Skip to the content

Die ATKV wag op inskrywings vir spesiale Covid media-toekenning

In ’n era waarin fopnuus soos ’n veldbrand kan versprei, is dit belangriker as ooit tevore om goeie joernalistiek te ondersteun, en daarom het die ATKV besluit om vanjaar ’n spesiale Covid-toekenning te maak. Altesaam R30 000 prysgeld is op die spel.

Die ATKV glo dat die rol van die media om in te lig en op te voed van uiterste belang is, sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW. “Benewens die ooglopende impak van Covid-19 het die virus ook ander uitdagings meegebring. Die ATKV wil vanjaar joernaliste beloon wat ten spyte van moeilike omstandighede daarin geslaag het om deur ondersoekende joernalistiek in Afrikaans die waarheid bloot te lê en die publiek ingelig te hou oor die pandemie en die gevolge daarvan.”

"Ons gee graag erkenning aan joernaliste en vervaardigers wat kykers, luisteraars en lesers ingelig gehou het met feitelik korrekte, prikkelende beriggewing oor die Covid-19-pandemie en die invloed daarvan op ons land, ons mense en die wêreld soos ons dit geken het voor Maart 2020. Sonder joernaliste wat onophoudelik soek na die ware, korrekte feite, sou ons in hierdie uitdagende tye veel slegter daaraan toe gewees het." 

Afrikaanse artikels, programme of insetsels wat tussen 1 Maart 2020 en 15 Oktober 2021 verskyn het of uitgesaai is, mag ingeskryf word. Inskrywings word ingewag vir uitmuntende Afrikaanse beriggewing oor die pandemie in drie soorte media, nl. lees, luister en kyk.

Juis vanweë die invloed van die pandemie op die media en ekonomie, sal vanjaar se spesiale Covid- toekenning anders hanteer word as die tradisionele ATKV-Mediaveertjies wat die afgelope paar jaar sinoniem was met die ATKV. Anders as in vorige jare, sal alle inskrywings saam meeding vir die eerste, tweede en derde plek. Daar is vanjaar nie verskillende kategorieë nie. Die algehele wenner sal R15 000 ontvang en die naaswenner R10 000, en die persoon wie se werk die uiteindelike derde plek beklee, sal R5 000 ontvang. Vyf onafhanklike kundiges sal as beoordelaars optree.

Deelnemers word genooi om ’n korpus van drie werke in te skryf vir die kompetisie. Slegs een inskrywing per persoon sal aanvaar word. Daar is geen beperking op genre of medium nie, maar indien die soort artikel, program of insetsel in meer as een genre val (soos leefstyl, ekonomiese of wetenskaplike joernalistiek), of uit verskillende media (druk, digitaal, radio of televisie) moet die deelnemer self besluit watter drie bydraes in sy/haar finale inskrywing ingesluit gaan word.

"Die ATKV besef maar te deeglik dat die media ook die afgelope 18 maande unieke uitdagings moes trotseer, en ons sal graag op hierdie manier wil dankie sê vir uitnemende joernalistiek in uitsonderlike tye," sê Brits.

Volledige besonderhede is hier beskikbaar. Inskrywings open op 15 Oktober 2021 en sluit op 31 Oktober 2021.

Skriftelike navrae kan gerig word aan Ilse Salzwedel (projekorganiseerder) by IlseS@atkv.org.za.