Skip to main content

Wyle Herman Bailey was van 1995 tot 2000 burgemeester van Wellington en daarna die uitvoerende burgemeester van die Drakenstein Munisipaliteit van 2002 tot 2006. In hierdie hoedanighede, en ook as ATKV-direksielid vir 18 jaar lank, was hy sinoniem met nasiebou en die ontwikkeling van sy gemeenskappe.

Maar op 23 Julie vanjaar het landsburgers met leedwese gehoor van die afsterwe van hierdie fenomenale man.

Die ATKV het op 5 November 2021 vir Herman postuum vereer met ’n oorkonde vir sy groot bydrae wat hy gelewer het tot die verwesenliking van die ATKV se visie. As voorstaander van die Afrikaanse taal het hy saam met die ATKV gestreef om die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar en aktief deel van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika te maak.

Volgens John Bailey, Herman se seun, is hulle baie dankbaar vir die erkenning wat hulle pa selfs ná sy dood ontvang.

“Dit is wonderlik om te sien dat my pa steeds ’n groot invloed op mense se lewens het. Hy was ’n brugbouer. Een van sy groot passies was die gemeenskap. Hy wou vir almal gelyke geleenthede bied en die gemeenskap ophef.”

John sê sy pa het ’n groot liefde vir Afrikaans gehad.

“Hy was passievol oor die uitbreiding van Afrikaans en wou die taal gebruik om mense bymekaar te bring.”

John onthou sy pa ook as ’n beginselvaste persoon met sterk waardes.

“Geloof was vir hom baie belangrik. Hy het sterk opinies gehad, maar wou gehad het dat almal dieselfde behandel moet word.”

Herman se vrou, Carol, is ongelukkig reeds in 2018 oorlede.

“My ma en pa se verhouding was besonders. Hulle het ’n baie goeie voorbeeld vir ons vier broers gestel.”

John hoop dat sy pa se nalatenskap ander Suid-Afrikaners sal inspireer om ook van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.

“Hy was vir baie mense ’n voorbeeld en ’n rolmodel en ek hoop ander sal in sy voetspore volg.”