Skip to the content

'Ek is nie heilig oor my skryfwerk nie' – Zelda Bezuidenhout

Zelda Bezuidenhout se talente ken geen perke nie. Dié gewese kopieskrywer skryf die Afrikaanse jeugboekwêreld aan die brand – maar dis nie waar haar vaardighede en aspirasies stop nie. Taalgenoot het met haar gesels.

Wanneer het jy begin skryf?

Op universiteit in Potchefstroom het ek by die studentekoerant (Die Wapad) gewerk en ’n weeklikse rubriek genaamd “Krummels in my bed” geskryf. Baie jare later het ek gehoor dat sommige studente dit spottenderwys “Kêrels in my bed” genoem het. (Wat baie ironies is, want ek was beslis die koekigste meisie op die kampus.)

Ná universiteit is ek gekies vir ’n internskap by ’n bekende reklame-agentskap in Johannesburg en het daarna vir meer as dertig jaar in die reklamebedryf as tweetalige kopieskrywer gewerk. Mense dink ek is ’n ou tannie wat “van nêrens nie” gekom het en skielik begin skryf het. Maar dis nie so nie. Ek skryf al vandat ek 21 was vir ’n lewe. My eerste boek (’n jeugroman) het ek egter eers op 56 geskryf.

Het jou werk in die reklamebedryf jou vaardighede geleer wat jy kan toepas as skrywer?

Ek dink nogal so, ja. Ek neem spertye ernstig op, ek skryf baie vinnig en het altyd my teikenmark in gedagte wanneer ek skryf. Ek is ook nie bang vir kritiek nie. As ’n uitgewer nie van iets hou nie, doen ek dit oor en oor totdat hulle gelukkig is. Ek is nie heilig oor my skryfwerk nie.

’n Kunstenaarsvriendin van my reken ek moet regtig probeer om ’n bietjie méér heilig daaroor te wees. Maar ek sukkel. Dis immers net woorde, wat vervang kan word deur ander woorde. Sy sê kunstenaars sal nooit só met hulle kuns laat inmeng nie. Dan lag ek net skalks en drink sterk koffie.

Dit het wel een keer gebeur dat ’n uitgewer vir my gesê het daar is geen salf aan my manuskrip te smeer nie. Sy wou dit nie hê nie, en klaar. Ek het oor en oor gevra: wat moet ek verander, wat moet ek herskryf? Sy het net haar kop geskud en gesê, begin oor met iets nuuts. Ek het gevoel soos Dustin Hoffman in die fliek Tootsie. Onthou jy hoe hy tydens die hoeveelste oudisie gesê het, “But I can be black! I can be a woman!” Ek is ’n groot pleaser.

Hoe voel dit om jou storie te hoor op radio? Laat dit jou anders dink en voel oor die karakters?

As kopieskrywer was radioflitse my eerste liefde. Ek het altyd gesê dis omdat ’n mens nie spelfoute oor die radio kan hoor nie, maar eintlik is dit omdat ’n mens as skrywer jou absoluut kan uitleef op die lug. Daar is baie min dinge wat jy nié oor die radio kan doen nie. En jy word nie aan bande gelê deur ’n beperkte begroting nie. Jy kan jou karakters in Lamborghinis laat rondjaag of op Mars laat dans, en dit gaan jou nie meer geld kos nie.

My radiodrama “As ’n kind kom kuier” wat op RSG uitgesaai is, was vir my baie spesiaal. Die vreemdste ding is dat ek elke rol geskryf het met presies die stemkunstenaar wat op die ou end daarvoor gekies is in my kop. Ek jok nie vir jou nie! Ek kon dit nie glo toe Kobus Burger vir my die rolverdeling stuur en dis presies die stemme wat ek in gedagte gehad het nie.

Koppelkat, wat ek saam met my vriendin Lunéll Kruger geskryf het, was Media24 se wen-luisterdrama in 2020. Ek en Lunéll is al amper 30 jaar vriendinne en ons het die projek binne vyf dae klaargemaak om net-net die sperdatum te maak. Ons het in daardie vyf dae so gelag, dat dit soos ’n spa-behandeling gevoel het. Ons was lig en vrolik. Wen het nie eens meer saakgemaak nie! Maar ons was natuurlik histeries gelukkig toe ons wel die goeie tyding kry.

My jeugroman Toe ons oneindig was, wat op die oomblik so gevoelvol deur Izel Bezuidenhout (nee, ons is nie familie nie) voorgelees word op RSG, kry beslis vlerke op die lug. Dis vir my heerlik om te hoor hoe sy my verhaal inkleur met haar lieflike, jeugdige stem. Sy het absoluut vir my die hoofkarakter en verteller, Kara Immelman, geword.

Hoe bly jy in voeling met die jeug en tendense?

Al my jeugromans, met die uitsondering van Die 3 van ons, wat vir jonger kinders bedoel is, is geskryf oor tieners wat so oud is soos ons dogter Mia was terwyl ek die boeke geskryf het. Dit het my baie gehelp om die geite en taal van daardie spesifieke ouderdomsgroep vas te vat. Mia het pas 20 geword. Ek wonder of ek weer so oortuigend in tienerkoppe sal kan inklim noudat sy nie meer een is nie.

Sal jy ander genres ook oorweeg?

My eerste roman vir volwassenes, Die dekonstruksie van Retta Blom (Kwela 2019), was ’n heerlike projek. Ek het intussen ook die draaiboek daarvoor geskryf. Covid-19 het vir eers ’n stokkie vir die maak van die fliek gesteek, maar ’n mens weet nooit wat in die toekoms gebeur nie.

In Augustus word my nuwe boek vir volwassenes deur Kwela uitgegee. Die titel is Die waarde van stil bure en dis ’n mediese spanningsroman. Ek het al ’n hele spul kortverhale geskryf – vir die jeug, vir grootmense en onlangs selfs ’n kortverhaal vir Leonie van Rensburg en Sophia Kapp se erotiese bundel Lyfskap. Ek skryf die gewaagde goed onder my skuilnaam, “Louise Lategan”, bloot omdat ek ook vir jong kinders skryf.

Ek het selfs my hand aan vertaling begin waag – dis iets wat ek baie in reklame moes doen, maar laas jaar het ek vir die eerste keer boeke begin vertaal. Eers het ek my eie jeugroman As mens geluk kon proe met die hulp van Cindy Phillips en Lunéll Kruger in Engels vertaal. Dit word in September 2021 deur Penguin Random House uitgegee as Confessions of a Ginger Pudding. Daarna het LAPA Uitgewers my gevra om bekroonde Suid-Afrikaanse jeugboekskrywer Sally Partridge se wonderlike boek Sharp Edges in Afrikaans te vertaal. Dit was weer ’n spanpoging saam met Lunéll en die Afrikaanse weergawe van die boek, Skerwe, het pas verskyn.

My ideale werk sou wees om saam met ’n span skrywers aan ’n situasiekomedie soos Modern Family of The Big Bang Theory te werk. Ek dink dit sal glad nie soos werk voel nie. In hierdie loopbaanfantasie van my, is daar altyd ’n groot skinkbord vol doughnuts en soetgebak in die middel van die tafel. En Paul Rudd sit langs my.