Skip to the content

Misdaadtonele: Waar engele bang is om te trap

Mense sê misdaad betaal nie, maar dis nie ’n stelling waarmee Annrie Fowler sommer sal saamstem nie. Sedert Oktober verlede jaar is dié 44-jarige ma van Montrose ’n “bloedsuster” – eienaar van die Noord-Johannesburg-tak van Crime Scene Clean-Up (CSC).

Haar eintlike spesialiteit is die verkoop van sakestelsels. Die hulpbronbedryf waarin sy haar al sowat 20 jaar bevind, word egter al hoe meer deur reëls en regulasies verstrengel. Ter wille van ’n “gesonder” balansstaat moes sy noodgedwonge dié trae pas se frustrasie probeer teenwerk.

“Ek moes iets vind wat vinniger vrugte afwerp,” sê Annrie. In 2019 het sy ’n U-draai gemaak en die onderneming Ultimate Cleaning Solutions (UCS) begin, min wetende haar pad sou kruis met moordtonele, selfdoodgevalle en kompulsiewe opgaarders.

Haar kantoor nou misdaadtoneel
Nóú, vandat sy die stof van die korporatiewe gesloer afgeskud het, bevind sy haar letterlik in ’n nuwe gewaad – van kop tot tone bedek in persoonlike beskermingstoerusting (PBT). Annrie sê Covid-19-klakouse wat vasskop teen masker-dra het nie ’n idee waarvan hulle praat nie. Soos in die onlangse geval toe hulle bloed van ’n swaar houtmeubelstuk moes verwyder.

“Ons is uitgeroep na ’n toneel in Randburg waar ’n buurtwaglid ’n inbreker geskiet het. Die arme skepsel was erg gewond en het net daar beswyk, terwyl sy bloed om ’n bedpoot vloei. Ons het voorgestel om al vier pote met ’n sentimeter te verkort, maar gelukkig het die huiseienaar gevra dat ons net die een gedeelte uitsny – met ’n handsaag.”

Dit was ’n warm en bedompige dag, sê Annrie. “Dit het die oggend gebeur en sowat vier uur later toe is ons reeds besig om die toneel skoon te maak, erg aan’t sweet in ons hazmat (hazardous material) suits.”

Gelukkig hoef Annrie en haar vennoot nie altyd ten volle toegerits te wees nie. En nie elke toneel is misdaadverwant nie, sê sy. “Soms word ons uitgeroep deur eiendomsagente om huise skoon te maak waar mense vir jare lank goed opgaar. Dan trek ons net stofoorpakke aan.”

Selfs sulke gevalle kan die strengste voorsorgmaatreëls vereis om besmetting te voorkom, soos die keer toe ’n huis opgeruim moes word waar die inwoner gebruikte toiletpapier versamel het. Dié geval is sorgvuldig opgeteken in Vlees en bloed, waarin Riette Rust skryf oor die wedervarings van Roelien Schutte en Eileen de Jager, die oorspronklike “Bloedsusters” (sien kassie).

Vir Annrie is trauma nie ’n probleem nie – nog nie. “Ek’s nog nie so lank in die ding nie; het miskien nog nie genoeg gesien nie,” sê sy. “Ek sny myself af. Dis my werk. My man wil ook nie hê ek moet daaroor praat nie. Ek vat nie werk huis toe nie.”

Tog weet sy hoe om haar gevoelens professioneel te kanaliseer, ’n vaardigheid aangeleer deur jare in menslike hulpbronne. “Ek praat nie oor mense wat dood is nie. Ek praat met mense wat agterbly.”

Sy onthou onder andere ’n verslae vrou wat net met íémand wou gesels oor haar man wat vermoor is. “Maar selfs dít word nie van ons verwag nie. Ons help mense deur tonele so sorgvuldig moontlik te ontsmet.”

Dié skoonmaak vereis ’n kenner
Soos die geval van ’n jong man wat die dag voor Kersfees nog blakend gesond was, maar skielik dood is, klaarblyklik aan ’n hartaanval.

“Dit was die laaste dat iemand in sy familie met hom gepraat het. Vir langer as ’n week was hy stil en het niemand hom gesien nie; totdat die bure begin wonder het hoekom hy nie sy vullissakke uitsit nie.

Sy woonstel het ook begin stink. Vroeg in die nuwe jaar toe word ons uitgeroep na ’n tien dae oue ontbindingstoneel, net om sy oorskot op die bed aan te tref.”

In gevalle soos dié, sê Annrie, dien dit as afsluiting vir die familie as alles deeglik en met die regte chemiese middels behandel en skoongemaak word. “’n Skoon toneel is vertroosting, omdat niks fisiek agterbly om hulle te herinner aan wat gebeur het nie.”

Sommige naasbestaandes dink hulle kan sulke tonele sélf skoonmaak. Annrie onthou die geval van ’n slagoffer wat op ’n mat doodgebloei het. “Dis deur familie opgeruim en ’n versekeringseis is ingehandig wat die mat ingesluit het.

’n Paar dae daarna begin maaiers onder die nuwe tapyt uitkrioel, want bloed het tot in die haarfyn krakies van die sement ingesypel en begin vrot.”

Dit is een van die redes hoekom CSC se spanne altyd in pare werk, en hoekom hulle probeer om die skoonmaak van misdaadtonele te reguleer. “Ons gebruik middels wat eers ophou borrel sodra daar niks bloed oor is nie.

Boonop vee ons tonele skoon op ’n sekere manier om seker te maak ons besmet nie ander areas met patogeniese bakterieë nie. En terwyl die een deskundige skoonmaak, sien die ander een toe dat dit sorgvuldig gedoen word.”

Hulle reik ook ’n sertifikaat uit wat forensiese reiniging verseker, iets waarop versekeraars kan reken.

Sommige tonele, sê Annrie met nadruk, kan nie anders as om deur ’n deskundige skoongemaak te word nie. Soos die slaapkamer van ’n swaarlywige persoon wat aan eie hand dood is en so erg ontbind het dat sy verrottende selluliet en plasma deur die matras begin drup het.

“Ons moes meer as die helfte van die matras wegsny. Ek kan nou nog ’n decomp ’n myl ver ruik. Gelukkig is daar Vicks.”

DEUR EUGENE GODDARD
FOTO’S: ANDRÉ BADENHORST

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://adobe.ly/2Q46QbE of https://atkv.org.za/taalgenoot.