Skip to the content

Sophia Kapp: Die stilte waarin stories sterf

2020 was nie ’n goeie jaar vir introverte nie. Ons het verwag die ander klomp gaan swaarkry – die ekstroverte; die mense wat hul energie van ander mense kry; die luidrugtiges, die kletsers, die kuiergatte.

Ons het vir die nuusberigte gewag waarin hulle, masker in die een hand en ’n brandende fakkel in die ander, opruk na die Uniegebou of die parlement. Toe nie.
Die ding met ekstroverte is hulle weet hoe om in hul “mensbehoefte” te voorsien. Mense wat mense nodig het, hét mense. Die ekstroverte in my vriendekring het die inperking nie net oorleef nie, hulle het geblom.

Hulle het ’n kring geskep in die kompleks of in die buurt wat versigtig met die buitewêreld omgegaan het, maar steeds kom braai of kom koffie drink of kom verjaardag hou het.

Introverte versamel nie mense nie, hulle versamel goed. Teepotte. Boeke. Herinneringe. Baked beans. Introverte nooi nie, hulle wag om genooi te word. Introverte trek nie laer nie, hulle trek terug.

Kontak met hul huismense is moeilik, want ná dekades saam met die introvert het dié geleer om in hul kamer en ook in hul eie kop te leef.
Telefone werk nie, want introverte sê óf ja en nee óf vertel te lank aan ’n storie. Introverte skarrel ’n halfuur lank om hul rekenaar voor ’n wit muur te kry voordat hulle skype en op Zoom is die introverte die klomp wat met die kamera áf deelneem.
Vir ’n introvert-woordsmid soos ek is die afsondering nie net ’n uitdaging nie, dis ’n ramp. ’n Mens sou dink dié tyd het juis die geleentheid gebied om onbelemmer te kan skryf.

Maar stilte is nie ’n omgewing waarin woorde gedy nie. Stilte is geslote. Stilte is steriel. Stilte is dood.
En aan die einde van dié dooie jaar verloor ek my pa. Dis ’n simpel woord, daardie “verloor”. Hy is nie weg nie, hy is dood. Soos in stil, vir altyd. Die laaste skakel met my kinderjare, met my gesin en my familie, met die Vrystaat waarin ek my laaste storie kon laat afspeel, met my eie verlede. Met my eie storie. Al wat ek van hom oorhou is sy boeke. Hy was ook ’n introvert.

Op ’n dooie van dooie oggende dwaal ek deur die huis en ek haal lukraak een van sy boeke van ’n rak af. Met die aarde praat lê in my hande. Dit was een van sy gunstelinge. Voorin is daar ’n boodskappie van prof. T.T. aan my pa.
Ek slaan dit oop en sonder dat ek dit beplan het, spring die woorde van die vergeelde bladsy:

Die kosbaarste dinge swyg
in hulle verloop

Dit troos. En dit seën. Ek vind uit hierdie woorde – wat ek nie geskryf het nie; wat ek nie versamel het nie; wat nie weer deur hul skrywer of ontvanger gelees sal word nie – kan steeds weergalm. En ek weet: Iewers sal die stilte einde kry. Die afsondering sal einde kry.
Ek sal weer genooi word en ek sal deel wees van die laer. Ek sal weer kan zoom met die kamera áán en ek sal weer in die nag sug en die lig aanskakel en die karakters toelaat om vir my hul storie te vertel. En tot dan sal ek dankbaar wees vir die “kosbaarste kosbaarhede” wat ek nie verloor het nie:

asemhaal
die son se straal,
die klop van die gemoed en die wil
en die pols van die dink en die geruis van die geloof

DEUR SOPHIA KAPP

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en
lees die tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.