Skip to the content

Die skryfwêreld se late bloomers

Dis nooit te laat om te begin skryf nie, bewys ’n hele paar ouer, vroulike skrywers. Inteendeel, kinders grootmaak en die lewe se stampe en stote het waarskynlik gesorg dat hulle met meer insig en waagmoed kan publiseer.

Oor mans se kaperjolle in die middeljare is boeke geskryf en die spot mee gedryf. Vroue se oorgang na die lewe se laaste bedryf ontvou meer diskreet. Tog waag ouer Evas toenemend in ink. Eers gevestig, kan skrywers en digters se ambagbeurs tot oudag bult al is baie vroue eers teen die middeljare ryp vir laat waai.

Evas met meer lewensondervinding se plekkie in die letterkundeson is tydig, want wyl die wêreldbevolking ouer word, baken jonger generasies die millennium fluks af. Aangevuur deur dryfkrag en die moderne versugtinge na roem en rykdom, woel jonges op die sportveld, verhoë en in die kuberruim. Ouer deelnemers raak dikwels eers middeljarig fiks vir die kunskryt en bly aktief tot laat.

Veterane se soepel skryfspiere wat steeds topverkopers baar, is Nobelpryswenner Alice Munro (90), Pulitzerpryswenner Anne Tyler (79) en die Spaanssprekende skryfdiva Isabel Allende (79). Australië se gesogte Miles Franklin Literary Award vir 2021 is toegeken aan Amanda Lohrey (74) van Tasmanië vir haar roerroman The Labyrinth, terwyl Louise Erdrich (67) met vanjaar se Pulitzerprys vir Letterkunde bekroon is. Met haar wenroman The Night Watchman tap sy uit eie inboorlingbloed oor haar oupa se rol in die Indiane se diskriminasiestryd midde-in onstuimige Yankpolitiek.

’n Topverkoper ná 60!
Woordkuns gee vroue se emosionele pyn en groei weergaloos weer. Ook plaaslik het heelwat ouer vroulike skrywers in die laaste jaar gedebuteer, of sit suksesse voort. Dit bevestig Evas koes teen die middeljare nie meer nie en lewer pragprosa of -poesië, in ligter of gewigtiger trant. In fiksie en nie-fiksie word skryf uitlaatklep en tonikum, selfs traumaterapie om sin te maak van persoonlike plek binne ’n omgekrapte wêreld.

Die Kaapse skrywer Juliana Coetzer se opvolg op Bloedvreemd, getiteld Die kind se naam is Anneke het vanjaar verskyn, terwyl Matty Strydom van Johannesburg se debuut Hier waar ek nou is (deels memoir, deels reisverhaal) ook nou op rakke pryk. Dr. Anita van der Walt van die Moederstad se digbundel Hierdie Maandag is abstrak is vanjaar deur die nuwe uitgewers Turksvy bekendgestel.

Eweneens skyn ouer Evas se inkster die stoutste in die groeiende Afrikaanse skryfmark vir volwasse leesstof, soos sestigplusser Anna-Marie Koen van Worcester bewys. Dié oudsielkundige werk aan die opvolg van haar trefferdebuut Gulpflerrie (2019) met ware seksstories van professionele vroue. In Smultril vir velhongeres (voorlopige titel) lig sy die lakens op professionele mans se seksfantasieë.

Ouer vroulike joernaliste is al jare lank voorslag-rubriekskrywers (Joan Didion, Anna Quindlen en ons eie Cecile Cilliers, haar sus Madelein van Biljon en Marita van der Vyver). ’n Nuwe stem in die genre is woestynvrou Wini Esterhuizen van Koës in die Kalahari. Dié sosialemediaster se skerp aanlyn skrywes word opgeslurp en het laas jaar oorgespoel in ’n debuutbundel, Die dag toe ons Krismis gaan soek het.  

Skryffoendie Deborah Steinmair (59) was self ’n late bloomer. Die boekredakteur/vryskutskrywer by Protea Boekhuis in Pretoria was 41 toe haar digbundel, A See-through Suitcase, in 2003 op die rakke was, gevolg deur haar debuutroman Marike se laaste dans (2010).

Deborah wil glo vroue se kunsprestasies stu die breër stryd om gelyke geslagsberegtiging. “Eens moes vroue onder hul eggenoot se naam skryf. Ons het ver gestap en stap steeds. Vroue doen dit nou self.”

Teen die middeljare is Evas skryfgereed. “Vroue moet vele struikelblokke oorkom voor daar tyd vir skryf is. As enkelma het ek tot drie beroepe beoefen om die pot te laat prut. In die braak jare is jy ’n spons wat alles opgaar … daarna het jy materiaal vir ’n leeftyd,” vertel Deborah.

Hulle is dan meer outentiek ook. “Vroue word al hoe minder lus vir winkelversierings en nonsens. Menopouse maak jou briesend en ongedurig. Jou vaardigheid is vir dekades geslyp, selfs al het jy nie gepubliseer nie. Met die kinders uit huis het jy skielik meer tyd en ’n koker vol pyle. Jou humor het uitgedroog,” sê sy.

Kollegas wat haar inspireer, is Ingrid Winterbach, Marlene van Niekerk, Joan Hambidge, Marita van der Vyver, Lien Botha en Gerda Taljaard.

Prof. Amanda du Preez (56) van Tukkies se visuele kultuurstudies stem saam samelewingsrealiteite pootjie vroue vroeër. “Eers met die kinders uit die huis het vroue tyd vir eie belangstellings.” Ouer mense se letterkundesukses kan ook die gevolg wees van die skryfkuns onder druk weens nuwe kommunikasiemaniere. “Die visuele, sosiale media se bites en podcasts is vermoedelik gewilder by die jonger geslag.”

Amanda wys daarop dat die fokus en reëls van die gelyke beregtigingstryd verskuif het “van vroue na die ander geslagte LGBTQIA+”. Dit het onlangs in die openbaar oorgekook nadat transgenders die Harry Potter-skepper JK Rowling van transfobie beskuldig het oor haar standpunt dat daar wel iets soos ’n vrou is.

Self verslind Amanda alles van Ingrid Winterbach en “is nuuskierig oor Lien Botha se nuutste publikasie”. Sy en Deborah is hoopvol dat ouer, vroulike skrywers binne ’n voorkomsgerigte era op werkmeriete beoordeel word. Amanda is onseker “of van skrywers verwag word om nie glamorous te wees nie”. Deborah is meer beslis: “Als wat vir skryf ervaar moet word, maak jou oud. Jy is te gefokus om ure aan grimering en modes te bestee, jy lees eerder.”


Die regte tyd
Taalonnie Matty Strydom (60) was juffrou by van Johannesburg se Duitse Internasionale Skool tot in Kuching, Borneo en Longshan, China. Haar talente as tuisteskepper, entoesiastiese reisiger en gulsige leser rank deur haar debuutwerk.

“Reis en skryf is nog altyd my pasmaats,” vertel dié Marquard-boorling. Haar gesin het met sabbatsreise meermaal in Heidelberg, Duitsland, gewoon. “Die briewe van daar aan my ma was kronieke van Europese reise.”

Matty meen ’n ma is ’n “jongeleur vir minstens twintig jaar” waartydens eie tydverdrywe met oorleg geskied. Vir haar kom die lewe as legkaart mooi in visier teen die middeljare. “Om te debuteer het nou eers inmekaar gepas. Met ’n bont, vol legkaart is die verwysingsraamwerk groter. Eietydse jonger vroue skalpel waarskynlik skerper en meer doelgerig, maar ons sny sagter, delf dieper en gee wyer weer.”

Sy glo onwrikbaar aan haar stem as vrou. Haar aangrypstorie vertel van helingsreis(e) ná harde lewenshoue, insluitende die selfdood van haar jongste dogter. Sy haal die Kanadese skrywer/digter Anne Michaels aan: I read to hold another human being close. “Met skryf hou ek die vliet van my eie lewensreise vas. Met my boek wat uit joernale ontstaan het, koester ek my kind wat vroeg weg is.”

Elsa Joubert is ’n leesgunsteling. In Reise van Isobel wat sy op 73 gepen het, vang sy Afrikaanse vroue se pad deur ’n eeu vas. En volg dit twee dekades later op met Spertyd, ’n memoir oor oudwees.

Wini Esterhuizen verklap sy en die skryfgogga is medepelgrims van ouds. “Eers het ek vir my laai geskryf en buite dit moes my elmboog als toehou, weg van vreemde oë. LitNet en Facebook het gehelp dat ek my elmboog lig!”

Op 66 is sy ’n bietjie dapperder en vrees kritiek en verwerping minder. Soos ander ouer Evas wat skryf, is Esterhuizen eers deur die lewe gelouter voordat sy “die moed gehad het” vir publiseer.

Dié ongekunstelde plaasvrou skep ewe fyn kuns van agter haar kameralense of voor die stoof. Oudword verander nie haar skryfstyl nie. “Skryf is nie koppelbaar aan jare nie. ’n Lang lewe lei dalk tot meer ervaring … hang af wat jy skryf.”

Wini steur haar g’n aan voorkomsvoorskrifte nie. “Deur letterkunde en kunste druk vroue stempels af, word gesien en gehoor. Dis belangrik. Kook ons kaalvoet in die kombuis is dit uit eie keuse!”

Wat die rooikopvrou wel mooi inkleur, is vriende en onbekendes se positiewe terugvoer oor haar debuut in grendeltyd, wat die pandemie versag het. “My seuns, Jaco en Kobus, se opgewondenheid het als die moeite werd gemaak.”

DEUR SONNETTE LOMBAARD