Skip to the content

Wenstorie: 'Jodi Piccoult, die rakpakker en ’n ma se hart'

Soms is dit normale mense wat op die lukraakste wyse oor jou pad kom wat jou lewe verryk en jou weer opnuut die lewe laat waardeer. 

Dís wat Rentia Burger, ’n onderwyseres van die Strand, besef het toe sy ’n boek by haar plaaslike biblioteek gaan uitneem het en iemand daar ontmoet het wat haar geïnspireer het om ’n storie te skryf.

Dit is juis toe dié storie, Jodi Piccoult, die rakpakker en ’n ma se hart, wat die ATKV se kompetisie ter viering van Suid-Afrikaanse Biblioteekweek gewen het.

Deelnemers moes ’n interessante verhaal oor ’n biblioteek deel en het die kans gestaan om ’n geskenkpak ter waarde van R1000 en die biblioteek ’n geskenkpak ter waarde van R2500 te wen.

“Toe ek die kompetisie sien, het ek besef ek het ’n verhaal oor ’n biblioteek wat ek kan inskryf,” sê Rentia.

“Die verhaal is eintlik ’n uittreksel uit my memoires. Ek het sommer my lewe vir die pret neergepen.”

In haar storie vertel Rentia hoe sy besig was om nuwe leesstof uit te snuffel toe sy vir Bongi Moss, ’n rakpakker van die Strand-biblioteek, in die gange raakgeloop het.

“Dit was ’n ongelooflike en onverwagse ontmoeting. Bongi het my diep geroer.”

Bongi het vir Rentia op die betrokke dag wat hulle mekaar ontmoet het ’n boek aanbeveel en Rentia het vir Bongi oor haar lewe uitgevra.

Rentia skryf roerend oor Bongi se grootwordjare, haar omstandighede by die huis en hoe ’n rakpakker by ’n biblioteek haar dag opgehelder het.

“Bongi het ’n groot indruk op my gemaak. Sy is hierdie saggeaarde vroutjie wat al baie in haar lewe getrotseer het, maar steeds bly sy moedig.

“Ek het net besef dat ons almal ’n storie het om te vertel en ek wou baie graag Bongi se storie vertel het, al was dit net vir myself.”

Rentia sê sy het nooit gedink dat haar verhaal ’n skryfkompetisie sal wen nie.

“Dit was eintlik net ’n persoonlike vertelling van daardie dag in die biblioteek. Ek het nooit gedink ander mense sal dit lees nie. Ek is in die wolke dat die ATKV my storie raakgesien het.”

En hoe voel Bongi daaroor dat sy ’n karakter in ’n kortverhaal is?

“Ek is baie bly daaroor,” sê sy.

“Ek het vir vyf jaar by die biblioteek in die Strand gewerk voordat ek hierdie jaar afgetree het. Ek was mal daaroor. Ek het gereeld van die boeke gelees toe ek daar gewerk het.

“Ek hoop dat die verhaal vir ander iets sal beteken.”

***

Jodi Piccoult, die rakpakker en ’n ma se hart

Op soek na ’n Jodi Piccoult-boek vind ek haar: die rakpakker in die Strand se biblioteek.

Sy kén lesers, want toe sy my sien draal voor die rak, haal sy ’n boek van haar trollie af en vra: “Maybe you would like this one?”

En sowaar, dis ene wat ek nog nie gelees het nie!

“Do you like her books?” vra sy en trek my net daar in ’n halfuur lange gesprek in. Ek vind uit dat sy, net soos ek, hou van hartsboeke. Iets wat waar kon gewees het. Iets wat jou onbeskaamd in die middernagtelike ure laat ruk soos jy huil, terwyl jy hoop jou lewensmaat word nie wakker en sien jou onbeskaamde inleef in ’n fiktiewe mens se leed nie.

Die rakpakker vertel my hoe sy en haar broertjie in ’n koshuis skoolgegaan het, sonder ’n sent sakgeld vir maande lank. Eenkeer het haar ma R2 (!) vir hulle gestuur (sy is ’n bietjie ouer as ek – geld was meer werd in daardie dae).

Sy en haar boetie moes mooi dink wat om te koop en besluit toe op ’n klein blikkie skoenpolitoer, ’n Sunlight-sepie (wat hulle in die helfte gebreek het) en ’n potjie Vaseline.

Die politoer en Vaseline het hulle elke dag heen en weer tussen die meisies- en seunskoshuis gedra sodat albei dit kon gebruik.

Nie lekkergoed nie. Nie ’n botteltjie Coke of iets vir ’n bederf nie. “If you struggle, it makes you stronger,” sê die lewenswyse vrou oorkant my.

Ek kyk haar van naderby: die donker vel van haar gesig soos leer met plooie wat jare se kommer uitlê, die grys haartjies wat haar ouderdomspoor verklap voordat dit onder ’n kopdoek weggekam is.

“Even now, when you struggle, it makes you stronger. You learn how to think creative.”

Sy vertel my hoe haar huisgesin van vyf verlede week moes eet aan ’n handjievol wortels, twee lemoenpampoentjies, ’n klein stukkie kaas en ’n paar tamaties. Sy lê haar innoverende spyskaart vir my só uit, dat ek amper daaraan dink om haar in ’n raadgewende hoedanigheid op spoedbel te sit (my kulinêre vaardighede is nog in hul babaskoene!).

Ons skerts oor hoe baie kos tieners kan eet, toe sy vertel van haar drie seuns wat sy grootgemaak het. Die jongste ene gee net ’n bietjie moeilikheid … Hulle wag nou vir ’n plekkie in ’n dwelmrehabilitasiesentrum om hom te help.

Dan kom soek Boetie my. Hy het klaar sy boeke gekies en is gereed om uit te neem. Ek groet die rakpakker en stap met Boet onder my vlerk na die toonbank.

Nou wonder ek: Hoeveel mense wat op die oog af ’n “goeie werkie” het, swem nie ook maar finansieel versuipslag nie? Hoeveel ma's dra nie ’n spesiale fronsplooi op hulle voorkop, aan een van hulle kinders gewy nie? Hoeveel van die gesigte waarby ons daagliks verbyloop, sukkel nie ook met die terminale toestand van ménswees nie?

As jy swaarkry, maak dit jou sterker …