Skip to main content

Die ATKV ontgin voortdurend nuwe skryftalent en het die beste, nuutgeskrewe monoloë wat tieners self vir vanjaar se ATKV-DigiToneelkompetisie geskryf het in ’n bundel saamgevat. Die bekendstelling van hierdie bundel lewer bewys van ons jeug se aanpasbaarheid en ’n drang om nuwe karakters en stories te skep wat nooit sal opdroog nie. Dit is die tweede monoloogbundel wat die ATKV met trots publiseer nadat die ATKV-DigiToneelkompetisie verlede jaar vir die eerste keer aangebied is.

Vanjaar se deelnemers is weereens uitgedaag om hulle liefde vir die toneelkuns verder te ontwikkel. Slegs nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe temawolk (kop, wettig, rebellie, sleutel, toekoms en mondig) kon ingeskryf word.

Die ATKV het die teatergrense met sy DigiToneelkompetisie verskuif deurdat die top 10-finaliste ook vanjaar in ons eie nuutvervaardigde realiteitsreeks vir Via, Gekies vir die Kollig, op DStv-kanaal 147 hul buiging gemaak het. Die nuwe tekste wat 80 persent en meer tydens vanjaar se kompetisie behaal het, gaan deur hierdie bundel stories in die volksmond word wat vlerke kry en ook die eiendom van ander word.

Die ATKV is met reg trots op die skrywers en deelnemers aan vanjaar se ATKV-DigiToneelkompetisie. Ons opregte dank aan al die skrywers wie se werk in hierdie unieke bundel gepubliseer word. Dankie vir julle onbaatsugtige gesindheid teenoor die ATKV wat dit vir ons moontlik maak om julle talent te vier en te deel met elke liefhebber van die Afrikaanse taal. 

Laai die bundel hier af!

*Die inhoud van die tekste in hierdie bundel is nie verteenwoordigend van die ATKV se menings en oortuigings nie.