Dramawerkswinkels in NK vuur leerders se kreatiwiteit aan
Ná die sukses van die ATKV-takke en Reckless Haven Produksies se dramawerkswinkels in die Oos-Kaap, het aspirantteatergeselskappe in die Noord-Kaap ook nou die geleentheid gekry om die nodige kennis en gereedskap te ontvang om hulle drome na te streef.
“Die doel is om eenvoudig net weer kreatiwiteit by leerders te prikkel en om hulle te help om verby die spreekwoordelike masker te kyk en die horison daar ver raak te sien. Solank ons hoopvol en kreatief kan bly, sal ons voluit kan leef,” sê Gertjan Holtzhausen, streeksbestuurder by die ATKV.
Die dramawerkswinkels is in Mei by verskeie skole in die Oos-Kaap aangebied en volgens Gertjan was dit ’n reuse-sukses.
“Die leerders se terugvoer was oorweldigend positief en hulle het telkens gevra wanneer kan die dramawerkswinkels weer na hulle skool toe kom. Juis om hierdie rede kon ons nie die impak van hierdie projek ignoreer nie en daarom het ek gepoog om dit na nog meer dorpe en takke te neem.”
Die dramawerkswinkels is van 30 Augustus tot 3 September by die Hoërskool De Aar, Jacobsdal Landbouskool, Hoërskool Douglas, Hoërskool Prieska en Laerskool Carnarvon aangebied.
“Die vennootskap met die ATKV gee vir ons ’n ongelooflike geleentheid om die werkswinkels met die land te kan deel, veral met areas wat nie normaalweg die blootstelling en geleentheid kry nie,” sê Danielle Retief van Reckless Haven Produksies.
Die werkswinkels behels ’n reeks improvisasie-tegnieke, dialoog- en monoloogwerk, asook basiese beginsels van toneeelwerk.
“Leerders kry die kans om teenoor mekaar, asook tenoor professionele akteurs te speel.
“Daarna werk ons ook met die tegniese aspekte van die bedryf, insluitend kamerawerk, klank, beligting, en meer,” sê Retief. Die reeks werkswinkels is ontwikkel deur Karin Retief en word op die pad gevat deur Danielle Retief en Rowlen von Gericke.
Gertjan sê dié werkwinkels bied ontvlugting en normaliteit in ’n onsekere tyd.
“Dit het gevoel asof hierdie werkswinkels nie net die betrokke takke se primêre behoefte – om dramavaardighede te verkry – aanspreek nie, maar ook ’n onbewustelike behoefte wat weens die Covid-pandemie deel van ons lewens geword het.
“Hierdie onbewustelike behoefte is om net ‘weer mens te wees’ en om ‘normale’ geleenthede by te woon waar mense sosiaal saam kan leer en vaardighede kan opskerp.
“Hoewel daar altyd by die Covid-protokol gehou word, slaag hierdie werkswinkels daarin om tog iets van die pre-Covid-dae aan die leerders te bied.”