Skip to the content

Die duiwel alleen weet...

Teen die middel-1980’s het omtrent enigeen van ’n skoolhoof tot ’n weermagkapelaan een die bedreiging van satanisme uitgevaar Ouers was bevrees en die gesinstruktuur is onder beleg, is gewaarsku.

Satanisme het in die 1960’s in die VSA vastrapplek gekry en teen die 1980’s epidemiese afmetings aangeneem, beweer Herbert Staples in sy 1993-doktorsgraadtesis “Satanism and Associated Phenoma: A Study in the Philosophy of Education”.

Teen die 1970’s het belangstelling in die okkulte en spiritisme volgens hom na Suid-Afrika versprei en dit het die weg vir satanisme gebaan.

Die destydse Transvaalse Onderwysdepartement (TOD) het in 1988 by Staples aangeklop om die omvang van die kwessie te bepaal. Hy het gerapporteer dit het na elke Transvaalse skool uitgekring.

Hoërskoolkinders was die teikengroep. Luidens Staples se verslag kon 1,6% van hulle as “sataniste” bestempel word. Sowat 2,8% was “hoë okkult-gebruikers” en een uit elke twee van hulle het “waarskynlik” satanistiese bedrywighede beoefen.

Universiteitstudente is nie van die gevare kwytgeskeld nie. In 1985 het geskokte vrouestudente aan die PU vir CHO geweier om die Joolblad te verkoop omdat hulle gevoel het ’n reeks foto’s in die blad bevorder satanisme (die studenteraad het die foto’s verwyder).

Selfs die Universiteit Stellenbosch se destydse Wetenskapsfiksie-en-fantasievereniging is verkla oor dit glo lede na die duiwel lei.

Die eintlike kwessie
Wat deur die gesagsfigure van die tyd as “satanisme” bestempel is, noem Nicky Falkof “morele paniek”.

Sy is medeprofessor in mediastudie aan die Universiteit van die Witwatersrand en nou betrokke by ’n projek waarin angs en morele paniek in die Suidelike Halfrond bekyk word.
“Daar was ’n paar sleutelredes vir die satanic panic van die tyd,” sê Nicky.

“Die media was een daarvan. Kyk byvoorbeeld na beriggewing in 1991 oor twee broers in Port Elizabeth wat grafte geskend het. Die media het dit verklaar as ‘die duidelikste aanduiding van satanisme wat die stad nog gesien het’ en ‘dat die sluier van dade wat die land diep skok, gelig is’.”

In 1992 het die destydse polisie se eenheid vir okkulteverwante misdade tot stand gekom. Kol. Kobus Jonker, in die media “Donker Jonker” genoem, was aan die stuur. “Kobus Jonker het graag ‘bewyse’ van demoniese satanistiese rituele aan die media verklap,” sê Nicky.

“Die bekende ikonografie van satanisme – swart kerse, pentagramme, onderstebo kruise en dies meer – is weer en weer herhaal.

“Sy gesprekke met betrokkenes het bisarre rituele onthul. Babas is geoffer en geëet en diere is in groepverband gesodomiseer. Kinders is verkrag en orgies en groepseks was deel van ‘nuwe aankomelinge’ se ontgroening. Dwelms, seks en musiek was die onheilige drie-eenheid en was ’n herhaalde tema.”

In haar boek The End of Whiteness: Satanism and Family Murder in Late Apartheid South Africa (2018) haal Nicky vir Jonker aan waar hy aan die Weekend Argus onder meer sê: “... Satanism is rife countrywide and whoever is behind it is running a top-class organisation.”

Nicky sê daar is nooit klinkklare bewyse van enige georganiseerde beofening gevind nie.
“Kyk, ek sluit dit nie uit dat groepies rebelse tieners glasie-glasie gespeel en hul kamer swart geverf het nie. Sonder twyfel was, en is, kindermolestering oral in die samelewing ’n probleem.

Dieremishandeling is ongelukkig oral ’n realiteit. Mense maak mekaar dood. Maar daar is bloot geen bewyse dat grootskaalse, georganiseerde satanistiese kringe die sosiale septer geswaai het nie.”

Sit dit af!
Tiener-wees en die sogenaamde tekens van satanisme oorvleuel soms. Die TOD se “gevaartekens” van destyds tiek byna al die blokkies van grootword, sê Nicky: Gevoelens van rusteloosheid, vrees, eensaamheid, angs, depressie en jaloesie en ’n behoefte aan ’n magsgevoel.

Ook ’n belangstelling in seks, rebellie en eksperimentering met alkohol en dwelms, om nie eens van swart klere, fantasie-rekenaarspeletjies en ’n smaak vir heavy metal en rock te praat nie.

“Musiek was veral ’n netelige kwessie, omdat dit ’n belangrike deel van ’n tiener se lewe is,” sê Nicky. “’n Groot deel van die vrees om satanisme het tot uiting gekom in die bekommernis oor Amerikaanse en Europese rockmusiek.”

Staples het onder meer geskryf sekere soorte musiek – spesifiek rock- en popmusiek – “fasaliteer” satanisme deurdat die luisteraar in ’n semi-hipnotiese staat die lirieke “absorbeer”.

Dit sal uiteindelik tot ’n persoonlikheidsverandering lei, het hy gewaarsku.
Dr. Rodney Seale was daardie jare ’n bekende gesig by skole en kerke.

In sy boek Rock musiek: Die reg om te weet vaar hy uit teen ’n rits kunstenaars – van Bette Midler tot John Denver – wie se musiek kwansuis ’n morele bedreiging sou inhou.

Iets groter
Of dit nou ’n spirituele, psigologiese of sosiale kwessie is, dit gaan gepaard met tieners wat seer het en soek na liefde en aanvaarding.

Stories van satanisme, sê Nicky, is byna altyd ’n reaksie op wydverspreide sosio-ekonomiese en sosio-politieke stressors.

“Die satanisme-alarm het plaasgevind binne ’n konteks van alledaagse onsekerheid, politieke onrus en ’n bedreiging van identiteit.

Sensuur se dae was getel en die staat-kerk-gesinstruktuur was besig om te verbrokkel. Die val van apartheid was soos die val van die

Berlynse Muur: Dis verwelkom, maar ook gevrees.

“Die satanic panic was daadwerklik gekoppel aan die sosiale en politieke belangrikheid van die Afrikaner- Calvinistiese kerke en wat dit beteken het om ’n wit Suid-Afrikaner te wees.

“Die destydse invloed van Calvinistiese Christendom op die identiteitsvorming van ’n Afrikanernasie, en op apartheid as instelling, gee vir ons baie leidrade.”

Vrees vir ’n hoogs onseker toekoms is verplaas na die duiwel, die argetipiese vyand van die Christendom. Die duiwel word ’n gedeelde vyand, ’n figuur wat die jeug – die toekoms! – van ’n nasie bedreig.

Met die koms van ’n nuwe Suid-Afrika het die sataniste meestal saam met die koerantopskrifte verdwyn, sê Nicky. “Satanisme het sy doel gedien.”

“Ek was een van hulle”
“Elke generasie het maar sy issues met tieners en jongmense,” sê Adele Vrey, ’n berader by Aserac, ’n organisasie sonder winsbejag wat slagoffers van sistemiese mishandeling en trauma steun.

Dit sluit geloof en kultus, waaronder satanisme en die okkulte, in.

“Baie ouers sukkel om die oorgang van kindwees na tiener-word te aanvaar. Gehoorsame seuntjies en prinses-dogtertjies word almal uiteindelik tieners, met die gewone tiener-nukke en -grille. Meestal het die ‘duiwel’ meer met hormone as met demone te doen!

“Satanisme is nie ’n nuwe verskynsel nie. In die 1980’s en 1990’s het dit net meer lugtyd gekry omdat die media op die bandwagon gespring het. Dit was tóé real en dit is nóú ook.”

Adele, skrywer van Bloedoffer: Uit die donker onderwêreld van satanisme tot ’n lewe van vryheid deur die bloed (2014), is van kindsbeen deur familie-lede aan die okkulte blootgestel.

Teen die tyd dat sy gematrikuleer het was sy diep by satanisme betrokke. “Ek het ’n hoë vlak in die coven [heksevergadering] bereik en ek was deel van daai rituele waarvan almal in die 1980’s en 1990’s gelees het.”

Sy vertel hoe sataniste mekaar uitken deur sekere juweliersware te dra en elke vergadering se lede het hul eie handgebare. Sataniste is mal oor bloedoffers en sal sórg dat daar nooit bewyse is nie, sê sy. “Dis nie so moeilik om ’n straatkind te ontvoer of mense te koop deur human trafficking nie. Niemand gaan hulle mis nie.”

Die keerpunt het in 1995 gekom toe sy in opdrag van haar heksevergadering probeer het om die pastoor Marc Bredenkamp, wat uitgesproke teen satanisme is, se seun te ontvoer om hom te offer. Sy was 19.

Op 23 het sy by Aserac betrokke geraak. “Ek het die polisie gehelp met advies oor hoe om okkulte-misdade te interpreteer; waarvoor om op die uitkyk te wees,” sê Adele.

“Net omdat satanisme nie meer hoofnuus is nie, beteken dit nie dit bestaan nie. Ek werk met mense wat dieselfde stories as ek het, wat dieselfde rituele beleef het.”

’n Leraar praat…
Vir my veertigste verjaarsdag het ’n goeie vriend vir my ’n langspeelplaat van AC/DC se bekende album Back in Black gegee.

Albei van ons het grappenderwys beplan om uiteindelik vir onsself uit te vind of dit inderdaad ’n boodskap van Satan speel wanneer die plaat agteruit gespeel word.

Ons is immers kinders van die jare tagtigs toe daar om elke hoek en draai ’n duiwel geskuil het in rockmusiek, kougom, stywe jeans en lang kuiwe. Wanneer lidmate my nou uitvra oor die duiwel en okkulte, dan verwys ek hulle eerste na CS Lewis se tydlose boek Screwtape Letters.

Lewis verwoord daarin twee foute wat mense maak rakende die bose. Ons is óf te traak-my-nie-agtig daaroor of gans te behep daarmee.

Vir die volwasse Christen is die uitdaging tweeledig. Eerstens om die bose nie te sien as die ewewigtige teenpool van God nie, maar in Christus onderworpe aan God se eindelose heerskappy.

Tweedens het Christene nodig om met geloofsonderskeiding te leef ten opsigte van dit wat gebreek en boos is in hierdie wêreld.

Ons is ongelukkig te dikwels besig om die duiwel te soek in kuns, musiek en strokiesprente, instede daarvan om die ware booswigte en booshede van ons tyd aan te spreek. 
– Fourie Rossouw is leraard by Strand-Noord NG Gemeente.

DEUR ANJA VAN DEN BERG

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://adobe.ly/2Q46QbE of https://atkv.org.za/taalgenoot.