Skip to main content

Wanneer laas was jy op ’n skattejag? Dalk het jy as kind baie opgewonde tussen die blombeddings en die struike na blink Paaseiers gesoek. Of dink bietjie terug aan daardie opwindende skattejag by die veldskool …  

Nou kan jy weer hierdie wonderlike herinneringe van jou kinderdae herleef as jy die ATKV se oorde besoek.

ATKV-tak Arendsnes het met die unieke ATKV-Rocks-projek vorendag gekom en Monique Brink, die takvoorsitter, verduidelik dat hulle hiermee die besoekers by die ATKV-oorde bewus wil maak van die doen en late van die ATKV-takke. Verder wil die tak ook betrokkenheid onder taklede verhoog. Deelname aan dié nuwe kreatiewe  skattejag sal ook bietjie kleurvolle verligting en ontvlugting in hierdie uitdagende tye bring.

“Taklede verf klippe in allerlei kleure en heg ’n briefie aan die agterkant vas. Dit word dan by die oordterreine weggesteek sodat die besoekers by die oorde daarna moet soek. Of dalk kom hulle sommer toevallig op van die klippe af,” sê Monique.

Volgens haar kan die besoekers dan die klippe afneem en die foto’s op die ATKV-Rocks se Facebook-blad plaas.

Die besoekers kan dan weer die klip op ’n ander plek in die oord neersit of na ’n ander bestemming neem.

“Die idee is dat ons die ATKV-klippe landswyd sal versprei en dat die taklede en die oordbesoekers dié klippejag sal geniet. Dit is so lekker om jou klippe op Facebook te sien.”

Monique vertel dat daar reeds ander takke in KwaZulu-Natal en Kaapstad is wat ook besluit het om deel te neem aan die klipprojek.

“Dit is ’n maklike en baie doenbare projek en almal – oud en jonk – kan deelneem en dit geniet.”

Sy nooi die ander takke om betrokke te raak en saam te rock!

“Ons het dit reeds op die Facebook-blad gesit. Sluit aan, druk julle eie naambriefies uit, begin klippe verf en versprei hulle. Tag ons op ons Facebook-blad. Ons kan nie wag om ander takke se klippe ook op ATKV-Rocks te sien nie.”