Skip to main content

Jodi Jantjies het haar hele lewe lank gesukkel met ’n spraakprobleem. Sy het gehakkel en oor haar woorde geval. Woorde was haar grootste vrees. Maar toe kom die magiese krag van musiek en gee aan haar die selfvertroue om die wêreld weer waterpas in die oë te kyk.

Dié ATKV-Crescendo-finalis het nou haar debuutalbum, Woorde, uitgereik.

“Ek het die album Woorde genoem omdat woorde die ding was wat my bang gemaak het omdat ek gehakkel het,” sê die boorling van Mitchells Plain.

Jodi was een van die finaliste in 2016 se Crescendo-kompetisie.

Sy sê as dit nie vir die ATKV was nie, sou sy nooit ’n sangloopbaan gehad het nie.

“Hulle het in my en my talent geglo. Hulle het in my as 16-jarige belê. Hulle het vir my ’n platform gegee waarop ek my drome kon uitleef.”

Haar eerste enkelsnit, “Gee my woorde”, is saam met die Sama-bekroonde Karen Zoid opgeneem en is baie goed ontvang. Die video is al meer as 21 000 keer op YouTube gekyk.

“Dit was ongelooflik om saam met ’n talentvolle en ervare kunstenaar soos Karen te werk. Ek het baie by haar geleer.

“Die liedjie ‘Gee my woorde’ is my gunstelingsnit op die album. Die song gaan oor my hakkel en hoe ek dit oorkom het. Om so iets saam met iemand te sing wat ek al vir so lank bewonder, was amazing.”

Volgens Jodi is daar iets van alles op haar album.

“Die album is ’n mengelmoes van genres. Dit bevat elemente wat my as mens opsom en definieer. Daar is gospel wat my geestelike agtergrond beklemtoon en ’n ghoemasnit om my identiteit as ’n bruin vrou te vier. Daar is selfs ’n sokkienommer.”

Woorde is ingeskryf vir die 2022 Sama-toekennings.

Daar is ’n beperkte aantal van Jodi se album beskikbaar, maar as jy nou bestel kry jy nie net ’n roerende album nie, maar ook ’n heerlike bottel wyn om daarmee saam te geniet.

Die pakkie sluit in Woorde, ’n bottel The Grinder pinotage, ’n DVD van een van Jodi se lewendige optredes en elke persoon kry ook ’n persoonlike boodskap van haar.

Die versamelstuk kos R500 en daar is slegs 50 beskikbaar.

Plaas jou bestelling deur ’n e-pos aan crescendo01@atkv.org.za te stuur.