Skip to the content

Die vreemdheid van toewyding

Daar is meer as een Charl-Pierre Naudé. Een stuur vir my ’n WhatsApp-boodskap met sy kantooradres in Johannesburg, die ander stuur ’n SMS om te sê hy het ’n WhatsApp gestuur. Daar is twee adresse in die WhatsApp-boodskap, wat lui: “Hi Bibi, hier is die adres. Dis ’n hoekerf, dus kan jy enige een van die adresse gebruik om by dieselfde plek uit te kom. Amper soos ’n gedig.”

Een Charl-Pierre Naudé is ’n bekroonde digter; nog een die skrywer van die 2018-roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey; ’n ander besig met sy doktorsgraad oor die werk van die Duitse filosoof Hans Blumenberg.

Ek besluit op een van die adresse en beland by ’n huis in Greenside wat twee identiese motorhekke het. Albei bied toegang tot dieselfde parkeerterrein en van daar lei ’n voetpad na ’n kantoor in die huis se agtertuin waar al die Charl-Pierre’e daagliks hulle brood verdien. Hulle drink almal graag tee.

“Ek’s ’n enorme teedrinker,” sê Charl-Pierre, hoewel hy met die eerste van twee blikkies gaskoeldrank doenig is. “Gewone tee met melk en suiker. Tee gee my ’n warm gevoel. Dit herinner my aan my kinderjare, toe daar soggens tee op ’n skinkbord bedien is, terwyl ons almal op my ouers se bed gesit het voor die dag begin.”

Charl-Pierre het in ’n stadium saam met Koos Kombuis in ’n huis gewoon en voeg by: “Koos het gesê hy het nog nooit iemand ontmoet wat so baie tee drink nie. Ek kan nie begin skryf as daar nie tee is nie.”


Oor stofstrate en stadsliggies
Charl-Pierre is in 1958 in Kokstad gebore, maar die een wat voor my sit, sê: “Ek het herinneringe van vóór my ervaringstyd. Dit voel of ek ’n siel het wat van Kokstad af kom. Ek het geweet hoe die plek lyk, al was ek nooit as volwassene daar nie.”

Dieselfde geld Durban, waar hy as kind vir ’n rukkie gewoon het. “Durban is die stad wat ek in volwassenheid die minste goed ken.

Ons is daar weg toe ek sewe was en ek was sedertdien nog net so twee keer weer daar. Maar toe was dit of ek alles kan onthou – ek het presies geweet hoe om te ry, waar alles is.”

Charl-Pierre se pad loop deur verskeie stowwerige dorpies en ’n klomp blinklig-stede: Klerksdorp, Rustenburg, Windhoek, Oos-Londen. Sy vroegste herinnering van ’n stofpad is die een wat gelei het na die hoewe buite Bloemfontein waar sy ma se broer ’n boerdery gehad het. “Dis waar ek die eerste maal perdgery het. En die eerste maal van ’n perd afgeval het.”

Sy eerste herinnering van ’n gróót stad is Londen, waar hulle vir ’n jaar gebly het terwyl sy dokter-pa as patoloog spesialiseer het. Van Londen onthou hy verskeie blyplekke – ’n woonstel, ’n huis met ’n tuin, die buitewyke van die stad – maar veral die museumbesoeke.

“My ma was ons onderwyseres in Londen, maar my pa het vir ons geskiedenis geleer. Daai museumbesoeke was ons opvoeding.

My pa was ’n berese man, op sy dag ’n skeepsdokter wat só die wêreld vol gereis het. Hy het die nostalgie vir die onbekende en die verrassings wat ’n mens daar kan vind aan my oorgedra.”

As skrywer probeer hy deurgaans maniere vind om die bekende “vreemd” te maak. “Ek is die soort persoon wat ’n storie sal vind in ’n onstorie-agtige relaas.” Hy stel ook belang in die “naat tussen die storie en die werklikheid”, iets wat ontgin word in Dirkie Verwey, ’n storie oor oënskynlike onwaarskynlikhede en ewewêrelde.

Die boek speel in ’n denkbeeldige Karoo-dorpie af, want dis ’n landskap wat nog altyd sy verbeelding aangegryp het. “Die gestrooptheid, die eensaamheid, die historiese geheue. Dit het sterk betekenis vir ons, vir my.”

Charl-Pierre meen Afrikaners se geheue is nou verweef met kleindorpse stories soos dié een: “In ’n klein dorp in die Oos-Kaapse Karoo het een van die rykste inwoners ’n baie elaborate grafsteen vir homself op ’n dubbelstandplaas in die kerkhof laat opsit. Vir eendag.

En hy het weekliks die reuse-marmergrafsteen laat poets. Die ryk man, in sy veertigs, is dikwels by sy graf opgemerk waar hy in stille bewondering sit en tuur na die goue skrif.
“Hy het later op Prozac gegaan en van sy graf vergeet.

Maar die huisloses het nie. ’n Spannetjie het hulle intrek op sy grafstandplaas geneem en drie sinkmure bygelas. Die huisloses verseg om weg te beweeg. Wat snaaks is – en ek kan dit goed glo, maar dit berus ook maar op hoorsê – is dat die munisipaliteit nou vra of die man so gaaf sal wees om erfbelasting te betaal omdat hy in effek huurders het.”

Vreemder as vreemd
Hoewel Charl-Pierre as digter bekend geraak het, wou hy nog altyd ’n roman skryf. Hy vertel een of twee hoofstukke van Dirkie Verwey was reeds geskryf voordat sy eerste digbundel, Die nomadiese oomblik, in 1995 verskyn het.

“Ek het altyd geweet die soort prosaskrywer wat ek wil word, moet as poëties gedefinieer word. Ek het baie geleer oor die kontekstualiteit van skryf by poësie, oor die interne eggo’s van ’n stuk skryfwerk.”

Hy bestempel sy werkwyse as “haphazard” en kom inderdaad as verstrooid voor. Sy vriende moet hom soms in geselskap herinner om aandag te gee, want sy gedagtes dwaal maklik af. Of dalk is dit net een Charl-Pierre wat hom by ’n ander Charl-Pierre gaan aansluit, een wat elders met ’n interessanter ding besig is of iets vreemd op die hoofweg opmerk ...

“Ek het eenmaal in die Kaap gery, op die N2, rigting Stellenbosch. Aan die ander kant van die pad, rigting Kaap, sien ek ’n sedanmotor wat verskriklik rook, maar dit hou in die vinnige baan. Die dak is heeltemal platgedruk aan die een kant en die kar is vol duike en stampe. Die ruite is almal uit en daar hang nog wat lyk na ’n wapperende spiesgeweer aan die horisontale stang bo die vensters.

In daardie oogwink sien ek onder meer hoe kap die bestuurder met sy vuis teen die stuurwiel. Die kar moes gerol het!

“Die bestuurder is egter ongedeerd, want hy’s so boos soos sy rokende kar. Met die motor se enjin skort klaarblyklik ook nie veel nie, behalwe vir die gerokery.

Die kar maak gatskoon! Waarskynlik op sy laaste trippie. Maar wat vir my snaaks was, is dat die bestuurder sy duikbril op gehad het om teen die wind in te kan ry. En dit was ’n sterk wind.”

Dis dié soort ding, vreemde verskynsels wat so tussen die alledaagse inglip, wat ’n mens laat wonder oor daardie naat tussen die storie en die werklikheid en of iemand, een van die Charl-Pierre’e dalk, aspris aan dié naat in sy eie bestaan torring. Daar’s altyd iets so ’n bietjie bonatuurlik wanneer ’n mens tyd saam met Charl-Pierre deurbring.

Onverwagse ontmoetings
Bogenoemde laat my aan nog ’n ware verhaal dink; die keer toe ek op ’n sypaadjie in Linden gestaan het, baie laat een nag.

Ek het pas ’n kuiergas buite my huis afgesien toe daar ’n motor stilhou. ’n Mens skrik, want dis Suid-Afrika. Die bestuurder draai die ruit af, vra kamtig aanwysings. Ek wil vlug, maar steek vas.

“Charl-Pierre? Is dit jy?”
Dis hy. Dit neem hom ’n paar sekondes om my te plaas en dan lyk hy eweneens stomgeslaan deur die middernagtelike digtersreünie.

Hy is op soek na ’n vriend wat hom gebel het om dié met ’n pap band te help, maar hy kon nog nie die persoon of die motor opspoor nie.

Daar’s ’n klein stilte waarin dit voel of nog iets gaan gebeur: ’n VVV dalk, of ’n verdwaalde sirkusolifant, of nog ’n Charl-Pierre op soek na Charl-Pierre. Maar niks gebeur nie en hy woerts weer weg.

Ons praat vir ’n rukkie oor wat hom angstig maak – “Suid-Afrika se verglyding tot ’n ahistoriese, totaal onwerklike historiografie” en “die klimaatstorie” – maar beweeg aan na dinge wat hom hoop gee.

“Daar is in Suid-Afrika sulke goeie, toegewyde, intellektuele materiaal. Die mense is daar. As ek regtig eensaam raak, sal ek sommer in die middel van die nag by hulle aanklop.”

Dit laat ons albei al laggende aan die sypaadjie-ontmoeting dink. Dis die soort wendings wat ’n mens moet verwag wanneer een van die Charl-Pierre’e teenwoordig is, want ’n mens weet nooit waar die ander rondloop en watter magiese verrassings hulle van daar saambring nie: sielskennis van Kokstad dalk, of ’n geduikte duiker op die hoofweg, of tweeling-adresse wat jou na een vreemde plek neem.

Dalk selfs ’n gedig.

DEUR BIBI SLIPPERS
FOTO: ANDRÉ BADENHORST

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://bit.ly/TGWinter21 of https://atkv.org.za/taalgenoot.