ATKV-DigiToneel se TOP 10 gaan skitter op TV
Die ATKV-DigiToneelkompetisie mag dalk nog in sy kinderskoene staan, maar sy deelnemers is afgerond, kreatief en word nie deur die uitdagings van die samelewing ingeperk nie.
Die TOP 20-semi-finaliste het die raad van die mentors ter harte geneem en nou kan ons met trots die TOP 10 aankondig.
Dis dan ook dié TOP 10 wat hul slag op televisie gaan wys.
Pietie Beyers, Fatima Abdool, Schoemé Grobler, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Lea Vivier, vanjaar se mentors, is dit eens dat dit sweet en fyn kyk gekos het om op die TOP 10 te besluit.
Deelnemers moes slegs nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe tema-wolk (kop, mondig, rebellie, sleutel, toekoms) inskryf en dan vir kamera verfilm.
Lea Vivier, aktrise en een van die mentors, besing die deelnemers se lof. “Ek is trots op die deelnemers en dit is pragtig om te sien dat selfs nie ’n pandemie en streng inperkingsmaatreëls die liefde vir drama en die kunste kon blus nie.”
André Gerber, senior dosent aan die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch en ook ’n mentor, meen dat die tieners se werk van hoogstaande gehalte is.
“Die verskillende maniere wat die deelnemers maniere gevind het om die storie visueel te vertel is uiters inspirerend.
“Die vaardigheidsvlak van die deelnemers se spel is verbysterend en dit maak my opgewonde oor die toekoms van die bedryf,” sê hy.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, vergelyk die gedissiplineerde en leergierige talent met sponse wat elke stukkie raad opsuig om hulself vir die industrie te slyp.
“Ons kan met groot selfvertroue en opwinding nou aan die TV-reeks verfilm. Ek kan nie wag om die jong talent met die land te deel nie,” sê JJ.
“Hierdie TOP 10 se werk gee hoop vir die industrie en is ’n bewys dat daar geen inperking van kreatiwiteit, innovasie en die liefde vir toneelspel behoort te wees nie.”
Die TOP 10 sal nou vir oulaas aan hul inskrywings skaaf voordat jý dit vanaf Maandag 4 Oktober om 18:30 in ’n splinternuwe TV-reeks van vier episodes, Gekies vir die Kollig, op Via (DStv-kanaal 147) sal kan sien. Verwag wegblaasoomblikke in elke episode en skakel weekliks in om te sien wie as vanjaar se wenner gekroon sal word.
Die nuwe ATKV-DigiToneel- digitale monoloogbundel met al die toptekste word ook in Oktober bekendgestel. Hierdie bundel sal gratis op die ATKV se webwerf afgelaai kan word.
Die TOP 10 is:
Ancois Bodenstein van die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein met Kop eerste-koebaai.
Bianca Janse van Vuuren van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria met Clarice-Marie.
Danielle Evans van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met Pakkies van Drie.
Edrócha Orr van die Hoërskool Tygerberg in Parow met Beskerming.
Elzaan Daniels van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad met My Future is Innie Verliede.
Karli Marais van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met Heg.
Kaylin Schafer van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria met Janeelia.
Kristen Fichardt van die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein met Pers.
Themelios Demas van Hoërskool Tygerberg in Parow met Dis mos wat pa's doen.
Zara van der Westhuizen van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch met K O P.
Hou die ATKV se webwerf en sosiale media dop vir meer oor die TV-reeks en die kykerskeuseveldtog waar kykers vir hul gunsteling kan stem en ook ’n wegbreekvakansie by een van die ATKV se spogoorde kan wen.