ATKV vereer onnie wat drie dekades in Afrikaans woeker
Vir die afgelope 30 jaar het Thabang Leepile (58) leerders gebrei en gevorm. Sedertdien is baie van hulle al ouers en werkendes, maar hulle almal het een ding gemeen – hulle kan Afrikaans praat, lees en skryf.
Thabang, ’n Afrikaans-onderwyser by die EE Monese Hoërskool in Senekal, tree einde Februarie af en die ATKV-tak Senekal het besluit om hom te vereer vir sy groot bydrae tot die taal en onderrig.
“Hy het met groot ywer skoolgegee en het ’n groot passie en liefde vir Afrikaans. Daarom het ons besluit dat die drie dekades waarin hy kinders in Afrikaans geleer het, nie ongesiens verby mag gaan nie,” sê Linda Brink, takvoorsitter.
Die tak het op 11 Januarie aan hom ’n geskenkpak met boeke oorhandig.
Thabang het in 2003 begin skoolgee vir graad 10 tot 12 in Afrikaans en het gou ook ’n hoofeksaminator geword.
“Dit is regtig vir my lekker om raakgesien te word, al doen ek dit vir die liefde van Afrikaans en skoolgee,” sê Thabang.
Oor sy 30 jaar as onderwyser kan Thabang nie ’n enkele herinnering uitsonder nie.
“Dit was altyd vir my lekker om skool te gee. Dit is belangrik dat kinders Afrikaans leer praat. Kommunikasie is baie belangrik en as jy ’n taal soos Afrikaans magtig is, kry jy makliker werk en kan jy met soveel meer mense kommunikeer.”
Hy sê die ATKV speel ’n onmisbare rol in die bevordering van Afrikaans.
“Die organisasie het wonderlike projekte.”
Hy is nie seker wat hy gaan doen as hy aftree nie.
“Ek gaan myself maar besig hou. Ek hoop net ek word nie verveeld nie!”
Elaine Hefer, ’n kollega van Thabang, het in 2003 saam met hom begin skoolgee.
“Hy is ’n ongelooflike, deeglike en verantwoordelike onderwyser. Hy het baie goeie menseverhoudings gekweek en die kinders was baie lief vir hom.”