Skip to the content

Hoop in Albertstraat

Ek hoor Karien Brits vaagweg in die redaksiekantoor praat: “... hulle leer vir die vlugtelinge se kinders om in Afrikaans te groet, veral by treinstasies, as die polisie met hulle praat. Dan weet die polisie hulle is plaaslik en nie van ander Afrikalande af nie.”

Dadelik weet ek: Hier is dalk ’n storie.

Met die hulp van Karien, bestuurder by die ATKV se taalafdeling, maak ons ’n afspraak met die personeel van Albert Street School in Johannesburg se middestad. Marshalltown is ver verwyder van die voorstedelike bestaan waaraan ek gewoond is. Mense verkoop leë bottels op die sypaadjie, geboue se vensters is stukkend en oral is daar water wat by dreine in die morsige strate uitborrel.

By die skooltjie staar die kinders, geklee in netjiese, blou skooluniforms, ons aan terwyl ons na die hoof se kantoor stap.

Albert Street School, ’n laer- en ’n hoërskool, huisves meestal vlugtelinge se kinders. Mense van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Malawi, Zambië en Zimbabwe – gesinne wat in die middestad van Johannesburg woon.

William Kandowe, hoof van die hoërskool, is onbewus van die besoek. Nadat Joyce Gundu, hoof van die laerskool, aan hom verduidelik wie ons is, stem hy in om ’n paar minute aan ons af te staan. Hy sien ek kyk na die trofeë op die liasseerkabinet skuins agter sy lessenaar. “Ons het al daai trofeë verower,” sê hy.

Hy haal een af. “Drama Festival, Inner City Schools,” lees ek. William sê: “Jy weet, ons hoërskoolleerders volg die Cambridge-modules. Ons het al die laaste paar jaar ’n 100%-slaagsyfer.”

Hy wys my ’n lêer met die resultate. “Kyk daar, ek hou dit om vir mense te wys as hulle my nie glo nie. Ons het meer as 400 kinders in die skool. Hulle kom van regoor Afrika; die meeste woon in die middestad. Hier is ook kinders van ’n kinderhuis in Soweto.

Maar dit wissel; soms gaan van die kinders terug na hul tuislande en keer weer ná ’n paar maande terug.”

Afhanklik van weldoeners
In William se kantoor staan twee, groot metaalpotte, gekoppel aan ’n gasbottel, op die gehawende mat. Agter sy kop kronkel drade gevaarlik uit die muur. Ek wonder dadelik oor finansiering – is die regering dan nie veronderstel om te help nie?

’n Skewe glimlag verskyn op Joyce se gesig. “Die regering help niks,” sê sy. “Daar is soveel rompslomp met die registrasie van die skool dat dit seker nooit sal gebeur nie.

Ons probeer al sewe jaar lank. Van die kinders betaal skoolgeld, maar nie almal nie. Baie van die ouers is werkloos. Daar is selfs kinders wat ná skool saam met die ouers – baie van hulle is blind – op straat gaan bedel.

“Ons is maar afhanklik van weldoeners. Ons probeer om vir die kinders ten minste een maaltyd per dag te gee. Dis baie keer al kos wat hulle die dag sal ontvang.”

En die salarisse van die personeel; ook skenkings? “Ja,” sê Joyce. “Die meeste van die onderwysers is van Zimbabwe en ander lande. Die plaaslike onderwysers word te goed betaal om hier te help. Dit is ons grootste uitdaging – om die onderwysers te kan betaal.”
Die Metodiste-kerk, op wie se terrein die skool staan, moet tog sekerlik help, sê ek.
“Daar is maar baie kerkpolitiek,” sê Joyce.

“In ’n stadium het hulle van die lokale vir ons gegee om te gebruik, maar een nag is ’n uitstalling geplunder. Nou is alles agter slot en grendel.

Ek dink ook dis omdat dit vlugtelinge se kinders is. Ons het in 2014 ’n inbraak gehad, daarom is al die vensters met planke toegemaak. Hulle het alles gevat wat hulle kon; die skootrekenaars ook.”

’n Kindersoldaat in my klas
Daar is ’n klop aan die deur. ’n Jong leerder loer in, sien dat ons besig is en maak die deur weer saggies toe. Karien sê: “Sukkel julle met dissipline? Hoe pas julle dissipline toe?”
William glimlag en sê: “Dis moeilik, soms. Jy moet onthou, baie van die seuns was kindersoldate in die Kongo.

Hulle is baie aggressief en sukkel om bevele te gehoorsaam. Dit help natuurlik ook nie dat hulle net Frans kan praat nie. Van hulle, al is hulle reeds 14 of 15, moet eers laerskool toe gaan om te leer lees en skryf. Ons praat maar mooi met hulle. Van hulle was selfs bevelvoerders. So, hoekom sal hulle luister na ’n ou man soos ek?

“Dis emosioneel baie moeilik vir die onderwysers. Hulle moet die rol van onderwyser, ouer en berader vertolk. Die kinders begin egter ná ’n tyd ‘oopmaak’ as hulle ons begin vertrou. Die meisies is moeiliker om te benader. Daar is baie gevalle van verkragting en molestering, asook prostitusie. Hulle is nog een dag in die skool; die volgende dag is hulle swanger en verdwyn net.

“Ons kry gelukkig baie hulp van die polisie ook. Hulle kom gereeld tydens saalperiode en waarsku die kinders teen dwelmgebruik. Hulle duld ook nie enige wapens nie. Hul samewerking beteken vir ons baie.”

William loer op sy horlosie en ek vra gou van die Afrikaans. “Dis waar, ja,” sê hy. “Gedurende 2008 was daar ’n reusetoestroming van immigrante van Zimbabwe en die Kongo. Die polisie was rof met die mense; misdaad het baie in die stad toegeneem.

Die kinders is geleer om in Afrikaans te groet. Die polisie groet hulle in Afrikaans; as hulle nie kan teruggroet nie, het hulle geweet hulle is nie van Suid-Afrika nie, en dan was daar perde!”

Ontmoet vir Rose
Ons groet William met die belofte van ’n paar Taalgenoot-eksemplare. Joyce trek ’n meisie nader, sy stel haarself voor as Rose, en beveel haar om my al die klaskamers te wys sodat ek kan foto’s neem. Karien stap saam. In van die klaskamers is daar nie krag nie; net sonlig. Tog is die kinders druk besig.

“Good morning, Sir! Good morning, Ma’am!” eggo dit in elke vertrek wanneer hulle in gelid opstaan. Ek word die biblioteek gewys, asook die kombuis wat ook as klaskamer gebruik word.

Rose Mputu (13) kom van die DRK. Sy is een van ses kinders en hulle woon in die middestad. Sy is al in dié skool van gr. 1 en is Engels, Afrikaans, Frans, Zoeloe, Sotho, Cilubà en Lingala magtig. Toe ek ’n foto van haar neem en sy hoor sy gaan in ’n tydskrif verskyn, kan sy skaars haar opgewondenheid bedwing. “You won’t forget to bring my magazine?” laat sy groot-oog hoor terwyl ons motor toe stap.

Op pad terug ry ons verby die Wits-kampus se ingang in Jorissenstraat. ’n Paar jeugdiges met plakkate staan daar rond. Sommige is geklee in handelsnaamklere. Luidens ’n nuusberig het van die studente die vorige aand ’n klerewinkel in Braamfontein geplunder.

Ek dink aan Rose se woorde: “Ek wil ’n kardioloog word, maar ek gaan in Amerika studeer. Die studente hier is te oproerig. Dis nie veilig hier nie – met al die betogings en protesoptrede.”

Suid-Afrika. Altyd ’n land van kontraste.

FOTO’S EN TEKS: JOHAN J. SMITH

Vir skenkings aan Albert Street School e-pos Penny Foley by
30000699@icon.co.za. Hulle het veral ’n groot behoefte aan skoonmaakmiddels en toiletpapier.

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by of https://atkv.org.za/taalgenoot