Skip to main content

In Despatch is daar nou sowat 60 kinders wat die komende winter nie kaalvoet hoef skool toe te gaan nie nadat die ATKV-tak Sonneblom skoolskoene aan ’n plaaslike jeugsentrum geskenk het.

“Ons wil as tak help waar ons kan. Dit is belangrik dat elke kind in ons gemeenskap met waardigheid skool toe kan gaan,” sê Anette Becker, voormalige takvoorsitter.

Volgens Anette het hul verhouding met die Nkandla-jeugsentrum in die informele nedersetting Joe Slovo begin die dag toe al die verkeersligte in ’n besige straat in Despatch buite werking was.

“Een van ons lede het die oggend in die straat gery. Dit was chaos, maar daar was hierdie man wat uit sy eie besluit het om puntsman te wees en die verkeer te reguleer.”

Die lid het die man genader en hy het gesê sy naam is Jabu Dube.

“Hy het uit sy eie en sonder om enigiets terug te verwag almal se dag vir hulle makliker gemaak. Ons het toe uitgevind hy is die bestuurder van die Nkandla-jeugsentrum en ons het besluit om vir hulle skoene, kos en lekkernye in te samel en te skenk.”

Die tak het groot donasies uit die gemeenskap ontvang en die plaaslike Spar het ook skenkings gemaak.

“Dit was ’n reuse-sukses en ons kon 60 pare skoolskoene en kospakkies aan Jabu en sy sentrum skenk.”

Die sentrum is ’n veilige hawe vir die kinders van Joe Slovo wat moet saamleef met alkoholisme en dwelmmisbruik. Die kinders kry ook twee keer ’n dag maaltye by die sentrum.

Volgens Anette het die tak verdere planne om die jeugsentrum en die kinders te help.

“Daar is baie van hulle wat Afrikaans praat en die sentrum het ’n pragtige biblioteek. Ons gaan die biblioteek aanvul met Afrikaanse boeke vir die kinders.

“Hulle het ook ’n groentetuin en ons het met Seed2Harvest gereël om vir hulle pakkies met sade te skenk.”

Die tak wil ook die speelparkie by die sentrum opknap.

“Die parkie is gehawend en ons wil dit graag verbeter sodat die kinders daar kan speel en nie in die strate wees nie.

“Dit is ons almal se taak om seker te maak dat elke kind se maag vol is en dat hulle ’n goeie opvoeding kry,” sê Carol.

Klik hier as jy betrokke wil raak of by ’n ATKV-tak wil aansluit.