Skip to the content

Al vloekende al digtende

Afrikaans skrik nie vir swets nie. Maar hoort vloekwoorde en kruhede in die digkuns, waar woorde fyn gekeur en ekonomies ingespan word?

’n Joernalis weet hy betree ’n mynveld wanneer huiwering en stilswye ’n versoek om kommentaar begroet. Die eerste respondente vir dié artikel het weggeskram. Sommige het nooit geantwoord nie.
Die vraag was: Wat dink jy van kruheid en vloekwoorde in Afrikaanse gedigte? Al daai f-, p- en k-woorde.
Word dit misbruik vir die skokwaarde daarvan; om lesers uit ’n gemaksone te ruk oor ongemaklike realiteite? In fiksie en drama word kragwoorde algemeen aanvaar, maar vir vele lesers is die digkuns iets verhewe en selfs heilig. Voorts dikteer die bedenking dat (wit) Afrikaanses maar aartskonserwatief en religieus preuts bly.
Een kenner wou liewer niks oor die onderwerp kwytraak in dié radikaal politiek korrekte tye nie.
Om Antjie Krog se p-woorde te kritiseer kan ’n teenklag van seksisme ontlok; om te wys op Nathan Trantraal se rowwe taalgebruik kan as rassisme gesien word.
Laasgenoemde, wie se bundel Oolog vanjaar verskyn het, is verwonderd oor dié sensitiwiteit. “Dit verbaas my altyd dat mense geskok kan word deur vloekwoorde, veral in ’n land met so ’n wrede geskiedenis soos Suid-Afrika,” sê hy. “Ek vloek nie om die leser te skok nie, ek skryf nie om die leser te skok nie. Wat ek altyd probeer doen is om my eie ervarings op ’n eerlike manier uit te druk. As dit jou skok, sê dit meer oor jou as oor my. Dit sê vir my dat jy nie weet hoe die meeste mense in ons land leef nie.”
Hennie Meyer, wie se debuutbundel, Winkel van wanklanke, vanjaar deur Protea Boekhuis uitgegee is, sê weer: “Ja, ’n mens wil die leser wakker skok om bewus te raak van ’n kwessie, maar die uitdaging is om so kreatief te werk te gaan dat jy nie ’n vloek- of skelwoord gebruik nie, maar dat die woord in ’n gedig gesuggereer word. ’n Klinkende voorbeeld daarvan is die gedig van Breyten Breytenbach ‘om te vermy soos die pes’.” (Sien kassie.)

Uit die volksmond
Antjie (’n Vry vrou) stel dit pront: “Ek is altyd ’n bietjie verbaas as mense vrae oor vloek vra, of nog frons daaroor. Miskien val hul samelewings uit die wolke; miskien lewe hulle in ander tale, kyk ander programme, lees ander boeke. Sedert die weermag duisende en duisende jong manne opgeroep en deur middel van Afrikaanse vloekery geïntimideer en paraat gemaak is, druis Afrikaans om ons heen in ’n magtige vloekrivier.
“Die gedig van Tony Hoagland kom by my op waarin hy sê ‘dickhead’ was vir hom so lieflik dom en demokraties soos ’n hamer: ‘an object you could pick up in your hand / and swing / saying dickhead this and dickhead that / a song that meant the world / was yours at least / to bang on like a garbage can, / and knowing it, and having that / beautiful ugliness always / cocked and loaded in my mind, / protected me and calmed me like a psalm.’
“Ons vloek so dat ons eintlik beny word daaroor en talle van die Suid-Afrikaanse tale ons vloekwoorde oorneem – van gatvol tot f*kk*l.
“Nog altyd het elke generasie digters, van oom Lokomotief tot vandag se rappers, opnuut aanspraak gemaak dat hulle skryf soos ‘die mense praat’; dat jou gedigte uit ’n voormalige keurslyf breek. So, waarom op aarde sal ’n vloekende samelewing nie stem kry in die poësie nie? Ons skryf so vloekende, want ons leef so vloekende.”

Ongefilterd
“Wanneer taboewoorde herhaaldelik gebruik word, verloor hulle baie gou hul skokeffek,” sê die digter en vertaler Daniel Hugo. “Die digter ondermyn inderwaarheid sy of haar taal. By die soveelste f*k, p**s en p**l sug die leser verveeld. Dit skep ’n nuwe retoriek; dit maak clichés van kragwoorde.”
“Kruheid en vloekwoorde kry ’n bad rap,”sê Churchil Naudé. “Die titel van my digbundel Drol innie drinkwater was eintlik nie my idee nie. Daniel Hugo het dit aanbeveel. Dit is ’n lyn uit een van die gedigte in die bundel en dis perfek. Ek kan nie wát ek wil sê en hóé ek dit wil sê, deur filters sit net omdat iemand êrens ’n poep daaroor gaan kry nie. Dis nie kuns nie en ’n digbundel is ook nie ’n radiostasie wat doef-doef, poef-poef speel nie: ‘Kom ons sing vir hulle wat hulle wil hoor, want ons wil niemand ontstel nie.’
“As ek gedigte skryf, dink ek nie oor wie dit gaan lees nie, want die gedig lei my na waar hy wil gaan. Dis soos om ’n wag-’n-bietjie-boom te vra: ‘Hoekom is jy dan nie ’n olyfboom nie?’”
Daniel beskryf Churchil as ’n kletsrymer. “Sy taalgebruik word in ’n groot mate deur die aard van die genre bepaal: sosiale kommentaar wat nie doekies omdraai nie.”

Uitgewers is nie sede-bewakers
“Poësie is taal in die hoogste versnelling,” sê Deborah Steinmair, uitgewer by Protea Boekhuis. “Dis die konsentraat, die bitter droesems van woorde. Dit kan nie aan bande gelê word nie. In digkuns is elke woord ’n kragwoord, daarom is dit nie vir blourokke en bleeksiele nie. Dit verg moed. Daarom gaan ek nooit digters aan bande lê met voorskrifte van fatsoenlikheid nie.
“Protea Boekhuis skrik ook nie vir knope en swetswoorde nie. Ons is nie sedebewakers nie. Ons bemarkers vertel my wel dat boekwinkels soms noem dat vloekwoorde in byvoorbeeld Marita van der Vyver se boeke hul ouer lesers afskrik. Gelukkig of ongelukkig skrik digkuns as genre in elk geval die grootste deel van die leserspubliek af. Dit bring ’n sekere vryheid mee: die vryheid van die verstoteling en veroordeelde.”
“Ons sal nie sensuur wil toepas nie,” sê Carolyn Meads van NB Uitgewers. “In die geval van Nathan Trantraal is die gebruik van vloekwoorde uiters gepas, nie net omdat dit getrou is aan die digter se stem en die milieu waaroor hy skryf nie, maar ook omdat dit bydra tot sy deurlopende vermenging van ‘hoë’ en ‘lae’ kultuur – ’n onderskeid wat reeds deur die postmodernisme ongedaan gemaak is. In sy digkuns vind ’n mens nie net verwysings na klassieke literatuur nie, maar ook populêre flieks, musiek en comics. Sy digkuns is ryk aan intertekste wat betekenis oproep.
“By Kwela word digters en akademici as keurders ingespan en ons laat minstens twee verslae oor ’n digbundel skryf,” sê Carolyn. “Die norm is gehaltepoësie en ek dink nie dis iets wat verander het nie. Dit sluit in ekonomiese en kreatiewe woordgebruik wat diepte van betekenis oproep en die leser nuut oor bestaande verskynsels laat dink.
“Terloops, vloekwoorde of kru taal kom lankal in die digkuns voor. Vergelyk Peter Blum se ‘woknakwyf’ [1956] en Breyten Breytenbach se ‘laat die sluwe bitter eende op my graf kak / in die reën’ [1964].”

Die juisste woord
“Ek dink skryfwerk vereis die juisste woord en poësie soveel te meer, deels vanweë woordekonomie,” sê Johan Myburg, ontvanger van vanjaar se Hertzogprys vir Uittogboek.
“Die juisste woord is, soos ek dit sien, die woord wat kwalik vervangbaar is, wat ’n spesifieke lading dek en wat reg op die tong lê. Terugkykend ná baie jare kan ’n mens seker anders voel oor ’n spesifieke woord, gewoon omdat alles tentatief en tydgebonde is.
“Swets – ek weet nie of ek vloekgerig is nie – is deel van ’n woordeskat en ek sou nie huiwer om ’n woord uit daardie ‘register’ te gebruik as dit die juisste woord is nie. Daar is al gesê dat ek gebruik maak van ’n ‘laefrekwensie-woordeskat’. Ek sien dit nie só nie. Ek wil graag woorde gebruik wat die juiste én die juisste is. Of dit nou argaïsmes, leenwoorde, kragwoorde of anglisismes is.”

vermy soos ’n pes
kameraad: bly
buite bereik as jy kan
van die k-woord:
die kode vir kadders
en ander kaddas
wat praak en preel in die klei
van ons kasionele
kakhuis vir knopkoppe
of kwaak in die kotsbakke
wat deurgaan vir koerante

ons is immers ammel kens-
eners kleinserig vir koord en akkoord.

verwys na die kataklisme
van koringkrieke in die kantien
wat elke koning of kwien wil kraai
om op die kassie te kwapperjol
indien jy dit op die krop wil hê
of nie anders kan nie

of die karadys van kapers en katlagters
veral die kasarm vet katte gevoer
op coke en koek-sistas
en die kadawers van ons koorvaders

wees bly daar is nog koekemakrankas
om gesoek te word
boegoe en khoikhoikooigoed
vir die pluk in die klowe
boerkies vir katang of vang met kettings
bakvissies en broe’s vir bokjol en kapzella
bergies en koueboud kiep onder die brue

noem die kransformeerde makoeloe president
’n koespoes as dit moet
verwys na klote en klonte en kie.
en die konstitusie bekook deur kaputalistiese
kaapteins van die kapaatsoekers
en kosters

maar hou kop-onder-die-kombers
verby die kalamiteit van kobbejane
en hoes-koes bo die wind
van windgatte aan bewind

en kyk veral uit vir die kawoord
se doodskoot
(Ons Klyntji, 2019)
“Breytenbach lewer hier kritiek op die sensuur wat toegepas word in die gebruikmaking van die k-woord in hedendaagse literatuur.” – Hennie Meyer

DEUR SCHALK SCHOOMBIE
ILLUSTRASIES: LOUIS VAN DEN HEEVER

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif gratis.

comments powered by Disqus