Skip to the content

Stil, almal, daar gaan ’n digter verby

Ongeveer honderd jaar gelede het die Afrikaanse letterkunde aan die vooraand van vernuwing gestaan.

Die digters wat sentrale figure in die sogenaamde Beweging van Dertig sou word, was in dié tyd in hul vormingsjare. Mettertyd sou hulle ’n omvangryke literêre beweging vorm met die spesifieke doel voor oë om poësie in Afrikaans te skryf wat so goed is dat dit as deel van die wêreldletterkunde geag kon word. Daar was ’n ingrypende afwyking van hul voorgangers se werk nodig, het dié groep geglo.

Dit klink mos na revolusie. Tog word die Dertigers se naam tipies nie eerste genoem wanneer gepraat word oor vernuwing in die Afrikaanse letterkunde nie.
Wie was hulle en wat was hul dryfvere?

Hier’s die Dertigers nou
D.J. Opperman sonder in sy studie oor die Dertigers die volgende name uit as die vernaamste digters: I.D. du Plessis, C.M. van den Heever, N.P. van Wyk Louw, Uys Krige en W.E.G. Louw. Elisabeth Eybers word ook as prominente stem en “vroulike aanvulling” genoem.

Eybers het belangrike werk gedoen om die ervaring van die vrou te verwoord in ’n andersins grootliks manstradisie. Sy het ’n groot aanhang in Nederland gehad en daarmee juis die strewe van die Dertigers – om in Afrikaans op internasionale vlak te kan kers vashou – verwesenlik.

Omdat hulle wou afwyk van die temas wat tot in daardie stadium in die Afrikaanse poësie gedek is en ’n hoër peil van digkuns wou bereik, was die Dertigers ontvankliker vir eksterne invloede, soos die filosofie en digkunsneigings van Europa. Weg met die patriotisme en die klem op die plaaslike belewenis wat hul voorgangers se werk gekenmerk het! Die Dertigers het daarna gestreef om die universele “skoonheid” raak te skryf; hulle het dit as hul roeping beskou.

Louw se debuutbundel, Die ryke dwaas (1934), lui die beweging in, gevolg deur die debuutbundels van Van Wyk Louw (Alleenspraak) en Krige (Kentering) in 1935 wat dit duidelik gemaak het daar is ’n nuwe stroming in die Afrikaanse poësie. In sy boek oor Afrikaans se literatuurgeskiedenis verwys J.C. Kannemeyer na “’n subtieler aanwending van die woord en ’n toespitsing op die individuele sielelewe” wat dié groep digters se werk kenmerk.

Teenoor die Sestigers, ’n los groepering van skrywers en digters wat in die 1960’s vir vernuwing gesorg het, het die Dertigers meer gestruktureerd te werk gegaan. Hulle het ’n tydskrif begin, verenigings gestig en manifeste geskryf (soos Louw se “Die rigting van die Afrikaanse letterkunde”).

Die digter se individuele belewenis was die groot fokuspunt, met intense, persoonlike verse wat daaruit vloei. “Alles, maar ook álles wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of smart maak, moet ook in ons literatuur sy neerslag kry,” skryf Louw.

’n Grootse taak
Op stilistiese vlak was hulle gesteld op streng vormgewing en verfyning van die verstegniek en word daarom beskou as nougesette vakmanne. Hulle streef deurentyd na die presiese, onvervangbare woord.

Om te dig is teen hierdie agtergrond nie ’n ligte taak of sommer ’n tydverdryf nie. Daar is by die Dertigers ’n erns met hul kunstenaarskap en hul grootse taak, waaraan daar iets goddeliks toegeskryf word.

“Ek kry ’n klein klein beiteltjie,
Ek tik hom en hy klink;
Toe slyp ek en ek slyp hom
Totdat hy klink en blink”

Só lui die eerste strofe van Van Wyk Louw se bekende “Die beiteltjie”, waarin die spreker die grootse gevolge van ’n hou van dié klein beitel beskryf. Dit lei uiteindelik tot die oopbreek van die ganse sterrehemel, terwyl die spreker-digter toekyk.

Die Dertigers se fokus op die digter se ernstige taak en suiwer sielslewe bring ’n sekere ek-gerigtheid en intellektuele verhewenheid teweeg. Voeg daarby die feit dat hulle byna uitsluitlik wit mans was en dit is te verstane dat die Dertigers deur die jare sommige lesers en ander skrywers kon vervreem. Die idee van die kunstenaar wat hom profeetagtig van gewone mense afsonder om in heilige erns na geestelike helderheid en die juiste woord te soek, is nie verteenwoordigend van die groter Afrikaanse skryf-en-taalgemeenskap se werklikheid nie.

Adam Small reageer waarskynlik juis op hierdie beeld wanneer hy in sy gedig “Die poet, wie’s hy?” skryf:
“Is hy rêrag soos djulle dink
die ou moerie pen ennie ink
wat in sy study sit en poems dink?”
Sy antwoord daarop is:
“Nai,
djulle’s mistaken,
nie hy nie
ma djúlle is die poets […]”

Small eien Jan en alleman as die een wat werklik bevoeg is om gedigte te skryf. ’n Erkenning van die sentrale rol wat die Dertigers in die vernuwing van die Afrikaanse poësie gespeel het, behoort dus nie ongekwalifiseerd te wees nie.

Nietemin is die leeueaandeel van dié groep digters nie te betwyfel nie. Dit is juis danksy hul toewyding en erns daarmee om ’n sekere peil te bereik dat digters daarná opnuut kon wegbreek. By nabetragting is hul nalatenkap juis dit wat Van Wyk Louw, hooffiguur van die Dertigers en een van Afrikaans se grootste digters, vir die Afrikaanse poësie gesien het: lewenskragtigheid en verskeidenheid. Die alternatief is volgens hom stilstand, stagnasie en doodsheid.
Laat die beitels klink en
blink!

DEUR CATRINA WESSELS

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://adobe.ly/2Q46QbE of https://atkv.org.za/taalgenoot.