Skip to the content

Rudi van Rensburg gesels oor sy 'voltydse halfdagpos'

Rudi van Rensburg hou Afrikaanse lesers op die punt van hul stoel met sy speurverhale. Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot, het met hom gesels.

Albei jou speurverhale en komediestories is baie gewild – wat is vir jou die lekkerste om te skryf?

Spanningsromans sal altyd my gunsteling bly. Ek hou van die hele proses van om eers navorsing te doen oor ’n kerntema waaroor die boek gaan handel en die omgewing waarin die roman gaan afspeel.

Daarna die dinkwerk oor die karakters. En hoe ek die leser se belangstelling deurentyd met intriges en spanningselemente gaan behou. My grootste uitdaging is gewoonlik om ’n kinkel uit te dink wat die leser sal verras.

Dit is soms ’n vermoeiende proses, maar uiters bevredigend. My humoristiese boeke is minder gestruktureerd sonder veeleisende navorsing, maar terselfdertyd mag dit nooit bloot ’n sameflansing van ’n klomp humoristiese situasies wees nie. Dit moet ’n ordentlike verhaallyn hê soos enige ander roman.

Humor is egter harde werk, wat my soms noop om sekere dele herhaaldelik te herskryf. En dan natuurlik die selftwyfel of dit werklik snaaks is, maak die skryfproses effens moeiliker. Die eindproduk is net so bevredigend soos ’n spanningsroman, maar dit gaan gepaard met dalk ’n bietjie meer sweet.

Ek het al gelees dat jy ’n streng skryfroetine volg – vertel ons ’n bietjie meer?

Nadat my debuutboek, Slagyster, in 2013 verskyn het, het ek my voorgeneem om jaarliks ’n boek te skryf, wat deesdae twee geword het met my Hans-boeke tussen die speurverhale deur.

Om dit te kan vermag moet ek baie gedissiplineerd werk. Ek probeer om soggens kort ná sewe aan die skryf te kom en werk dan tot omstreeks eenuur/tweeuur in die middag.

Dis my amptelike “werksure”, wat deur almal in my huishouding gerespekteer word, en ek slaan selde ’n dag oor. Ek skerts altyd dat ek ’n voltydse halfdagpos het. Dit bly natuurlik ’n groot voorreg om voltyds te kan skryf.

Hoe voel jy oor literêre pryse?

Ek dink nie ek het al ooit ’n boek geskryf met die idee om daarmee ’n prys te probeer wen nie. Ek put my groot bevrediging uit lesers se positiewe terugvoering oor my boeke, wat as my brandstof dien om aan te hou skryf. Pryse is uiteraard ’n aangename bonus en erkenning vir ’n mens se werk, maar sal nooit by my ’n obsessie word nie.

Vind jy dat jy al solank met Kassie Kasselman werk, dat jy soms soos hy begin dink?

Wanneer ek my skootrekenaar smiddae toeklap, probeer ek om nooit weer tot die volgende oggend aan die verhaal te dink nie. Kassie kom dus selde buite my skryfure in my kop op. Tog het ek destyds tydens die TV-uitsending van die Oscar Pretorius-hofsaak, my gereeld gevang dat ek gedink het hoe Kassie as geregsdienaar sekere vrae in die getuiebank sou beantwoord het.       

Beplan jy jou stories vooraf t.o.v kinkels en ontwikkeling, of laat jy die proses jou lei soos jy skryf? (Ek het gehoor Lee Child skryf so.)

Hoewel ek vooraf geweldig baie navorsing oor tema en omgewing doen, het ek net ’n vae idee oor hoe die storie gaan ontwikkel as ek begin skryf. 

Ek skryf dus nie volgens vooropgestelde riglyne nie. Dit voel veels te rigied en ek glo dit ondermyn my vermoë om ander en soms interessanter afdraaipaaie te neem.

Wanneer ek halfpad met ’n manuskrip is, het ek in baie gevalle nog nie ’n idee hoe die verhaal gaan eindig nie. Ek laat my maar grootliks deur die proses lei. 

Is daar ’n ander genre wat jy nog graag sal wil aanpak?

Ek sê versigtig “nee”. ’n Paar jaar gelede sou ek nie kon dink dat ek ook humoristiese boeke sou skryf nie, en toe het dit wel gebeur. Dalk kry ek in die toekoms ’n bevlieging om iets meer ernstig en “literêr” aan te pak, maar in die stadium geniet ek te veel wat ek doen om nou ’n drastiese rigtingverandering te oorweeg.