Skip to the content

Is jou kind sensories oor- of onsensitief?

Is jy bekommerd oor jou kleinding se ontwikkeling? Is jou kind sku vir mense? Voel dit soms vir jou of jou kind te veel klou aan sy gunstelingteddiebeer of -kombers?

Dit kan wees dat jou kind sensories oor- of onsensitief is. 

Sensories verwys na al die sintuie – voel, ruik, proe, hoor en sig, asook die balanssintuig.

“Tussen die sintuie en die brein is daar filters wat sif watter inligting gaan brein toe en watter inligting word geïgnoreer,” verduidelik dr. Melodie de Jager, ’n neuro-ontwikkelingskenner en die stigter van die ontwikkelingsprogram BabyGim.

“Wanneer die filters goed werk, ontwikkel ’n kind laggend en spelend, maar wanneer die filters nie goed werk nie, kan ’n kind sensories onsensitief of oorsensitief wees.”

Sy sê wanneer ’n kind nie sensories sensitief ontwikkel nie, kan hulle afgestomp en geïsoleerd voorkom.

“As hulle sensories onsensitief ontwikkel, maak hulle selde oogkontak en dit wil voorkom of hulle op hulle eie planeet is. Dit kan ook gebeur dat hulle kontak met ander wil maak, maar hulle is oordonderend.”

Volgens haar stel die filters in die brein te veel inligting vry as die kind sensories oorsensitief is.

“Dikwels vloei die strome sensoriese inligting nie in een stroom saam nie, maar in aparte strome wat die kind oordonder, oorweldig en sku maak vir mense en dinge.Dit gebeur dan gereeld dat die kind sekuriteit soek en aan Mamma, Pappa, sy gunstelingteddiebeer of -kombers, fopspeen of oppasser vasklou.”

Sy sê wanneer jou kind sensories oor-of onsensitief is, belemmer dit sy/haar ontwikkeling.

“Daar is verskeie aspekte van ’n kind se ontwikkeling wat belemmer word. Emosioneel kan ’n kind baie bang wees vir die kleinste dingetjie of hy het nie ’n bang haar op sy kop nie. Sosiaal kan die kind skaam en teruggetrokke wees of hy wys tekens van boeliery. Op ’n fisieke vlak word kontak met die kind se omgewing, speelgoed en leerstof bemoeilik, want hulle kan nie inligting reguleer nie.”

Sy sê hierdie soort agterstand gaan nie net oorwaai nie en daar moet daadwerklik aandag geskenk word.

“’n Besoek aan ’n neuro-ontwikkelingskenner of arbeidsterapeut kan van waarde wees. ’n Spraakterapeut ook, want sensoriese uitdagings beïnvloed spraak,” sê sy.

Die volgende boeke fokus spesifiek op sensoriese uitdagings en kan ’n ouer praktiese idees gee. As jy op die skakel klik, sal jy ’n gratis hoofstuk van elke boek kan lees.  

  • Speel Speel Slim is ’n gids vir ouers van kleingoed tussen die ouderdom 0-3. Lees ’n gratis hoofstuk hier.  
  • Speel Leer Slim is ’n gids vir ouers van kleuters tussen die ouderdom 3-6. Lees ’n gratis hoofstuk hier.  
  • Mind Moves: Weg met leerblokkasies is ’n gids vir ouers van klinders tussen die ouderdom 6-18. Lees ’n gratis hoofstuk hier

* By Abbasorg, die sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram van die ATKV, poog die personeel om ouers by te staan met hulle kind se vroeë ontwikkeling. Lees hier meer oor die wonderlike werk by die vyf AbbAsorgsentrums. Het jy geweet jy kan deur die ATKV-Woekerfonds ’n skenking maak om AbbAsorg-sentrums se hande sterk te maak. Jou bydrae – klein of groot – gaan vir kleuters tussen drie en ses jaar die geleentheid gee om die fondament te lê vir ’n beter toekoms. Klik hier