ATKV-takke doen hulle naam gestand
Wat is in ’n naam? Gewoonlik gee ’n naam ’n aanduiding van wat ’n organisasie soos die ATKV of ’n ATKV-tak se doelwitte is – hulle visie en missie.
Boonop is hulle name in lekker Afrikaans wat sommer van die tong afrol.
Die ATKV-jeugtak Die Beiteltjies van Queenstown in die Oos-Kaap het hulle naam gekry danksy die bekende N.P. van Wyk Louw-gedig, Die Beiteltjie.
“Kinders wat in die Laerskool Hangklip aankom, word gewoonlik “Klippies” genoem en kinders in die hoërskool word “Hoërskoolklippies” genoem,” verduidelik Marius Botha, ’n voormalige voog van die jeugtak.
“Ons het met die idee begin speel van hoe sal jy klippies slyp en wou iets eg Afrikaans kry om met die jeugtak te vereenselwig. Dit is toe dat ons besluit het op die gedig deur N.P. van Wyk Louw.”
Die ATKV-tak Juweel in Graaff-Reinet het besluit om sy tak na hulle pragtige dorpie in die Klein Karoo te vernoem.
“Ons dorp staan bekend as die juweel in die Karoo,” sê Rosemary Koeberg, takvoorsitter.
Hulle het besluit dat hulle as taklede ook soos juwele wil skitter.
“Ons wil juwele in ons gemeenskap wees. Ons wil uitstaan en wys dat ons ’n verskil maak.”
En dit is juis wat hulle toe gedoen het.
“Ons het baie behoeftige mense in ons gemeenskap. Daar is baie armoede. Ons wou graag uitreik en die weerloses help.”
Die tak het al verskeie projekte aangepak om verligting in hulle gemeenskap te bring.
“Ons het aan 75 gesinne in die informele nedersetting klere geskenk. Ons was ook deel van Spar se skoenprojek en het meer as 50 pare skoene aan behoeftige mense geskenk.”
Die tak het ook onlangs toiletware en komberse aan haweloses geskenk.
“Ek dink ons doen ons naam gestand as ’n tak wat uitstaan en hulle medemens help.”
Die ATKV-jeugtak HSD Delf Diep by die Hoërskool Douglas het besluit om hulle skool se leuse aan te neem.
“Die leuse kom van al die diamante wat in die streek ontgin is,” sê Hannetjie Bruwer, destydse voog van die jeugtak.
Volgens Hannetjie spreek die naam van die jeugtak boekdele vir wat dié tak graag wil bereik.
“Om diamante te delf verg baie tyd en moeite. Net so, moet jy die tyd en moeite insit om ’n sukses van jou lewe te maak. Die jeugtak is ’n plek waar kinders met hulle talente kan woeker, hard kan werk en die vrugte kan pluk. Dit is absoluut wat die kinders doen. Hulle bring hulle kant en hulle wys dat die jeug van vandag hardwerkend en gemotiveerd is.”