Skip to main content

Die ATKV het vanjaar die teatergrense verskuif met sy DigiToneelkompetisie deurdat die top-10-finaliste hulle buiging gemaak het in ons eie nuutvervaardigde realiteitsreeks vir Via, Gekies vir die Kollig, op DStv-kanaal 147.  

Honderde inskrywings, sewe mentorbeoordelaars, tien finaliste en een wat gekies is vir die kollig!

Die wenner van die ATKV-DigiToneelkompetisie is op 25 Oktober 2021 tydens die finale episode van Gekies vir die Kollig gekroon.

Elzaan Daniels (18) van die Hoërskool Jan van Riebeeck is gekies vir die kollig met haar eie nuutgeskrewe monoloog, My future is innie verliede.

Dr. André Gerber (mentorbeoordelaar) beskryf haar teks as verbysterend, eerlik en van die hart. Wilhelm van der Walt (mentorbeoordelaar) beskryf haar spel as dié van iemand wat haar lewe aan die lyn laat hang, en geloofwaardig omdat elke oomblik uit die hart kom.

Elzaan stap weg met ’n kontantprys van R5 000, die ATKV-DigiToneeltrofee en ’n jaar se lidmaatskap tot Novieguide se praktiese inleidingskursus tot film en spel vir die kamera.

Die naaswenner is Themelios Demas van die Hoërskool Tygerberg met sy monoloog, Dis mos wat pa’s doen. Tim se spel word deur Lea Vivier (mentorbeoordelaar) beskryf as aangrypend en rou wat ’n uitsonderlike kwaliteit van ’n akteur is. Themelios ontvang ’n kontantprys van R3 000 vir sy prestasie tydens die finaal.

Die wenner in die derde plek is Zara van der Westhuizen van die Hoër Meisieskool Bloemhof wat beoordelaars verstom het met haar nuut en selfgeskrewe monoloog, KOP. Zara ontvang R2 000 kontant vir haar podiumplek tydens vanjaar se ATKV-DigiToneelfinaal.

Die ATKV ontgin voortdurend nuwe skryftalent en het die beste nuutgeskrewe monoloë wat tieners self vir vanjaar se ATKV-DigiToneelkompetisie geskryf het in ’n bundel saamgevat. Die bekendstelling van hierdie bundel lewer bewys van ons jeug se aanpasbaarheid en ’n drang om nuwe karakters en stories te skep wat nooit sal opdroog nie. Dit is die tweede monoloogbundel wat die ATKV met trots publiseer nadat die ATKV-DigiToneelkompetisie verlede jaar vir die eerste keer aangebied is.

Die nuwe tekste wat 80% en meer tydens vanjaar se kompetisie behaal het, gaan deur hierdie bundel stories in die volksmond word wat vlerke kry en ook die eiendom van ander word.

Klik hier om die bundel gratis af te laai.

Dit was ’n onvergeetlike seisoen met groot passie en jong talent wat ontplof het op TV-skerms in ’n splinternuwe realiteitsreeks vir Via op DStv-kanaal 147. Die reeks, Gekies vir die Kollig, is op DStv Catch Up in ’n boksstel beskikbaar indien jy die regstreekse uitsending misgeloop het.

Kyk hier na die aankondiging van die wenners: