Skip to the content

Ma-wees vir eers op ys

Wanneer ’n vrou al 30 of meer kersies op ’n verjaardagkoek moes uitblaas kry familie, vriende en kollegas soms ’n nuk en sê: “Wanneer gaan jy dan kinders kry?”
Landi Fourie het die grootste deel van haar 30’s dié vraag gespaar gebly.

Sy was so besig om haar op akademiese en beroepsgebied te bekwaam dat mense nie aan haar as ’n ma gedink het nie. Die doktorsgraad is behaal en die korporatiewe leer uitgeklouter totdat sy vennoot geword het by die firma waar sy werk.

Dit was eers toe sy “aan die skadukant van 30” beland en haar ginekoloog daardie tergende vraag in alle erns aan haar stel dat sy besef het ’n vrou se uurglas van vrugbaarheid loop leeg. “Om te trou, kinders te kry en ’n white picket fence te hê was nog nooit boaan my doenlysie nie,” sê sy, “maar toe ek hoor dat die selvoorraad in my eierstokke by die dag kwyn en dat ek binne enkele jare onvrugbaar kan wees, wou ek in ’n angssweet uitslaan”.

Sy het, soos aanbeveel deur haar ginekoloog, by ’n vrugbaarheidskliniek gaan aanklop vir moontlike oösiet-krio-bewaring. Dié prosedure is beter bekend as eierselbevriesing. Dit behels dat ’n vrou hormoonbehandeling ontvang om as ’t ware haar eierselle te kan oes en in vloeibare stikstof te bewaar.

Al hoe gewilder
Dr. Marienus Trouw, ’n reproduksiespesialis by die Pretoria Fertiliteitsentrum, het die afgelope jaar ’n toename in navrae oor bevriesing opgemerk. Dit staan ook bekend as elektiewe of sosiale eierselbevriesing.

Hy glo die groter vraag word nie net deur die Covid-19-pandemie aangevuur nie, maar sluit aan by ’n geleidelike wêreldtoename die laaste tien jaar in die gewildheid van hierdie prosedure.

“Meer vroue raak bewus van dié opsie en begin vroegtydig daarvoor beplan en finansiële voorsiening maak,” sê Marienus. “Vroeër jare was die prosedure uitsluitlik ’n indikasie vir spesifieke mediese diagnoses en moontlike verlies van fertiliteit. Boonop is daar oor die laaste jare ’n nuwe bevriesingstegniek ontwikkel, bekend as vitrifikasie, wat ’n groter kans op sukses bied. Dit het die vraag laat toeneem.”

Volgens die vrugbaarheidspesialis dr. Paul Roux, sekretaris-generaal van die African Federation of Fertility Societies (AFFS), is daar nog nie amptelike statistieke in Suid-Afrika beskikbaar oor sosiale eierselbevriesing nie.

Hy beaam eierselbevriesing het verlede jaar toegeneem, ook in die VSA, Australië en dele van Europa. “Dit is tydens die Covid-19-pandemietoestand, en die gepaardgaande inperkingsmaatreëls, moeiliker vir mense om nuwe verhoudings aan te knoop en lewensmaats te vind, omdat sosiale interaksie beperk is.”

Ook die direkteur van die Wijnland-vrugbaarheidskliniek in Stellenbosch, Lizanne van Waart, het die toename opgemerk. Sy glo dit kan toegeskryf word aan die feit dat baie vroue te midde van die inperking tyd gehad het om selfondersoek te doen.

“Dit is waar, sosiale eierselbevriesing hét toegeneem, maar ek dink dit is omdat die pandemie mense laat besef het hoe belangrik gesinne en families vir persoonlike welstand is,” sê sy. “Vroue het introspeksie gedoen en opsies vir selfverwesenliking ondersoek en dié wat kinders in hul toekomsverwagting sien, wou seker maak dat hulle wel kinders sou kon kry.”
Dr. Lizle Oosthuizen, vrugbaarheidspesialis by die Cape Fertility Clinic in die suidelike voorstede,

stem saam en voeg by: “Baie vroue het ook meer geleentheid en tyd gehad om die prosedure te ondergaan; ’n hele paar van die pasiënte wat die prosedure voorheen oorweeg het, maar dit uitgestel het, het in dié tydperk teruggekom klinieke toe.”

Die afname in werkdruk is aangedui as rede vir hul besluit, maar ook die vrees dat ekonomiese druk en die moontlike verlies van inkomste dit later onbekostigbaar sou maak.

Die prys vir wag
Om die pause-knoppie op die biologiese horlosie te druk kom teen ’n aansienlike koste. In Suid-Afrika beloop dit enigiets tussen R25 000 en R60 000 – en dit word nie deur mediese fondse gedek nie.

Daarby moet nog by die jaarlikse bergingstarief gereken word.
Volgens prof.

Igno Siebert van die Aevitas-vrugbaarheidskliniek in Kaapstad is die koste veral in die huidige ekonomiese klimaat ’n bydraende faktor daartoe dat die toename in sosiale eierbevriesing tydens die pandemie nie so skerp was soos in sommige ander lande nie. “In Suid-Afrika moet vroue uit hul eie sak vir die prosedure betaal, waarskynlik die hoofrede waarom ons hier nie dieselfde toename sien nie,” sê hy.

Lizle wys ook daarop ’n suksesvolle swangerskap kan nie gewaarborg word nie. “Eierbevriesing, soos in vitro-bevrugting, is geen waarborg tot swangerskap nie, maar dit gee jou ten minste meer opsies,” sê sy.

Vir Landi is laasgenoemde, en die gemoedsrus wat dít meebring, elke sent werd van die neseier wat sy daarvoor moes opoffer. Wanneer, en of sy die eierselle gaan gebruik, is sy nog nie seker nie. Die prosedure het haar wel in staat gestel om self die alarm van háár biologiese horlosie te stel. “As ek teen 45 besluit ek wil nie die eiers gebruik nie, sal ek dit skenk. Tot dan hoef ek nie meer veel oor sulke dinge te dink nie,” sê sy.

En, wanneer mense haar nou vra oor wanneer sy gaan kinders hê, kan sy sê: “Wanneer ék wil. Ás ek wil. Ek hou my eierselle op ys!”

DEUR MIA SPIES
ILLUSTRASIE: OCTAVIA ROODT

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://adobe.ly/2Q46QbE of https://atkv.org.za/taalgenoot.