Skip to the content

Jannie du Toit toer saam met die ATKV

Jannie du Toit vier vanjaar sy 50ste jaar as sanger, en om hierdie mylpaal te vier, toer Jannie saam met die ATKV deur die Vrystaat en die Oos-Kaap.

“Jannie vier hierdie mylpaaljaar in ’n baie moeilike tyd, en daarom het dit sin gemaak om ’n legende soos hy gedurende sy feesjaar te ondersteun,” sê Gertjan Holtzhausen, streeksbestuurder van die ATKV.

Behalwe vir optredes in Zastron, Rouxville en Senekal word spesiale aandag aan inwoners van tehuise vir bejaardes geskenk. “Ons bejaardes is die ergste deur die pandemie getref. Meeste van hulle is ingeperk tot ouetehuise, en geliefdes is belet om hulle te besoek. Hulle lewens is onherroeplik tot stillstand geruk. Dit is skrikwekkend om te sien hoe hierdie realiteit die bejaardes se gemoedstoestand beïnvloed, en juis daarom het ons besluit om hulle te bederf met hierdie vertonings.”

Die intieme vertonings, waartydens Jannie alleen met net sy akoestiese kitaar optree, is van 13 tot 16 Oktober by verskeie tehuise vir bejaardes in Zastron, Burgersdorp en Bloemfontein aangebied.

Jannie sê dit was lekker om die bejaardes te vermaak.

“Ek het min of meer ’n idee van watter musiek en liedjies hulle hou, en hoop die vertonings het vir hulle iets besonders gebied.”

Hy het ook die ATKV bedank vir hulle ondersteuning. “Ek is baie dankbaar. Ek glo dat die Here vir my talent en geleenthede gegee het, en een van daardie geleenthede was dat die ATKV oor my pad gekom het.”