Skip to the content

Stigter van jeugtak woeker in Afrikaans in Viëtnam

Al woon Charmaine Marchman in ’n vreemde land met ’n vreemde taal, keer dit haar nie om haar moedertaal uit te leef nie, inteendeel, al bevind sy haarself deesdae in Viëtnam luister sy steeds RSG en kyk sy getrou 7de Laan.

“Vandat ek in die buiteland is, het ek al hoe meer besef dat jou taal jou identiteit bepaal,” sê Charmaine.

Charmaine het as onderwyser by die Alexander Road Hoërskool in Port Elizabeth die ATKV-jeugtak Annibrand gestig. Deesdae gee sy en haar man Engels in Viëtnam.

“As jy heeltyd gebombardeer word deur mense wat ’n ander taal praat, besef jy dat jy iets nodig het om jou mee te identifiseer.

Volgens Charmaine moet ouers nie Engels bo Afrikaans stel net omdat hulle dink dit is ’n universele taal nie.

“Om die taal te laat voortleef moet ouers besef dat Afrikaans sy volle reg in die wêreld het – net soos enige ander taal – en nie aan die agterspeen hoef te suig nie.

“Uit persoonlike ondervinding weet ek dat my kinders met hul Afrikaans as basis baie beter en makliker aanpas om ander tale aan te leer.

“My kinders doen Frans en Spaans as addisionele tale op skool en hulle vind dit baie maklik om te leer omdat die basiswoorde van albei tale Afrikaans in gemeen het. Hulle kan ook vlot met hulle Belgiese en Vlaamse vriende in Afrikaans praat.”

Selfs by die skool in Viëtnam waar Charmaine werk, probeer sy die kinders aan nog Suid-Afrikaanse tradisies voorstel.

“Ons het onlangs ’n internasionale dag by die kinders se skool gehou. Die tafels het gekreun onder melktert, koeksisters en biltong. ’n Suid-Afrikaanse maatskappy in Viëtnam het van dit gehoor en aangebied om ons volgende keer te borg en gevra dat ek al die Suid-Afrikaners in Viëtnam betrek.”

Behalwe dat Charmaine in die Ooste die taal en ons kultuur bevorder, is sy ook besig om ’n boek oor haar grootwordjare op Klapmuts – tussen die Paarl en Stellenbosch – te skryf.

“Die doel van die boek was aanvanklik net om my memoirs op te teken. Namate ek met mense van die dorp begin gesels het, het dit verander in ’n opname van historiese gebeure en leefstyle waarvan die nuwe generasie niks van weet of sal weet nie. Ek hoop om die boek gepubliseer te kry.”

Sy sê sy verlang na Suid-Afrika, maar die feit dat sy elke dag Afrikaans praat, bring ’n mate van vertroosting.

“Dit laat Viëtnam nie so vreemd voel nie. Dit is lekker om steeds voluit te kan lewe en Afrikaans te praat.”