Skip to the content

As ’n produk rolprentster word

Wie kan nog onthou toe James Bond sy getroue Aston Martin vir ’n BMW Z3 Roadster verruil het? Of die ikoniese motorjaagtoneel in The Italian Job, maar met drie, splinternuwe Mini Coopers? En gepraat van Bond, van wanneer af drink hy Heineken?

Dit is nie toeval nie. Dit is ’n bemarkingsmetode genaamd produkplasing.
Produkplasing – of handelsnaamintegrasie – word al hoe wyer, grootliks vanweë die doeltreffendheid daarvan, in die rolprent- en televisiebedryf toegepas. Die handelsnaameienaar(s) van ’n produk betaal die vervaardiger(s) om produkte prominent ten toon te stel. In sommige gevalle – soos in die VSA – beloop dit soms miljarde rand per produk.

Adverteerders kom al hoe meer agter dat tradisionele advertensiemetodes nie meer werk nie. Mense skakel die klank af wanneer TV-advertensies vertoon word of gaan gou badkamer toe. Ook aanlyn is dit moeilik om moontlike verbruikers se aandag te behou.

Mense wag bloot totdat die verpligte vyf sekondes van ’n aanlyn advertensie verby is en slaan die res oor.

Met produkplasing het die verbruiker nie ’n keuse nie – die produk word in die fliek of program se storielyn verweef en die karakters gebruik die produk of dit die normaalste ding onder die son is. “Danksy” die samelewing se beheptheid met roem en beroemdes word dié produkte dan meer gesog, is die redenasie.

Waar het alles begin?
Produkplasing is nie ’n nuwe fenomeen nie. Trouens, die eerste werklik suksesvolle produkplasing is reeds in 1955 in die James Dean-fliek Rebel Without a Cause gedoen.

Dean se karakter het sy maanhare in toom probeer hou met ’n Ace-kam. Te midde van die fliek se sukses het dié kamme van die rakke gevlieg, want elke tienerseun móés eenvoudig een hê.

Hoewel die gebruik van dié spesifieke kam toevallig was, het adverteerders besef dat hier baie potensiaal is.

Dit is makliker om ’n kyker te oortuig om ’n produk te gebruik as ’n ikoniese rolprentkarakter dit ook gebruik – eerder as tradisionele metodes waarin advertensies bloot geïgnoreer kan word.

Sedertdien was daar talle suksesverhale.

Die lekkergoed Reese’s Pieces, wat in E.T. the Exra Terrestrial (1982) geëet is, se verkope het met 65% in die tyd van die fliek se uitreiking gestyg.

Die sonbrilvervaardiger Ray-Ban het dit oorweeg om sy klassieke ontwerp, die Wayfarer, te staak, maar nadat Tom Cruise se karakter in Risky Business (1983) dié bril gedra het, het Ray-Ban oornag 350 000 pare daarvan verkoop.

Subtiel vs. blatant
Maar soos met baie dinge is produkplasings nie altyd ikonies nie, maar ook blatant, aspris en irriterend. Die terloopse gebruik van ’n produk het ’n subliminale uitwerking, maar daar is ook gevalle waar produkplasing die storielyn onderbreek en as ’t ware “oorneem”.

In die Superman-fliek Man of Steel is daar meer as 100 produkte aan kykers afgesmeer. Trouens, die vervaardigers het $160 miljoen gemaak uit produkplasings nog voordat dié fliek in teaters begin draai het.

Daar is talle soortgelyke voorbeelde, van die voor die hand liggende prominensie van handelsname soos Pepsi en Nike in Back to the Future II tot die gevestigde gebruik van Omega-horlosies in James Bond-flieks. Sony-selfone het selfs onlangs in Hotel Transylvania 2 – ’n animasierolprent – verskyn!

Produkplasing het ook in Afrikaanse rolprente begin posvat. Volgens ’n kontrakteur in die rolprentbedryf wat nie sy naam genoem wil hê nie uit vrees dat sy kontrakte sal opdroog, word produkplasing in Afrikaanse flieks “meestal baie lomp” gedoen. “Gaan kyk ’n bietjie na flieks soos Trouvoete, Mignon “Mossie” van Wyk, Treurgrond, Vrou soek boer... Elkeen van hierdie flieks is een lang advertensie.”

Volgens die kontrakteur het hy 35 produkplasings in Trouvoete getel. “Mense in die teater het openlik gelag,” sê hy. “Dit was belaglik. Karakters se dialoog word sommer onderbreek om ’n produk te adverteer.”

Die kontrakteur sê Treurgrond – wat oor plaasmoorde handel – wemel van produkplasings, van koffie en saad tot Chinese bakkies.

Herman Eloff het in sy resensie op die webwerf Channel24 geskryf borge en produkplasings in Mignon “Mossie” van Wyk is steurend. “Voordat enigiemand wat aan die rolprent gewerk het krediet kry, word die fliek se borge bedank,” skryf Herman. “Die adverteerders word belangriker as enigiemand of enigiets anders geag.

Dit vang vas waaroor die fliek eintlik gaan – advertensies. Die laaste keer wat produkplasing so swak gedoen is, was in die plaaslike fliek Trouvoete, wat deur dieselfde mense gemaak is.”

Gaan kyk ’n mens na Trouvoete se webwerf is daar selfs ’n afdeling wat aan borge gewy word. Veertig handelsname en maatskappye se logo’s verskyn op dié blad, hoewel daar nie aangevoer kan word dat almal se produkte in die fliek verskyn nie.

Op dieselfde blad is daar ’n skakel na Mignon “Mossie” van Wyk se Facebook-blad wat lui: “So vir baie matrieks is dit amper universiteit toe gaan tyd. Dit beteken sekerlik jy is op soek na ’n kar om die lang ure op kampus bietjie makliker te maak. Gaan kyk gerus na @mitsubishi www.mitsubishi.co.za hulle het verseker een van jou droom karre (sic).”

Net ’n geldmaakfoefie?
Om ’n rolprent te maak kos gewoonlik miljoene. Waar moet vervaardigers die geld kry? Is produkplasing ’n lewensvatbare metode om geld in te samel?

“Dis ’n groot vraag,” sê die bekroonde regisseur en vervaardiger Jozua Malherbe, wat onder meer betrokke was by flieks soos Wolwedans in die skemer en Roepman, asook TV-reekse soos Donkerland en Swartwater.

“As jou pa ’n miljoenêr is, is dit seker maklik. Maar vir gewone ouens is daar geen waarborge nie. Jy kan nie na ’n belegger gaan met net beloftes nie. Jy moet ’n bewese track record van sukses hê.”

Volgens Malherbe is die koste van ’n plaaslike Afrikaanse fliek tussen R6 miljoen en R8 miljoen.
“Daarom is romantiese komedies ’n veilige keuse, want mense kyk dit.
Maar dis steeds nie ’n waarborg nie – net sowat die helfte van romantiese komedies maak geld.”

Malherbe sê daar is hoofsaaklik drie inkomstestrome vir plaaslike flieks.
“Jy kan met jou idee na M-Net gaan en hulle sal dan besluit of hulle jou deels wil finansier, maar dit dek slegs ’n derde van jou begroting.

“Die departement van handel en nywerheid gee ook geld vir plaaslike filmproduksie in die vorm van ’n terubetaling van sowat 35%.”
Dié terugbetaling word egter in Maart aanstaande jaar hersien en Malherbe sê die kans bestaan dat dit kan wegval, wat die rolprentbedryf ’n reuseknou sal gee.

“Die res van die geld moet van ’n belegger kom, of ’n beskermheer vir die kunste. Hulle word eerste terugbetaal wanneer die fliek geld maak. Beskermhere is baie belangrik,” sê Malherbe.
Hoewel Malherbe nie self ten gunste is van produkplasings nie, reken hy “daar is ’n plek daarvoor”, mits dit subtiel gedoen word.

“Die fliekbedryf is nie homogeen nie. As dit [produkplasing] jou sakemodel is, is dit reg, maar die fliek kom eerste. As mense nie kans kry om die storie te kyk nie omdat hulle die hele tyd advertensies sit en kyk, werk dit nie.”

Volgens Malherbe sal kykers baie keer sê hulle het ’n bepaalde fliek geniet, maar dit het hulle gepla dat hulle die hele tyd ook na produkte moes kyk.

“My kritiek teen produkplasing is meestal vanuit ’n kunsoogpunt. ’n Mens moet egter onthou dat die bedryf nie net op kuns gebou is nie, maar ook op die bydraes van industrialiste.

“Om dié sakemodel [produkplasing] vanuit ’n kunsoogpunt te kritiseer is soos om Hustler-tydskrif vanuit ’n letterkunde-oogpunt te kritiseer,” sê Malherbe.

Wat sê die produkplasers?
André Frauenstein, besturende direkteur van Phoenix Films – vervaardiger van onder meer Trouvoete, Mignon “Mossie” van Wyk en Treurgrond, sê hulle steun baie sterk op produkplasing as ’n inkomstebron.

“Die mark is klein, veral vir Afrikaanse flieks. Dit is moeilik om finansiering te kry. Wanneer M-Net of kykNET nie ’n fliek wil of kan finansier nie, sit ons met ’n probleem.”

Volgens André probeer hulle alle produkplasings subtiel en binne die konteks van die rolprentdraaiboek hou. “Wanneer ons deur ’n draaiboek gaan, identifiseer ons geleenthede vir produkplasings en nader dan borge met idees.

Daar is maar altyd voorwaardes [ten opsigte van produkplasing] wat nagekom moet word. Elke draaiboek verskil.”

André meen plaaslike resensente “het hul mes in” vir flieks met produkplasing, maar dat dit internasionaal nie so negatief ervaar word nie.

“Trouvoete het die prys gewen vir beste kinematografie by die Rahway-toekennings in New York, en Treurgrond is aangewys as die beste rolprent by die Richard Harris-toekennings in Ierland. Niemand daar het die produkplasing eens opgemerk nie.

“Ek stem saam, dit moet subtiel gedoen word en ons het in die verlede foute gemaak. Maar resensente kan konstruktief kritiek lewer eerder as om ’n fliek oor produkplasing te slag. Ons het ’n lojale mark – ons moet vir hulle flieks maak.”

DEUR RIAAN GROBLER
ILLUSTRASIE: LEIGH LE ROUX

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://atkv.org.za/taalgenoot.