Skip to the content

Om met klank te skep...

Dis tjoepstil in die klankateljee. Kleurbeelde flits in die skemerlig.

Die bekroonde klankontwerper Ben Oelsen kyk – sonder klank – na die Duitse rolprent Heidi. Dié gewilde Johanna Spyri-storie oor die gelyknamige rabbedoe van die Switserse Alpe word vir Suid-Afrikaanse gehore in Afrikaans oorgeklank.

Sonder klank word die beeld vir Ben as ’t ware ’n skoon doek. Hy bedink en skep klankbrokkies wat die groter klankprentjie aanvul.

“Wanneer al die onderskeie elemente uiteindelik geskep is, begin die finale mengproses om alles as een homogene produk te vermeng. Elemente bestaan uit die dialoog, stemmingsbane, effekte en musiek,” verduidelik Ben, wat al 36 jaar in die genre van klank die toon aangee.

Terwyl hy die raamwerk vir sy klankpalet skets, sit die vertaler eweneens in ’n skemer vertrek voor ’n monitor en redigeermasjien.

Die vertaling
Ons loer in by Kobus Geldenhuys, wat die afgelope 40 jaar reeds gehalte-vertalings lewer. Hy was ook vir Die Sneeukoningin se vertaling verantwoordelik.

“Oorklanking is die kuns van herskepping,” sê hy. “Die ‘prentjie’ is reeds daar. Jy kan nie die akteur op die doek se emosies verander nie. En jy kan nie, as vertaler, dit wat gesê word, herskryf nie. Jy moet dit wel speelbaar vir die oorklankingakteur maak.

Ervare stemkunstenaars kán ’n swak vertolking deur die oorspronklike akteur verbeter. Maar, wat op die skerm is, dikteer altyd wat herskep moet word.”Die vertaalproses is ’n eensame een en verg eindelose geduld. “Jy moet oor en oor na dieselfde sin of frase kyk – en soek na die beste, gemaklikste sinskonstruksie waarin die oorspronklike betekenis behoue bly,” sê Kobus.

“Jy mag nie dinge na willekeur verander nie. Die hele idee van oorklanking is dat die nuwe weergawe van die produk dieselfde gehalte, indien nie beter nie, as die oorspronklike moet wees.”
Animasie-vertaling het sy eie uitdagings. “Anders as menslike akteurs, hap-hap die bekkies van animasiekarakters soms net – soos in die oorspronklike Heidi-reeks.

In moderne animasiefilms pas die mondbewegings presies by die woorde en jy moet dit laat lyk of die karaktertjie werklik daardie woorde uitspreek.

As vertaler moet jy hierop let. Vir die nuwe Heidi-rolprent, waarin akteurs gebruik word, het ons uit Duits vertaal en moes ons die korrekte dialoog vind wat die oorspronklike weergee en ook op die mond pas. Daar word baie aandag gegee aan die oop- en toe klanke.

Boonop moet die Afrikaanse dialoog nog suiwer en natuurlik klink om die kyker boeiend by die verhaal te betrek.

Die stembetowering
In die opname-ateljee maak die aktrise Henriëtta Gryffenberg teksaantekeninge. Sy behartig die oorklankregie van Heidi, met ’n teksvertaling deur Marguerite Robinson.

“Oorklanking is méér as herskepping,” sê Henriëtta. “Dit is eerder nuutskepping. Dis ’n kuns op sy eie en verg, veral van die akteurs, ’n spesifieke vaardigheid en talent – ’n fyn balans tussen spel en emosie, tegniek, mondstand, artikulasie, asembeheer en stemprojeksie. Nie almal kan, veral onder tydsdruk, op hul voete dink nie.

“Onthou, die akteurs speel ‘koud’. Hulle kom een vir een ateljee toe. Ons speel vir hulle die toneel op die groot skerm en dan, daarna, moet hulle binne ’n ritmemeter die spraakbeurtmerkers – soos deur die sinchroniseerder gemeet en op die film gestempel – tref. Oorklankakteurs het nie die weelde van ’n rolprentstel, medespelers of geroesemoesklank om stemming te skep nie.

Hulle het ook nie voorafkennis van wat vorentoe in die fliek gaan gebeur of oor hoe die karakter gaan ontwikkel nie.

“Ateljeetyd is duur,” sê Henriëtta. “Daarom kry die akteur net een, of dalk twee takes. Dit verg ’n gesonde verwysingsraamwerk wat jy onder stresvolle omstandighede moet kan herroep. Die regisseur moet nie net ’n goeie oor hê nie, maar ook ’n goeie oog – om te kan hoorsien of die oorgeklankte weergawe met die oorspronklike beeldmateriaal sinchroniseer.”

Die klankmenger
Ben kry die klankpakket met al sy elemente waarmee hy ’n nuwe, finale klankbaan skep: die stemme; die effekte (soos voete wat skuifel, stap of hardloop; deure wat kraak en oop- en toegemaak word; koppies en eetgerei wat klingel); die stemmingsbane met goed soos stad-, veld- en bosgeluide, stormwind en stortreën; klanke wat selfs sonskyn of ’n reënboog “skep”; én die stemmingsmusiek.

Tot die grootte van vertrekke en of ’n toneel binne of buite afspeel, asook die perspektief deur die kamera – ver, tussenin of naby – word met klank geskep. “As jy dit als kan weergee, het jy ’n goeie produk,” sê Ben. “Die uitdagendste deel is om die eindproduk natuurlik te laat klink; sonder ’n enkele element wat jou aandag kan aftrek. Alles moet naatloos wees.

Klank is die mees onderskatte element in die meeste produksies. Swak klank kan ’n produksie kelder, want dit benadeel die oorkoepelende gevoel en trefkrag. Tegniese klank, sonder emosie en stemming, is leeg – en kykers ervaar dit. Goeie klank kan ’n produksie verbeter en soms selfs van mislukking red,” meen Ben.

Die vertaling, oorklanking en finale meng is voltooi. Die regisseur, klankontwerper en verspreider woon ’n vertoning van die rolprent by. Hulle bespreek klein verstellings, waarna die spesialis-klankmenger oorneem om die finale produk af te rond.
Die rolprent is gereed vir uitreiking.

Ure se kreatiwiteit in eensame, skemer kamertjies weerklink in 5.1-kringklank en laat die prente op die groot skerm uitbundig betekenis tydens ’n mediavertoning kry.

Die vooruitskouing
Die kundiges meen Suid-Afrikaanse kunstenaars, veral Afrikaanses destyds onder die bekwame leiding van die legendariese June Seymour, het van die beste oorklanking ter wêreld gedoen.

“Oorklanking was ’n ongelooflike bron van werk én opleiding vir akteurs, vertalers, klanktegnici en regisseurs,” sê Ben.

En die pad vorentoe?
“Ek is nou maar ’n meisie vir local,” sê Henriëtta. “Ons doen goed, veral in Afrikaans. Met die afskaffing van oorklanking het baie akteurs die bedryf verlaat. Myns insiens was dit goed, want dit het die talentvolste, beste en hongerste akteurs gehelp om daagliks aan hul ambag te slyp, terwyl hulle vir daai rol van ’n leeftyd gewag het – én, in tientalle, uiteindelik gekry het,” wys Henriëtta uit.

“Ek twyfel of Afrikaanse oorklanking ooit sal terugkeer. Ek vermoed ons sal in die toekoms eerder meer in ander Suid-Afrikaanse tale oorklank.”

Kobus sê prontuit: “Dit hang af in watter rigting die bedryf beweeg. Ons skep en waardeer op die oomblik ’n bloeitydperk in die Afrikaanse TV- en rolprentbedryf.

DEUR CHRISTIAAN J. DE SWARDT
ILLUSTRASIE: MIEKE VAN DER MERWE

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://atkv.org.za/taalgenoot