Skip to the content

Uittreksel: 'Dinge wat ek nie van skape geweet het nie' deur Jaco Jacobs

Jaco Jacobs

Jaco Jacobs laat nie gras onder sy voete groei nie. Hy is onlangs met die gesogte Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur vir sy boek Grom! (LAPA Uitgewers) bekroon. Sy nuutste boek, Dinge wat ek nie van skape geweet het nie, is nou beskikbaar. Hier is ’n uittreksel uit dié nuwe boek:

Hoofstuk 3: Die definisie van vervelig

(’n Uittreksel uit Jaco Jacobs se boek Dinge wat ek nie van skape geweet het nie)

Langs die woord vervelig in die woordeboek behoort daar ’n foto te wees van ’n lang, reguit stuk teerpad deur die Vrystaat.

So ver as wat ’n mens kan sien, strek vaalgeel grasvlaktes uit, met lappe omgeploegde rooigrond soos rou skaafplekke tussenin.

Sedert ons vanoggend by die huis weg is, het ek die volgende gedoen:

• Telefoonpale getel.
• Kraaie op telefoonpale getel.
• Probeer slaap.
• Na omtrent drie uur van aaklige, breinverlammende countrymusiek op die Land Rover se kassetspeler geluister.
• Myself omtrent tienduisend keer verwens omdat ek nie my ou iPod uit my laai gegrawe en saamgebring het nie. My musiek is deesdae op my foon, maar ek sou steeds veel eerder na my ou iPod-liedjies wou luister as na wannabe cowboys wat klink of hulle hulle polse gaan afkou omdat hulle na ’n meisie verlang.
• My pa omtrent tienduisend keer verwens omdat hy gedink het dis ’n goeie idee om my saam met my ouma weg te stuur.

Ek kan net dink wat Ryan en Div sal sê as hulle moet uitvind ek spandeer die vakansie in ’n motor saam met my ouma. Op pad Karoo toe. Met my oorlede oupa se as in ’n silwer potjie op die agtersitplek – waar ek dit vanoggend baie vinnig neergesit het nadat ek uitgevind het wat dit is.

Danksy my pa het ek meer as ’n week laas ’n woord van my twee beste pelle gehoor. Ek wonder hoe húlle ouers op die gemors reageer. Ek is seker Ryan se pa-hulle sal nie so ’n ophef daarvan maak nie. Hulle steur hulle nie aan dié soort ding nie – hulle is te besig met partytjies en vergaderings en oorsese reise. En ek dink Div se ma het lankal moed opgegee met hom en sy ouer broer – sy is ’n verpleegster wat lang ure werk, en sy moet alleen vir Div en sy broer sorg. Div se ouer broer is verlede jaar uit sy derde skool geskors. Hy probeer skynbaar sy bes om voor die einde van matriek uit elke hoërskool in Bloemfontein geskors te word.

Ek en Ryan en Div verskil eintlik soos dag en nag. Maar hulle is my beste vriende. My enigste vriende.

Ek kners op my tande. My pa was só onregverdig. Hoe gaan ek die hele vakansie sonder my selfoon oorleef?

“Is jy gereed om die Oranjerivier oor te steek?” vra my ouma en ry stadiger.

Ek trek my skouers op.

Sy glimlag net. As my stilstuipe haar irriteer, wys sy dit nie. Wel, ek gaan ook nie wys hoe baie daardie skewe glimlaggie van haar my irriteer nie. Dit is so ’n regte ek-weet-iets-wat-jy-nieweet-nie-glimlag.

Ons ry teen ’n hoogte uit, en aan die ander kant daarvan loop die pad oor ’n reuse-damwal. Vanderkloofdam, kondig die bordjie langs die pad aan. Die water lê blink en rustig in die middagson.

My ouma hou by een van die parkeerplekke langs die pad stil. Daar is ’n uitkykpunt, en witgekalkte betontafels waar mense piekniek kan hou. Sy klim uit en rek haar met ’n kreungeluid uit. Daarna maak sy die Land Rover se agterdeur oop, grawe in ’n sak en haal haar kamera uit. Terwyl sy met die lense peuter, klim ek ook uit. ’n Bordjie beduie daar is toilette naby die parkeerplek. Sonder om iets te sê, stap ek soontoe.

Dalk moet ek nou die pad vat, soos ’n gevangene wat vir die polisie vlug. Die bosse langs die pad is dig. My ouma sal my beslis nie in die hande kry nie. Ek kan die hele skoolvakansie in die bosse wegkruip en van veldkos leef. Ja, right, Luan. Onthou, McDonald’s-burgers groei nie aan bosse nie. Ek kan Ryan se stem in my gedagtes hoor spot.

Toe ek terugkom, is my ouma besig om foto’s van die dam te neem. Sy konsentreer so hard dat dit lyk of sy my nie eens sien nie. Ek stap tot teen die veiligheidsreling langs die pad en tuur oor die dam. In die verte glip ’n motorboot oor die water, ’n mens kan die enjin dofweg hoor dreun.

Die geklik van my ouma se kamera laat my omkyk. Sy was besig om foto’s van my te neem. Sy lig net haar wenkbroue vir my verergde frons, asof sy verwag ek gaan iets sê. Maar so maklik gaan ek nie my stilstuipe verbreek nie.

You have the right to remain silent.

“Nou ja, tyd om te kyk hoe skoon die toilette hier rond is,” sê sy en stap in die rigting van die badkamer.

’n Silwer Volkswagen-kombi kom nader gery en hou ’n paar parkeerplekke van ons af stil. Daar is iets teen die kant van die bussie geskryf, maar die deure skuif oop voordat ek kan lees wat daarop staan. Al wat uitsteek, is die letters TR en KER. Ek loer uit die hoek van my oog na die meisie wat uitklim. Sy het lang koperbruin hare wat los oor haar skouers krul, en ’n melkwit vel wat lyk of selfs die flouerige winterson dit blitsvinnig rooi sal brand. Om haar nek hang ’n groot verkyker en sy het ’n boek in haar hand.

Ek grinnik verleë en kyk vinnig weg toe sy vir my waai. Sy het seker gesien ek staar na haar. Ek stap ’n ent weg en maak of ek weer na die dam kyk.

“G’n wonder daar is ’n bordjie wat sê mens gebruik die toilette op eie risiko nie,” kondig my ouma luidkeels aan toe sy terugkom. “Ek dink dis meer higiënies om langs die pad in die veld te piepie.”

Die meisie met die krulhare lag. “Dankie vir die waarskuwing, Tannie,” sê sy.

Ek staan nog ’n ent verder weg. Hopelik dink sy ek ken nie die eienaardige rooikoptannie nie. My ouma raak agter in die Land Rover doenig. Ná ’n ruk kom sy met ’n plastieksak te voorskyn. Sy sit dit op een van die vuilwit piekniektafels neer en begin dit uitpak.

“Jammer, maar padkos is net vrugtesap en Woolworths- toebroodjies,” sê sy. “Ek het dit gou vanoggend by die vulstasie gekoop voor ons uit Bloemfontein weg is. Ons kan vanaand iets ordentliks soek om te eet.”

Ons gaan sit by die tafel. Terwyl ek eet, probeer ek my bes om ongemerk in die rigting van die kombi te loer. Die meisie se ma het ook intussen uitgeklim. Sy het kortgesnyde hare en sy waai ook vriendelik vir ons.

Gesels-gesels begin hulle ’n klomp goed uit die kombi laai. Verbaas sien ek hoe hulle ’n tafeltjie reg langs die pad opslaan, ’n tafeldoek daaroor gooi, en eet- en drinkgoed daarop begin uitpak – bottels Energade, piesangs en toebroodjies. Die meisie staan ’n ent weg en neem selfoonfoto’s van die tafeltjie. Die vrou steek ’n gasstofie aan en begin water daarop kook terwyl sy koffiebekers regpak. “Het jy die handdoek onthou, Lana?” vra sy.

My ouma maak onverwags keelskoon en ek wip van die skrik.

Sy glimlag en sit haar leë vrugtesapboksie terug in die plastieksak. “Is jy reg om te gaan?”

Ek knik en probeer om nie te wys hoe teleurgesteld ek is nie. Nou sal ek seker nooit weet waarmee Lana en haar ma besig is nie. Terwyl ek vullisdrom toe stap om die plastieksak weg te gooi, sien ek hoe die vrou by die tafel gaan sit en op haar horlosie kyk. Die meisie het haar op ’n opvoustoel tuisgemaak en sit en lees haar boek, maar sy lig kort-kort haar verkyker en kyk na die bokant van die bult. Ek probeer sien wat die titel is van die boek wat sy lees.

Skielik gil sy opgewonde. “Hier kom hy!”

Haar ma spring op en kom staan langs haar.

Hulle klap hande en juig uitgelate toe ’n fietsryer aan die bopunt van die bult verskyn.

Dit is ’n man, sien ek toe hy stadig aangery kom. Hy lyk nie eintlik soos die fietsryers wat ’n mens soggens vroeg op pad skool toe deur die oggendverkeer sien vleg nie. Sy neonpienk fietsryhemp span oor sy effense maag, sy bene is rooi gebrand, en sweet stroom onder sy valhelm uit.

Hy ry met ’n glimlag nader en kom wankelrig tot stilstand terwyl hy sy helm met een hand losknip.

Die meisie hardloop nader terwyl sy heeltyd foto’s met haar foon neem.

“Mooi so, Pa!” roep sy.

“Dankie, dankie!” hyg hy.

Stywerig klim hy van die fiets af en stoot dit tot by die kombi. Die vrou gee vir hom ’n handdoek aan en hy vee sy gesig en nek droog voordat hy ’n lang sluk van die bottel Energade vat wat sy na hom uithou.

Die Land Rover brul toe my ouma die enjin aanskakel.

Ek maak die deur oop en klim in.

Toe ons wegtrek, sien ek hoe die meisie haar wilde bos bruin hare oor haar skouer gooi en vir ons waai.

Ek het nooit gesien watter boek sy besig is om te lees nie.

WEN! WEN! WEN!
Ons gee drie kopieë van Jaco Jacobs se boek, Dinge wat ek nie van skape geweet het nie, weg. SMS TG SKAPE en jou naam, van en posadres na 44131.