Skip to main content

Afrikaans vir Almal is die ATKV se projek in Soweto wat ten doel het om Afrikaans as vriendelike taal te bemark deur die aanbied van Afrikaansklasse op Saterdagoggende en sommige weeksmiddae aan kinders van die omgewing. Die projek, wat eers as Afrikaans in Soweto bekendgestaan het, bars die afgelope jaar uit sy nate en Suzie Matlhola, projekbestuurder, sê hulle moes dringend alternatiewe klasspasie kry. Herman Brauer, eienaar van African Power Cement, het van Suzie se behoefte te hore gekom en ’n skeepsvraghouer geskenk wat in ’n klaskamer omgeskep is. “Nou is daar meer as genoeg plek en ons kan rustig met klasse voortgaan,” sê Suzie. Ongeveer 20 leerders kan gemaklik in so ’n vraghouer-klas sit.

Suzie is die afgelope 33 jaar al by die ATKV betrokke. Dit is juis dié feit wat kinders na haar laat begin stroom het om hulle met hul Afrikaanshuiswerk te help. Vandag help sy en haar span tientalle kinders van verskillende skole in Protea Glen, Soweto, om Afrikaans baas te raak. Die klasse word op ’n prettige manier aangebied deur dans, musiek en drama en voel dus nie soos “leer” nie. “Ons skryf nie toetse en eksamens nie, maar vra gewoonlik vir die kinders se skoolrapporte om vordering dop te hou,” sê Suzie.

Sy vertel die rede waarom hulle soveel sukses het, is omdat hulle elke kind evalueer om te bepaal op watter vlak die kind werklik is. “Ons kyk na die werklike vermoë van elke kind. Sommige kinders is al in graad 3, maar kan nie lees nie, of het nie ’n begrip van klanke en skryf nie. Ons begin met elke kind op die vlak waar hy is, al is dit nie die vlak waarop hy by die skool is nie,” sê sy. Volgens Suzie is die werklike uitdaging wanneer ’n kind eers op hoërskool begin Afrikaans neem.

Suzie sê hulle het deurlopend behoefte aan skryfbehoeftes. Enigiemand wat graag betrokke wil raak, kan haar kontak by suziem@atkv.org.za.