Skip to the content

Gedagte vir Sondag: Kerspapierverlange

Haar Kersinkopies is reeds in Oktober gedoen. Sy verpes oorvol winkelsentrums. Sy hou van haar lysies; meer die afhandel daarvan as die spesifieke items.

’n Winkeltrollie met ’n wiel wat wikkel, is vir haar ’n boetiedood. Sy ken elke ry. Sy mors nie tyd in ’n supermark nie.

By die huis het sy kaste vol geskenkpapier. Herwin dit al jare lank. Sy het dit mooi opgedeel in papier wat pas by kleinkinders en papier wat pas by volwassenes.

Sy hou nie van die geskenksakkies met die toutjies wat deesdae deur die jongmense gebruik word nie. Dis sommer luigatgeit. ’n Geskenk moet opgemaak word.

Dis immers deel van die opwinding van Kersdag. Kerskaartjies moet klein wees. ’n Mens moet dit met kleefband kan vasplak sonder dat dit onnet lyk. Sy skryf altyd in hoofletters. Haar Kerskaartjies is kort en saaklik:

“AAN KLEINBOET.
GESEËNDE KERSFEES.
VAN OUMA.”

As al die geskenke oopgemaak en almal doenig is met hul eie skatkis van speelgoed en mooigoed, dan maak sy die papiere bymekaar.

Sy versamel dit as teenvoeter vir die verlange. Die kinders se geskenkpapier is selde nog in ’n herwinbare toestand, maar sy maak dit steeds bymekaar.

Dis eers wanneer sy by die huis is, tussen Kersdag en Nuwejaar, dat sy die geskenkpapier sorteer.

Die papier met die rooi Kersvaders gooi sy summier weg. Sy’t nog nooit vatplek aan dié koddige vetgat gekry nie.

Dis die papier met die Bybel-karakters en -tonele wat haar gunstelinge is. Sy bêre dié met die skaapwagters vir haar seun.

Hoe koddig het hy nie in sy pa se kamerjas gelyk doerie jare toe die nuwe dominee se vrou ’n Kerstoneel met die Kinderkrans opgevoer het nie.

Kersfees is die enigste tyd van die jaar dat sy nog aan God dink. Sy bid al jare lank nie.

Sedert haar man oorlede is, amper 15 jaar gelede, het haar gebede opgedroog. In die tyd van sy siekte het sy haar voor die Here leeggebid.

Al haar woorde vir Hom is nou op. Tog, elke jaar vang dit haar hoe maklik die gedagte aan die Here gedurende hierdie tyd by haar kom vatplek kry.

Dit het heel moontlik te doen met ’n mengsel van stories, smake en ou, bekende melodieë wat al van einde November oor die draadloos begin speel en op die tydskrifte se resepbladsye verskyn.

Wanneer sy met haar motortjie buite die kerk stop, lei haar voete haar na dieselfde kerkbank waar sy en haar man vir jare gesit het – eers net hulle twee; later saam met hul kinders; en heelwat later weer op hul eie.

Sedert die eerste Sondag ná sy begrafnis het sy nog nooit weer daar gesit nie, behalwe elke Kersdag.

Dit verras haar altyd as sy ’n jaar later weer in die kerk kom en sien dat die kerkbank leeg is. Iets in haar hoop dat dit die hele jaar leeg staan.

Soos die gat in haar hart waaraan geen man weer vatplek sal kry nie.

Kerstyd het egter die manier om haar hart effe te vermurwe.

Dit begin met die uitsoek van mooigoed vir haar kinders en kleinkinders; dan met die onthou van ou Kerspapier.

Terwyl die geskenke onder die plastiek-Kersboom in haar eenslaapkamerwoonstel lê, kry die storie van die Christuskind bietjie-bietjie lêplek in haar binneste.

Die leegheid raak effe voller. Die verlange begin anders voel – ligter; met meer hoop as hartseer.

Wanneer sy op Kersoggend met haar handsak en haar man se Bybel by die kerkbank inskuif, buig haar hoof amper outomaties in gebed.

’n Sug, meer as iets anders; tog diep in haar wese ’n gebed; erkenning van die teenwoordigheid van die oënskynlik afwesige Here. “My God,” is al wat sy uitkry onder die gesug van haar verlange. Êrens tussen “Al was ek nie daar nie” en “Stille nag” bedaar haar binneste.

Later die dag, wanneer die eerste kleinkind sy geskenk van Ouma oopmaak, is dit of sy nog nooit verlies geken het nie.

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif gratis.