Skip to the content

Liefde vir boeke die fokus van die Johan Combrink-gedenklesing

Van links is William Keet, Chareldine van der Merwe, Dominique Enthoven en Quinton Adams

Maak jou kinders lief vir lees en gee vir hulle genoeg tyd om te speel.

Dit was in ’n neutedop Quinton Adams, ’n opvoedkundige sielkundige, se boodskap tydens die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, se Johan Combrink-gedenklesing op die Ou Bethlemem-plaas te Kylemore, ’n dorpie nie ver van Stellenbosch nie.

Die plaas behoort aan die Enthoven-gesin.

Dominique Enthoven, wat aan Afrikaanse lesers bekend is as Dominique Botha, die skrywer van die bekroonde roman Valsrivier, het die verrigtinge geopen.

Sy het ook vertel dat die eerste eienaar van die plaas, Pierre Simond, ’n Franse Hugenoot, op daardie stuk grond ’n boek geskryf het. Die boek is in Europa uitgegee en die enigste kopie daarvan het agter die Ystergordyn verdwyn. Dit is eers weer opgespoor ná die val van die muur in Berlyn.

Gaste het onder die ou eikebome langs die geskiedkundige wynkelder gesit en na Adams, ook bekend as die “Shack Builder” se inspirerende stories geluister.

Adams spandeer baie tyd in ons armste woonbuurte. Hy werk met jonk en oud, gesinne en enkelpersone, om die gemeenskap op te hef.

Hy beveel aan dat onderwysers kinders moet toelaat om boeke huis te neem. Leesboeke.

Hy sê vir ’n jong kind is dit baie belangrik om te weet “ek is slim genoeg vir ’n boek”.

Aanvanklik is dit belangriker as om te lees. ’n Selfbeeld wat groei omdat “ek slim genoeg is”, doen reeds baie vir die kind se ontwikkeling. Dit sal hom/haar die selfvertroue gee om te probeer lees.

“Kinders wat lees se woordeskat brei uit en hulle kan gou sinne en vrae veel beter formuleer as dié wat nie lees nie.”

As sielkundige is Adams ook bekommerd daaroor dat kinders nie genoeg speel nie.

“Kinders moet growwe motoriese vaardighede ontwikkel om hulle liggame te leer om fyn motoriese werk, soos skryf met ’n potlood, reg te doen.”

Kinders wat nie speel nie, se ruimtelike selfbeeld is ook onderontwikkel en daarom sukkel hulle selfs met die posisionering van die boek se bladspieël.

Adams werk ook met ouer mense wat sukkel met lees. Een van sy groot projekte het begin in ’n skool in Mitchells Plain waar talle hardebaarde, vrygelaat uit Pollsmoor-gevangenis, moeilikheid gemaak het en die onderwysers radeloos gehad het. Die skade wat hulle aan die skool aangerig het, was teen die tyd wat Adams betrokke geraak het, reeds meer as R1 miljoen.

Toe begin Adams hulle betaal: R100 per boek wat hulle lees en vir hom kan opsom op ’n stuk papier.

Die eerste week was daar vyf wat hulle morrend by die Rebel Readers aangesluit het.

Ses maande later was daar 30 Rebel Readers en nie een venster is in daardie ses maande gebreek nie.

Vyf jaar later is 70 van daardie Rebel Readers as entrepreneurs betrokke by informele besighede waarmee hulle geld vir hulself en vir hul gesinne verdien.

Adams se grootste pleidooi is dat die regering weer onderwysers sal toelaat om beheer te neem oor hul eie klaskamers en om nie van leerkragte te verwag om so baie papierwerk te voltooi nie. Adams meen as gevolg van Covid-19 het papierwerk toegeneem, en klastyd word al minder.

“Ons moet kyk na die sukses wat Kuba behaal het met hulle leesprogramme.

“Kuba het onderwysers gevra om leesprogramme te dryf. Daar is dit nie sogenaamde ‘kenners’ wat leerkragte vanuit kantore probeer voorskryf nie. In Kuba is dit die onderwysers die kenners wat vir die owerhede vertel wat gedoen moet word.”

Een van die manier hoe die VVA help om ’n liefde vir lees te kweek en onderwysers se hande sterk te maak is deur die boektrommels wat die VVA aan kleuterskole en verdienstelike laerskole skenk.

Jy kan ’n blywende verskil maak deur ’n skenking aan die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek.

Jou bydrae – klein of groot – gaan die wêreld van woorde en stories aan kinders bekendstel.

Klik hier om ’n verskil te maak.