Onblusbare talent bekroon tydens ATKV-Tienertoneelfinaal
’n Swaargewig paneel beoordelaars moes behoorlik kopkrap om die wenners van die gesogte ATKV-Tienertoneelkompetisie aan te wys danksy dapper tieners wat met hul passie die verhoog aan die brand gespeel het.
Niemand anders nie as die Hoërskool Parel Vallei met Hansie Slim het daarin geslaag om die beoordelaars met hul puik spel te oorrompel en is as die nasionale wenner aangewys.
Die Hoërskool Bellville met ’n Onwaarskynlike reeks skynbaar onverwante oomblikke of Dinsdag het hulself net so goed van hul taak gekwyt en ’n tweede plek behaal.
Hoërskool Jan van Riebeeck met Om teen treine te skree is as die derdeplekwenner aangewys.
Dié gesogte finaal het plaasgevind vanaf 6 tot 9 Oktober by Artscape in Kaaptstad, wat ook vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier. Die beste jong toneeltalent is tydens ’n spogprysuitdeling op 9 Oktober aangewys. Bernice West, ook ’n produk van ATKV-Tienertoneel, het die vermaak verskaf.
Die beoordelaars Jacques Bessenger, Amalia Uys, Marlo Minnaar, dr. André Gerber, Zenobia Kloppers en Wilhelm van der Walt was dit eens dat die Top 10-produksies kreatiewe baanbrekerswerk is en die toekoms van die teater met sulke talent en innovasie is gesond.
Meer as 1500 passievolle tieners van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem en die Top 10-produksies is na die nasionale finaal genooi wat die Top 2-produksies insluit wat in die slegs-leerderskategorie meeding. In dié unieke kategorie is slegs leerders betrokke by al die aspekte van teatermaak.
Die beste slegs-leerdersproduksie tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal 2021 is die Hoërskool Eldoraigne met Dubbelsinnig!.
Hier volg ’n volledige lys van wenners tydens ATKV-Tienertoneel se nasionale finaal 2021:
Die beste verhoogbestuurder is: Jalena Jerling van die Hoërskool Parel Vallei met Dors.
Die beste klankoperateur is: Rickus Lombard van die Kuswag skool met Thomas vermoor: Die toneelstuk.
Die beste beligtingsoperateur is: Leandre Strydom van die Hoërskool Eldorainge met Dubbelsinnig!.
Die beste hantering van tegniese aspekte is: Hoërskool Parel Vallei met die produksie Hansie Slim.
Die mees belowende spel in ’n rol behoort aan: Elzaan Daniels as Mercy in Om teen treine te skree van die Hoërskool Jan van Riebeeck.
Die beste akteur in ’n ondersteunende rol is: Darren Cloete as David in die produksie Om teen treine te skree van die Hoërskool Jan van Riebeeck.
Die beste aktrise in ’n ondersteunende rol is: Lucy Groenewald as Mariki in die produksie Vierdoop van Eunice High School.
Die beste akteur in ’n hoofrol is: Jurie Boshoff as George in die produksie Jy.Vrou van die Hoërskool Hugenote Springs.
Die beste aktrise in ’n hoofrol is: Alma van Heerden as Ass in die produksie Thomas vermoor: Die toneelstuk van die Kuswag skool.
Die beoordelaarstoekenning is vanjaar toegeken aan ’n individu wat veelsydigheid van teaterelemente getoon het in die vorm van spel, dans, sang, musiekregie en choregorafie. Die beoordelaarstoekenning is toegeken aan: June Kruger van die Hoërskool Parel Vallei met haar veelsydige prestasie in die produksies Dors en Hansie Slim.
Die beste ensemblewerk is toegeken aan: Hoërskool Parel Vallei met die produksie Hansie Slim.
Die beste regisseur is: Wikus Zerwick van die Hoërskool Bellville met ’n Onwaarskynlike reeks skynbaar onverwante oomblikke of Dinsdag.
Die beste media-en-bemarkingsportefeulje tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie vir 2021 wat ook ‘n kontantprys van R5 000 ontvang behoort aan: Hoërskool Parel Vallei vir uitnemende en volgehoue bemarking van die produksies Hansie Slim, DORS en Verkleurmannetjie.
Die Beste slegs-leerdersproduksie tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal 2021 wat ook ‘n kontantprys van R10 000 ontvang is: Hoërskool Eldoraigne met Dubbelsinnig!.
Die Top 3-produksies ontvang benewens ’n kontantprys ook ’n speelvak tydens die Suidoosterfees in 2022.
Die derdeplekwenner wat ook met ’n kontantprys van R10 000 wegstap is: Hoërskool Jan van Riebeeck met Om teen treine te skree.
Die naaswenner wat ’n kontantprys van R20 000 wen, is: Hoërskool Bellville met ’n Onwaarskynlike reeks skynbaar onverwante oomblikke of Dinsdag.
Die beste produksie en wenner van R30 000, asook die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee, is: Hoërskool Parel Vallei met Hansie Slim.
Foto’s is geneem deur Nardus Engelbrecht.