Skip to the content

ATKV-jeugtakke: G’n virus kan die jeug stuit nie

Op Jeugdag word die fokus weer op die jong mense van Suid-Afrika gevestig, maar dit is ook die jeug wat die gevolge van die pandemie dra.

Skole is tydens die inperking gesluit, sportbyeenkomste was taboe en baie kon nie hulle maats sien nie, dit het hulle egter nie ondergekry nie en ten spyte van ’n dodelike virus, woeker hulle steeds in hulle moedertaal.

“Ons is veral trots op al ons projekte wat ons die afgelope jaar aangepak het. Ons het nie toegelaat dat ’n pandemie ons keer om ’n verskil te maak nie,” sê Karin van Wyk, voog van ATKV-jeugtak Volksmond.

Dié jeugtak is een van talle wat steeds ’n verskil in hulle gemeenskappe en skole gemaak het, ondanks ’n pandemie wat die wêreld lamlê.

ATKV-jeugtak Volksmond het in die afgelope jaar aanlyn taalkompetisies gehou, ’n fliekaand aangebied en beddens vir die plaaslike dierebeskermingsvereniging geskenk.

“Dit is nie aldag maklik om projekte in hierdie tyd aan te pak nie, maar steeds probeer ons en kry ons dit reg,” sê Karin.

ATKV-jeugtak Jacobsdal het ook in die laaste jaar nie gras onder hulle voete laat groei nie.

“Die tak wys dat dit tog lekker is om Afrikaans te praat. Veral noudat daar geen sport is nie, is die tak ’n tuiste vir baie kinders,” sê Mari Prinsloo, voog van die tak.

Hulle het onlangs die Woekerende Woordwedren aangebied wat geskoei is op die immergewilde realiteitsreeks, The Amazing Race.

“Die kinders moes uitdagings oorkom wat almal ’n Afrikaanse tema gehad het. Ons het byvoorbeeld ’n idioomuitbeelding gehad wat gesorg het vir groot pret.”

Die tak beplan ook om op Jeugdag ’n potjiekoskompetisie te hou.

“Baie van die kinders van die skool is in die koshuis en hulle kan nie in die middel van die week vir een dag huis toe gaan nie. Ons bied vir hulle ontvlugting en pret.”

Die ATKV-jeugtak Kareebokke moes ook aan vindingryke maniere dink om hulle projekte aan te bied.

“Ons het besluit om tegnologie in te span,” sê Lisa Schlechter, takvoorsitter.

Dié jeugtak het besluit om ’n talentkompetisie aan te bied.

“Ons het leerders gevra om hulle talente ten toon te stel en vir ons kort video’s in te stuur. Dit was baie pret, ons het nooit geweet daar is so baie talentvolle leerders nie.”

Die tak beplan ook om later vanjaar sopbestanddele in te samel en aan behoeftiges in die gemeenskap te skenk.

Lisa sê dit is vir hulle as jeugtak baie belangrik om sigbaar en aktief te wees.

“Ons skep ’n tuiste vir Afrikaans en vir kultuur, en kinders wat deel is van die tak help weer om die taal by hulle huis of gemeenskappe te bevorder. Die jeug is ons toekoms.”