Nuwe leesprojek bemagtig kinders in die Noord-Kaap
Om met begrip te lees, is kardinaal vir ’n suksesvolle skoolloopbaan, maar baie kinders het ’n leesagterstand en kan nie met insig lees nie.
Die ATKV-tak Rooiduin het ’n nuwe leesprojek van stapel gestuur om kinders op grondslagfase met lees te help.
“Rinkink terwyl jy dink” is ’n leesprogram wat deur die onderwyseres, Leandré Steyn, ontwikkel is en sy het saam met die ATKV-tak Rooiduin gewerk om dié unieke program in 26 skole in die Noord-Kaap te implementeer.
“Daar is ’n groot behoefte vir ’n prettige leesprogram. Baie van ons kinders kan nie met begrip lees nie,” sê Marco van den Berg, streeksbestuurder.
Volgens hom, het hulle 70 onderwysers en vrywilligers in die Noord-Kaap opgelei om die leesprogram vir kinders aan te bied.
“Ons beoog om die program in 100 dorpe se skole te implementeer,” sê Marco.
Volgens Leandré is die program ’n prettige manier om die kleingoed van klanke te leer.
“Dit is ’n musikale leesprogram. Ons maak gebruik van musiek om kinders van klanke te leer. Klanke is die hoeksteen om met begrip te kan lees.”
Die program bevat ook leesboekies en werkboekies om die leerproses te vergemaklik.
Leandré sê sy het die program tydens die inperking ontwikkel.
“Ek het voorheen by ’n minderbevoorregte skool gewerk en ek het besef die kinders sukkel verskriklik om te lees en om klanke behoorlik te vorm. Toe die inperking tref, het ek skielik baie meer tyd op hande gehad en ek het toe besluit om die leesprogram te ontwikkel.”
Volgens haar het sy al baie goeie terugvoer ontvang.
“Die ouers en onderwysers wat die leesprogram gebruik sê dit help hulle geweldig baie in die klaskamer en by die huis. Die kinders geniet die program en kan elke keer nie wag vir die volgende les nie.”
Volgens haar, hoop sy die leesprogram sal kinders bemagtig.
“Dit is ’n unieke manier om klanke baas te raak. Ek hoop dat die program kinders aan die lees sal kry en vir hulle die nodige toerusting sal gee om ’n suksesvolle skoolloopbaan te hê.”
#weesdieverskil in jou omgewing en sluit nóú aan by ’n ATKV-tak.