais skryf dit toe aan ’n gebrek aan politieke wil en korrupsie in die regering.   

“Regeringsbeamptes voel nie meer dat hulle aanspreeklik gehou moet word vir die land se burgers se belange nie.

“Die handves moenie ’n klein hoeveelheid mense baat nie, dit moet mense kan vorm en opvoed wat onder normale omstandighede magteloos sou wees.”

Prof. Steve Cornelius, direkteur van die Sentrum vir Intellektuele Eiendomsreg aan die Universiteit van Pretoria, sê basiese kontrakte, soos ’n huurkontrak, moet in alle groepe se moedertaal beskikbaar wees.

“Die taal moet verstaanbaar en eenvoudig wees sodat die betrokke individu ’n berekende besluit kan uitvoer.”     

Volgens Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV, gaan die dokument so wyd as moontlik versprei word en na mense en groepe in verskillende vir sektore vir insette en kommentaar gestuur word.

Klik hier vir die dokument.

Lees ook Johanna van Eeden se artikel oor dié simposium op Netwerk24.